ʼn Regstrategie vir behoud van Afrikaans op universiteite

cerneels-lourens-2017-02-27

Cerneels Lourens, prokureur en taalregte aktivis, was een van die sprekers by die blitskonferensie oor die behoud van Afrikaans op universiteite en die regaksies daarvoor. Foto: AfriForum/Twitter.

AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit se regsaksies teen die Universiteite van die Vrystaat, Pretoria en Unisa is net een van die maniere waarop die regte van Afrikaans beskerm kan word. Dit is ook ʼn poging om die taalregte van minderheidsgroepe in Suid-Afrika te bewaar.

Die organisasies het vanoggend ʼn blitskonferensie by die private tersiêre instelling, Akademia, in Centurion, Pretoria, aangebied waar hulle terugvoer gegee het oor die regsaksies teen Kovsies, Tukkies en Unisa se taalbeleide. Afrikaans as onderrigmedium op hoëronderwysvlak by die universiteite is verlede jaar ingrypend afgeskaal. Die hofprosesse duur voort.

Volgens Werner Human, prokureur van Hurter Spies, sal die appèlhof uitspraak in die Kovsies-saak binne die volgende maand gelewer word en indien die appèl nie slaag nie, wil AfriForum die stryd vir die behoud van Afrikaans by die universiteit tot in die grondwetlike hof voer.

“Ons het ʼn ongunstige uitspraak in ons saak teen die UP se taalbeleid gekry, maar die appèl word op 10 Maart aangehoor. AfriForum kon nie daarin slaag om die implementering van Unisa se taalbeleid met ʼn hofinterdik te keer nie, maar die meriete, asook die grondwetlikheid van die nuwe taalbeleid, sal nog vanjaar in die hof aangehoor word,” het Human gesê.

Volgens die sprekers by vanoggend se konferensie, heers daar tans ʼn sterk anti-Afrikaanse sentiment by die universiteite, wat op ʼn spits gedryf is deur die #FeesMustFall-veldtog. Hulle meen die stellings ter stawing van die afskaffing van Afrikaans by die universiteit hou nie steek nie en dat dit dikwels die deure sluit om enige van die ander Afrika-tale verder te ontwikkel.

“Afrikaans as onderrigmedium op drie van die vyf kampusse, wat die taal aangebied het, is binne drie maande ingrypend afgeskaal, nadat ons vorige gesprekke met verskeie rolspelers by die universiteite bevestig het dat hulle Afrikaans as ʼn bate vir hul universiteite beskou. Dit was nie ʼn natuurlike uitvloeisels van iets soos globalisasie, soos wat dikwels aangevoer word nie,” het Alana Bailey, taalaktivis en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys, meen taaldiversiteit is deel van ʼn langtermyngeveg wat gevoer sal moet word om te verseker dat minderhede steeds tuis kan voel in Suid-Afrika. “Hierdie geveg word dikwels op die agtergrond gevoer, terwyl ons fokus op die bekamping van staatskaping en korrupsie, wat aan die orde van die dag is,” het Eloff gesê.

Eloff reken die regering se ondersteuning van meertaligheid is bloot lippediens. “Daar is nie ʼn politieke wil om dit deur voer nie. Ek dink die ANC is bang vir etniese versplintering en a-kulturalisasie is deel van die ANC se beleidsdokumente. Verder beskou baie Suid-Afrikaners en sommige Afrikaners steeds Engels as ʼn wêreldtaal wat deure vir jou oopmaak.”

Hy sê hy het in sy tyd as vise-kanselier van die Noordwes-Universiteit geen direkte druk van die departement van hoër onderwys gekry om die universiteit te verengels nie, maar hy reken universiteite kry tog sterk indirekte druk om dit wel te doen.

“Ons gaan die stryd vir Afrikaans op verskeie terreine moet voer. Ons sal wit en bruin Afrikaanssprekendes, asook die sowat 600 000 swart Afrikaanses, van binne moet oortuig dat hulle die reg het om Afrikaans te praat. Ons moet hulle oortuig dat Afrikaans nie net ʼn taal vir die kombuis is nie, maar dat dit ook die taal is wat in skole en universiteite gebruik moet word. Ons sal hulle moet bemagtig om hierdie taalregte op te neem en aanspraak daarop te maak.”

Eloff het gesê dit is ook belangrik dat die taalgemeenskap moet uitreik na ander Afrika-tale om hulle te help om die tale te ontwikkel. “Dit is nie ʼn maklike opdrag nie. By die NWU het ons verskeie kere probeer om Tswana te ontwikkel, maar daar was net nie belangstelling nie. Tog dink ek nie ons moet ophou om dit te doen nie.”

Hy meen hofsake is deel van strategie om universiteite vas te vat wat inbreuk maak op die regte van Afrikaans. “My persoonlike mening is ongelukkig dat Afrikaans as onderrigmedium net vir die volgende twee tot agt jaar nog in openbare universiteite aangebied sal word. Dit beteken ʼn private tersiêre instelling, soos Akademia, is op die regte pad.”

Dit laat die vraag ontstaan of die regsaksies ter behoud van Afrikaans op tersiêre instellings enigsins nuttig is.

Bailey meen die hofstryd rondom Afrikaans op universiteite is ook ʼn stryd om geloofwaardigheid. “Die indruk word geskep dat jong Afrikaanse mense eintlik in Engels wil studeer en dat daar nie meer jong mense is wat sterk voel oor die taal nie. Hierdie soort veralgemenings kan die ontwikkeling van ʼn instelling, soos Akademia, sektaries laat lyk. Nou kan ons bewys studente en akademici voel steeds sterk oor Afrikaans en ons kan alternatiewe bied vir hul regte om in Afrikaans te studeer en te werk.”

Johan Kruger, adjunk-hoofsekretaris van Solidariteit, meen die hofstryd is ook ʼn manier om boek te hou van wat in die land met die taal en taalregte gebeur. Boonop meen hy dit het ook ontblotingswaarde.

Cerneels Lourens, prokureur en taalregte aktivis, meen hofsake het ook ʼn rem-effek, wat ruimte skep vir instellings soos Akademia om te ontwikkel. “Ons is geregtig op diens in Afrikaans, wat universiteite insluit. Afrikaanssprekendes se staatsgeld word hiervoor aangewend, daarom moet ons ook steeds veg vir die behoud van Afrikaans by openbare universiteite.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

JC ·

Dankie julle, julle is werklik bevonk!! A-kulturalisasie se voet! Staan op Afrikaanses! Verblydend om te sien ons mede Afrikaanse bruin broeders en susters word ook betrek! Ek dink Akademia (en ek dink hul besef dit ook, wat verblydend is) moet in groot mate bele in die Khoikhoi, Griekwa en Nama gemeenskappe om ook hul unieke afrikaanse kulturele idiosinkratiese insette en kennis in te bind aangesien hulle die meeste agterwee gelaat is wat betref tersiere studie geleenthede, geleenthede oor die algemeen op universiteit en akkommodasie, en so sal hulle, ons mede Afrikaanse broers en susters, en ons taal nuwe lewe kry, floreer en die ouens se spesifieke en idiosinkratiese Afrikaans- eie en spesifieke insette, stukrag, herlewing en legitimiteit verskaf aan hul kulturele oorlewingstryd en plek in SA maar ook aan Afrikaners se stryd. Lank lewe die Afrikaanses, verenig in ons gemeenskaplike taal en kultuur erfenis, gebind deur ons gedeelde geskiedenis as Afrikaanse kinders van Afrika. Eenheid deur en in Afrikaans in al sy fasette en diversiteit. Eendrag maak mag!

Yster74 ·

Bou asb ons eie universiteite.
Opleidingsentrums.
Laat die res aangaan met hul engels.

Lou ·

Ek is ‘n oud-kovsie en skaam my deesdae vir my alma-mater. In die proses om sg “polities korrek” te wees, vervreem hulle die afrikaner. Dis verblydend om te sien dat baie welaf individue geldelike hulp aan Kovsies,Tuks en Maties gestaak het. Laat hulle nou maar self sien kom klaar. Hulle het ons mos nie nodig nie. Akademia en Soltek en dies meer is maar my kinders se voorland eendag……..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.