ʼn Wêreldbeker-struikelblok uit Proteas se pad

Die Proteas het Nederland oortuigend op die Wanderers geklop. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Aiden Markram was saam met David Miller en Sisanda Magala die sterre in die Proteas se oortuigende oorwinning van 146 lopies teen Nederland op die Wanderers.

Markram het sy eerste internasionale eendagkriekethonderdtal aangeteken en hy is uiteindelik vir 175 lopies uitgehaal. Hy het ʼn flinke vennootskap van 199 lopies om die vyfde paaltjie met Miller (91 lopies) gedeel om toe te sien dat Suid-Afrika 370/8 in sy toegelate 50 boulbeurte kon aanteken.

Hoewel Musa Ahmed en Max O’Dowd daarna die Protea-boulers frustreer het, het Sisanda Magala (5/43) die wind uit die besoekers se seile gehaal.

Nederland het sy laaste ses paaltjies vir slegs 31 lopies verloor en Suid-Afrika het die wedstryd met 146 lopies gewen.

Die reeksoorwinning beteken ook dat die Proteas nou die agtste plek op die Superliga-punteleer beklee en hul pad na die Wêreldbeker-toernooi in Indië lyk aansienlik makliker.

Daar moet nou net duimvasgehou word dat Bangladesj ordentlik met Ierland in Mei sal klaarspeel.

“Ons het presies gedoen wat ons moes om ligapunte bymekaar te maak om vir die Wêreldbeker-toernooi te kwalifiseer. Ons sal moet sien wat die toekoms vir ons inhou, maar ek is positief oor ons kolf- en boulwerk,” het Temba Bavuma (kaptein) gesê.

Markram is as die speler van die wedstryd sowel as die reeks aangewys.

“Dit is ʼn kolwer se hoofdoelwit om lopies aan te teken en ʼn goeie telling op die telbord te kry. Ek is dankbaar vir die wyse waarop alles uitgedraai het en ek glo dat die span op die regte koers is; in rooi- en in witbalkrieket,” het Markram gesê.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 370/8 in 50 boulbeurte: Aiden Markram 175, David Miller 91 en Fred Klaassen 2/43.

Nederland 224/10 in 39,1 boulbeurte: Musa Ahmed 61, Max O’Dowd 47 en Sisanda Magala 5/43.

  • Superliga-punteleer:
  1. Nieu-Seeland: 175 punte
  2. Engeland: 155 punte
  3. Indië: 139 punte
  4. Bangladesj: 130 punte
  5. Pakistan: 130 punte
  6. Australië: 120 punte
  7. Afghanistan: 115 punte
  8. Suid-Afrika: 98 punte
  9. Wes-Indiese Eilande: 88 punte
  10. Sri Lanka: 81 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

NWT ·

Ek wil graag weet hoe die puntenstelsel. Ierland le tans op 35 punte. As hulle vir Bangladesh 3-0 verslaan in die OD reeks in Mei dan steek hul vir SA Verny. Die proteas het dan net 20 punte verdien in die reeks teen Nederland. Ierland kan amper 65 punte verdien indien hulle die reeks teen Bangladesh 3-0 een. Iemand help my dit verstaan asb.

George ·

Ons het tuis gespeel teen n nie-toets spelende land nie, dws, baie swakker. Ierland (wat nie officially n toets spelende land is nie) speel weg teen n toetspelende land, dus baie moeiliker, en verdien meer punte.

George ·

6 jaar later en Markram perform teen die “mighty Netherlands”

Aggie ·

Nederland is een van die swakste krieketspelende lande in die wêreld. Ek het net die vrese dat die Proteas dink hulle is nou weer OK. Daarby sit ons met spelers wat glad nie in vorm is nie. Ngidi en Shamsi moet nie eens oorweeg word nie. Parnell is ook ‘n waagstuk. Rabada was eens ons beste bouler toe hy nog streepballe kon boul. Nou boul hy net kortballe waarmee hy baie lopies afstaan. Die nuwe afrigter moet hom dringend weer streepballe leer boul, anders is hy ook ‘n vyfde wiel aan die wa. De Kock moet leer om geduldig te wees en nie elke bal uit die stadion te probeer slaan nie. Van Jansen weet ek ook nie so lekker nie. Die enigste twee kolwers wat regtig uitstaan is Markhram en Miller en Bavuma so effentjies. En daarby boul Markhram strate beter as Shamsi. Magala kom ook nou sterk deur. Van der Dussen lyk ook deesdae onseker voor die paaltjies. Nou moet ek eers stop anders skryf ek my in die verdrietigheid in. Sela.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.