N3 weer oopgestel vir verkeer

Die N3-Suid is Vrydagmiddag weer vir verkeer oopgestel ná die ongeluk (Foto: TrafficSA, Twitter)

ʼn Deel van die N3-Suid na Durban is teen Vrydagmiddag weer vir verkeer oopgestel. Dit nadat dit vir langer as 12 uur gesluit was nadat ʼn moontlik skadelike stof vir mense op die pad uitgemors het ná ʼn noodlottige ongeluk.

Volgens Anita Heyl, woordvoerder van die N3-tolkonsessie, is opruimwerk omstreeks 16:45 op die ongelukstoneel by die Peter Brown-rylaan voltooi.

“Die N3-Suid is vir verkeer heropen, maar daar is uitgebreide verkeersopeenhopings op die snelweg,” sê Heyl.

Maroela Media het vroeër berig twee vragmotors, ʼn minibustaxi en ʼn motor was om 17:00 Donderdag by die ongeluk betrokke.

Een van die vragmotorbestuurders het op die toneel aan sy beserings beswyk, terwyl twee ander motoriste matige beserings opgedoen het en na ʼn hospitaal geneem is.

Die oorledene se vragmotor is glo van Zambië afkomstig en het kobaltpoeier vervoer.

Kenners was op die toneel om die opruimingswerk te fasiliteer. Volgens die kenners is dit nie veilig vir motoriste om die stof in te asem nie.

Blootstelling aan kobaltpoeier kan mense se vel, oë, neus en keel irriteer. Op lang termyn kan dit ook asmasimptome veroorsaak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.