N3 gesluit ná skadelike stof mors

Die ongeluk het Donderdag plaasgevind. (Foto: Mi7 National Group/Facebook)

ʼn Deel van die N3-Suid na Durban is al langer as 12 uur gesluit nadat ʼn moontlike skadelike stof vir mense op die pad uitgemors het ná ʼn noodlottige ongeluk.

Motoriste was teen Vrydag 10:00 steeds op die N3 naby die Peter Brown-rylaan vasgekeer, terwyl spanne die stof probeer opruim.

Zinhle Mngomezulu, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse Padverkeersinspektoraat, het aan Maroela Media bevestig dat twee vragmotors, ʼn minibustaxi en ʼn motor om 17:00 Donderdag by die ongeluk betrokke was.

Een van die vragmotorbestuurders het op die toneel aan sy beserings beswyk, terwyl twee ander motoriste matige beserings opgedoen het en na ʼn hospitaal geneem is.

Die oorledene se vragmotor is glo van Zambië afkomstig en het kobaltpoeier vervoer.

“Die pad is steeds gesluit weens die gevaarlike storting in die gebied,” het Mngomezulu gesê.

“Kenners is tans op die toneel om die opruimingswerk te fasiliteer. Volgens die kenners is dit nie veilig vir motoriste om die stof in te asem nie.”

Blootstelling aan kobaltpoeier kan mense se vel, oë, neus en keel irriteer. Op lang termyn kan dit ook asmasimptome veroorsaak.

Mngomezulu het motoriste in die omgewing gemaan dat die opruimingswerk nog lank kan duur en dat diegene wat na Durban moet reis, liefs alternatiewe roetes moet gebruik.

“Ons is in die proses om verversings aan motoriste te gee wat sedert die ongeluk op die N3 vasgekeer is.”

Vragmotorbestuurders wat angstig wag vir hierdie roete om oopgestel te word, het foto’s van die verkeersknoop op sosiale media gedeel. Nog ʼn sosialemediagebruiker het ʼn video gedeel waar hy in die teenoorgestelde rigting van die verkeersknoop ry. Rye vragmotors wat skynbaar kilometers ver strek, kan in die video gesien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.