Ná 14 jaar is Ilse Klink steeds pure “Dancing Queen”

Ilse Klink. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Ilse Klink, Kate Normington en Gina Shmukler het 14 jaar gelede die eerste keer kennis gemaak met Mamma Mia! en die ikoniese Donna en haar Dynamos. Vandag staan hulle weer dié rolle vol – dié keer met ʼn titseltjie meer lewenservaring en wavragte vol vriendskap.

Dié produksie het die afgelope paar weke by die Kunstekaap in Kaapstad gekuier en het Vrydag 12 April met die speelvlak in Johannesburg begin, wat tot en met Junie sal voortduur. Ilse vertolk die rol van Rosie, terwyl Gina weer Donna se skoene volstaan en Kate die eksentrieke Tanya is.

Ander bekende gesigte in die rolverdeling sluit Tiaan Rautenbach (Bill Austin), Matt Newman (Harry Bright), Emmanuel Castis (Sam Charmichael) en Kiruna-Lind Devar (Sophie).

Alhoewel Suid-Afrikaners sukkel om die vorige keer te vergeet wat Mamma Mia! op tuisbodem gekuier het, glo Ilse dat dié produksie oor ʼn heel ander geur en kleur as die een van 2010 beskik.

“Dit bly dieselfde teks en musiek, maar dit is anders interpreteer,” het Ilse aan Maroela Media vertel. “Dit is steeds Mamma Mia!, maar die optrede, kostuums en stel is anders.

“Janice Honeyman is die regisseur van die produksie, en wat sy reggekry het, is om die produksie meer eg te maak. Soms kan musiekteater bietjie aangeplak wees; jy sê bloot woorde om by die liedjies uit te kom. Janice het die dialoog net so belangrik soos die liedjies gemaak.”

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Wat veral vir Ilse uitstaan, is die verhoogvriendskappe wat tussen die akteurs gevorm het. Sy loop nou al ʼn 14 jaar lange pad saam met Kate en Gina, en dit was vir haar heerlik om die vriendskapleisels te kon optel asof daar geen tyd tussen die twee produksies verloop het nie.

Sy bewonder ook die res van die akteurs wat in hierdie tydperk ʼn “sinergie” ontwikkel het.

“Almal wat aan hierdie produksie werk is oop, vriendelik en vrygewig met hul werk. Dit is ʼn wonderlike groep mense om mee saam te werk.

“As aktrise kry mens nie altyd die geleentheid om jou liefde vir toneelspel, sing en dans te kombineer nie. Ek is dalk nie so ʼn talentvolle danser nie, maar ek is gek oor al die goed wat ʼn musiekblyspel omarm.”

Ilse is geen vreemdeling vir die teater nie, trouens, in haar loopbaan het sy dikwels in teaterproduksies verskyn. Dié produksies sluit onder meer Chicago, Rent en Fiddler on the Roof in. Sy glo in haar veelsydigheid en dat sy geleenthede moet aangryp, hetsy dit radiowerk, reekse, flieks, teater- of musiekteaterwerk is.

Sy is veral bekend vir haar werk in Nêrens, Noord-Kaap, Frankie & Felipé, Stroomop, Dis ek, Anna, Spoorloos, Binnelanders, Isidingo en Reyka – om net ʼn paar te noem.

Hou nou, Afrikaans?

Sy het in ʼn Engelse huis grootgeword, en al het haar ma Afrikaans met haar gepraat, het sy nooit daarin belanggestel om in Afrikaans te gaan studeer nie.

“Toe kry ek nie plek by die Universiteit van Kaapstad nie, maar wel by die Universiteit van Pretoria.

“Niks is egter ooit ʼn mors van tyd nie. Jy dink dalk dat iets nie presies is soos wat jy dit wou hê nie, maar dis die lewe. Jy word in die regte rigting in gewaai.”

Sy is vandag glad nie spyt daaroor dat sy haar studies uiteindelik in Afrikaans voltooi het nie. Inteendeel, dit het die deur vir haar oopgeswaai om haar merk in die Afrikaanse vermaakbedryf te maak.

Ilse onthou hoe sy nooit as tiener gedink het dat musiek en musiekteater haar beskore is nie. Dit het egter verander toe sy in haar eerste jaar gevra is om Whitney Houston se “I Wanna Dance with Somebody” tydens die eerstejaarskonsert te sing.

“Ná daardie konsert was sang aan my gekoppel, hoewel ek eers later in my loopbaan daarop begin fokus het.

“My eerste musiekproduksie was Fiddler on the Roof, en ek het die rol van Hodel vertolk. Daarna het die musiek net gekom soos dit moes. Dit was nie ʼn doelbewuste besluit nie; musiek was net daar gewees.”

‘Nêrens Noord-Kaap’ en kie

Die verfilming van die opvolgreeks van die treffende verhaal Nêrens, Noord-Kaap is vroeër vanjaar afgehandel.

Dié eerste seisoen van dié kykNET-reeks het in 2021 die kassie getref en kykerharte een na die ander verower. Ilse is saam met ʼn string bekende gesigte in die vermaakbedryf in die reeks te sien, onder wie Frank Opperman, Geon Nel, Albert Pretorius, De Klerk Oelofse en Tinarie van Wyk Loots.

“Mense het aanvanklik gewonder oor die feit dat ek ʼn skoonmaker vertolk, maar ek verteenwoordig mense reg oor hierdie land wat ander mense se kinders grootmaak soos hul eie.”

Ilse Klink in ‘Nêrens, Noord-Kaap’. (Foto: kykNET)

Sy beskou dié reeks ook as een van haar loopbaanhoogtepunte en skryf dit veral toe aan hoe geheg die akteurs en tegniese span geword het.

Ilse is nie seker wat op haar wag nadat Mamma Mia! se speelvlak by die Teatro in Johannesburg in Junie tot ʼn einde kom nie. As sy egter eerlik moet wees, is dit hoe sy dit verkies.

“Ek is gek daaroor om nie te weet wat volgende kom nie. Ek skakel af wanneer ek iets te ver vooruit weet.

“Wie weet wat volgende is?”

  • Mamma Mia! is tot en met Saterdag 9 Junie by die Teatro by Montecasino te sien. Koop jou kaartjies hier.

Kyk na ons kuier agter die skerms by Mamma Mia! hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.