Ná 78 jaar groet ‘rooi rose’ finaal

‘n rooirose-voorblad van 1982

Vir 78 jaar het die glanstydskrif rooi rose op winkelrakke gepronk met bekendes soos Carike Keuzenkamp, Jana Strydom, Anna-Mart van der Merwe, Anneline Kriel, Jackie Burger, Margaret Gardiner en prinses Charlene van Monaco wat hul lywe voorbladmodel hou.

Vir honderde uitgawes het rooi rose se bladsye propvol smullekker resepte, indiepte-profielartikels, kopkrapper-blokraaie en stylvolle fotosessies gemaklik hul plek in duisende Suid-Afrikaners se huise en handsakke gevind.

rooi rose was een van Suid-Afrika se eerste tydskrifte nadat dit in 1942, tydens die Tweede Wêreldoorlog, vir die eerste keer die lig gesien het. Dit het ook die eerste Afrikaanse maandblad geword wat maandeliks beskikbaar was vir sinvolle, stylvolle Afrikaanse genot.

rooi rose het aanvanklik ontspanningsberigte gebied, maar later ook oor aktuele sake soos die Verenigde Nasies se werk en deurbrake in die mediese veld berig gelewer. In die meer onlangse uitgawes het motornuus, reisberigte, geldsake, gesondheidswenke, huweliksraad en baie meer gesorg vir hul belofte van ʼn propvol Afrikaanse glanstydskrif.

Op Dinsdag 5 Mei 2020 het die redaksie van dié ikoniese tydskrif se wêreld tot stilstand gekom toe hulle te hore kom van Caxton Uitgewers, aan wie hulle behoort, se besluit om hul hele tydskrif-afdeling te sluit.

Die laaste voorbald van rooi rose vir die Junie 2020-uitgawe

Dit beteken nie net die einde van rooi rose nie, maar ook Vrouekeur en ander Engelse tydskrifte soos Bona, Woman & Home, Food & Home en People.

“Dit was ʼn yslike skok, een wat ons nog nie heeltemal verwerk het nie. Dit is so onverwags. Ons is net ʼn kort rukkie voor die mediaverklaring uitgereik is hieroor ingelig, en soos julle kan dink, het dit ons ʼn paar dae geneem om tot verhaal te kom,” het rooi rose kort ná die aankondiging in ʼn verklaring op hul webwerf laat hoor.

Die redaksionele span het nog geskarrel om ʼn finale uitgawe van rooi rose saam te stel, maar dit was helaas nie toegelaat nie en hulle moes onder druk groet met die Junie 2020-uitgawe wat reeds gereed was. Die aktrise Erika Wessels en haar babadogtertjie, Stella, het op die voorblad van die laaste uitgawe van rooi rose verskyn.

Vandeesmaand (Julie) is die eerste maand in 20 jaar dat daar nie ʼn nuwe uitgawe van rooi rose op die rakke sal wees nie.

Martie Pansegrouw, redakteur, het later laat hoor hoe moeilik dit was om nie hul getroue lesers in ʼn vaarwel-uitgawe van rooi rose te kon groet nie.

Martie Pansegrouw (Foto: Facebook)

“Hier is die oomblik waarteen ek nou al ʼn tyd lank opsien: ons moet groet, rooi rose se laaste vaarwel op al ons platforms. In die tydskrif self kon ons nie tot siens sê nie, daar was geen geleentheid nie, geen nuwe uitgawe nadat ons die skoknuus van ons sluiting verneem het nie, maar hier wil ons graag vir elkeen van julle vaarwel sê en net die beste vir die toekoms toewens,” het sy op die tydskrif se Facebook-blad geskryf.

Pansegrouw vertel hoe wonderlik dit vir haar was om saam met haar mede-“rosies”, soos hulle mekaar noem, aan die tydskrif te werk.

“Saam het ons maand vir maand, jaar vir jaar beplan, gewerk en die mooiste bladsye vir julle, ons lesers, opgetower. Ons het aanlyn en by lesersdae met julle gekuier en gesels en julle leer ken. Ons het vir julle bekendes nader gebring, om hulle beter te leer ken, onbekendes en buitengewoon begaafde en interessante mense aan julle voorgestel.

Agter die skerms tydens ‘n fotosessie (Foto: Facebook/Susra Matthee)

“Ons het julle lewe gedeel en baie by julle geleer – Afrikaanse vroue wat sonder om terug te hou in ons eie taal gekuier en gespeel het, en mekaar bemoedig en gedra het. Baie dankie daarvoor,” skryf sy.

Adjunkredakteur Hannelie Diedericks het laat hoor dat rooi rose ʼn baie belangrike deel van haar lewe was en dat dié tydskrif reeds langer as ʼn dekade haar tuiste is.

Agter die skerms tydens ‘n fotosessie (Foto: Facebook/Justine Pittaway Kroes)

“Ek rou oor die rooi rose wat nie meer gaan wees nie, oor die briljante redaksie vir wie ek tot siens moet sê en al die groot drome en planne wat ons gehad het vir die toekoms, wat sonder waarskuwing van ons af weggeneem is.”

Getroue aanhangers van die tydskrif het hartseer hul misnoeë uitgespreek oor die tydskrif wat so lank deel van hul lewe was en so skielik weggeneem is.

Een getroue leser het selfs vertel hoe haar ma en haar ouma altyd die rooi rose gekoop en gelees het, en hoe sy dit toe ook later as volwasse vrou begin gedoen het. Sy het gehoop haar dogter sal ook die liefde vir rooi rose deel, maar nou is dit nie meer ʼn moontlikheid nie.

Vicky de Beer wat 18 jaar lank die kosredakteur van rooi rose was, het gesê dit is vir haar moeilik om tot siens te sê omdat rooi rose die spil was waarom haar lewe vir soveel jare gedraai het.

“Ek was heeltyd aan die proe, toets, kook en skryf om die perfekte en allerlekkerste resepte vir ons lesers saam te stel,” sê sy.

Ilse Salzwedel het 15 jaar lank vir rooi rose geskryf en skryf die sukses van die tydskrif oor die afgelope dekades toe aan die getroue en diverse lesers.

“’n Joernalis móét skryf – dis vir ons so nodig soos asemhaal. Maar sonder lesers is ons woorde verniet en ons werk betekenisloos. Dit was ʼn voorreg om saam te gesels oor bekendes, inspireerders, kwessies wat almal raak en dinge wat ons almal behoort te laat nadink. Hopelik ontmoet ons mekaar weer iewers op ʼn dag en ʼn bladsy.”

Pansegrouw sluit af deur te sê hulle bly positief oor die toekoms ten spyte daarvan dat hulle mekaar moet groet. “Elkeen gee ʼn stukkie van haarself, haar hart en haar siel. Ons het immers al 78 jaar van geskiedenis agter ons,” sê sy.

rooi rose was ʼn familie, ʼn tydskrif wat Afrikaans bevorder het en ʼn tuiskoms vir generasies van vroue. Hoewel dit die einde van die pad vir rooi rose is, stem die hele span oor een ding saam: “Een keer ʼn rosie, altyd ʼn rosie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Nie lank nie dan sal al wat oorbly in Suid Afrika om te lees Adof Hitlers se Mein Kampf wees, die ANC/Cosatu/SACP Handboek, Mandarin In Drie Weke, en die Kommunistiese Manifes, Die drie sal die ANC misken verpligtende leesstof maak vir alle skoolkinders en burgers. Ek is ‘n man, en behalwe miskien vir nou en dan deur ‘n Rooi Rose blaai in ‘n doctor se spreekamer, weet ek sal die einde van Rooi Rose vir baie Suid Afrika vrouens ‘n groot gemis wees.

JohanEtz ·

Die nuwe “NORMAAL”.
Om gewoond te raak dat daagliks veranderinge plaasvind
Om gewoond te raak aan
Om gewoond te raak aan
ens
ens
ens

Juffrou ·

Tragiese einde liewe Rooi Rose ???? Tragies dat Caxton julle nie eens vooraf ingelig het nie! Sies vir julle Caxton!

Shady ·

As Juffrou mooi lees, sal jy sien dat hulle voor die persverklaring ingelig is

Jaco ·

Ek kan verstaan dat Afrikaanse tydskrifte toemaak. Die ekonomiese uitval van corona en inperking is mos maar maar deel van die ewige “straf” vir apartheid. Maar hoekom maak die tydskrif Bona ook toe? Dis dan “our people” s’n. Wat het Bona se lesers dan “verkeerd” gedoen?

Agge nee ·

Ek is jammervir Rooi Rose lesers en die redaksie, maar dit is die dun tydskriffie Keur wat ek die meeste gaan mis. Die wenke, die resepte, die artikels was tops. En ja, die agterblad. Goed gaan Sofia, hoop Blikkantien kon darem al oopmaak.

antieke antie ·

vroue keur…het my broers en susters hereing nadat ons as kinders aangeneem en ek in pleegsorg was….. 4 susters en 2 broers…. elke een het hulle stories en ook die storie na die ontmoetings was ook nog n storie….

Vriendelike Frikkie ·

Ek gaan seker nou baie houe kry, maar slaan maar. Ek is hartseer oor Rooi Rose, dit was ‘n tydskrif van formaat. Jy was versadig as jy haar klaar gelees het. Ten minste ‘n driegang maaltyd.
Ek sou baie eerder wou sien dat hulle die BoereScope (Huisgenoot) toemaak. Tel een op ‘n spreekkamer en dis presies dieselfde as die een langs hom. Net die datum verskil. Huisgenoot kan nie eers vergelyk word met ‘n warmbrak van ‘n straatkafee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.