‘Nando’s’ se brekfis-advertensie toe eintlik pittige SA’ner se grappie

Suid-Afrikaners het die afgelope week opnuut geskater vir ʼn pittige Nando’s-advertensie wat die draak steek met die Springbokke se naelskraapse oorwinning oor die Engelse by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk.

“Full English Breakfast for only R16.15!” basuin die advertensie dit uit met verwysing na die 16-15- puntetelling tussen die twee spanne.

Maar dit sou ʼn kennersoog verg om te sien dat dié advertensie nie uit die amptelike Nando’s-stal kom nie.

En nee, skerts Ingrid Stegmann, baasbrein agter die plakkaat-advertensie wat wêreldwyd soos ʼn veldbrand versprei en van die een foon na die ander gehop het; sy het “nog nooit ʼn grappie gemaak waarvoor omtrent die hele wêreld lag nie”.

Stegmann vertel sy het al van studentedae ʼn liefde vir satire en sy het as destydse student by Tuks al onder die skuilnaam Sannie Seersteek geskryf.

Verlede Saterdag was sy “nog op die kantlyn” (sy is nie die wêreld se grootste rugbyondersteuner nie) daaroor of sy die rugbywedstryd tussen Engeland en Suid-Afrika gaan kyk, maar toe die Suid-Afrikaners die Engelse uiteindelik uitoorlê, het die slaap gewyk en Stegmann se kreatiewe bloed het behoorlik begin pomp.

“Dit was ʼn kreatiewe splurge,” vertel sy vandeesweek.

Aanvanklik het Stegmann net ʼn aanlyn opname gedoen oor wat Suid-Afrikaners graag Sondag ná die oorwinning vir ontbyt wil hê: Engelse ontbyt, biltong en droëwors, kiwivrug of Franse roosterbrood? Stegmann sê sy het in die laatnag-ure gedink as sý nou ʼn restaurant gehad het, het sy dié afslag-ontbyt geadverteer.

En toe kry sy ʼn ander plan.

Ingrid Stegmann vertel sy het al van studentedae ‘n liefde vir satire. (Foto: Verskaf)

Stegmann sê sy het Nando’s se sosialemediaplatforms deurgesnuffel om te kyk of die advertensiespan – gewoonlik blitsig uit die blokke met ʼn gevatte opmerking – al iets oor die wedstryd kwytgeraak het. Toe sy niks vind nie, het sy self aan die werk gespring.

Sy het ʼn voorbeeld van ʼn werklike Nando’s-advertensie gevind en daarvolgens haar eie begin ontwerp.

“Die moeilikste deel was om die skrif reg te kry; dit is ook gewoonlik hoe ʼn vals advertensie uitgeken kan word,” sê Stegmann.

Sy het die skrif so na moontlik aan dié van ʼn oorspronklike Nando’s-advertensie gehou, Nando’s Suid-Afrika en Nando’s in die Verenigde Koninkryk in die grappie gemerk en dit met dié hutsmerk geplaas.

“Ek het gaan slaap en toe ek die volgende oggend wakker word, het ek gedink, ‘o, vet – hulle gaan vir my dagvaar …’”

Stegmann het vervaard die grappie uitgewis weens vrese dat Nando’s dalk regstappe sou doen of dat iemand haar dalk selfs sou verkla oor die kwansuise vals advertering van só ʼn goedkoop ontbyt.

Sy het egter by die joernalis en mediakenner Gus Silber uitgekom, wat haar gerusgestel het dat Nando’s – sover hy weet – nog nooit tevore iemand voor stok gekry het wat hul advertensies nagemaak het nie. Die kitskos-groep distansieer hom wel van vals advertensies, veral wanneer dit in swak smaak is.

In dié geval – met die plakkaat wat loop soos stroop – het Nando’s geswyg oor die feit dat dit nié sy eie handewerk was nie.

Mense van oor die wêreld het saam gelag oor Stegmann se ‘advertensie’. (Foto: Verskaf)

Stegmann sê nadat sy met Silber gesels het, het sy veel veiliger gevoel om te erken dat dit sy is wat die kwinkslag opgedis het. En hoewel sy die oorspronklike plasing uitgevee het, was die koeël lankal deur die kerk. ʼn Vriend uit Nederland was een van diegene wat Stegmann laat weet het dat haar plakkaat heen en weer vlieg.

Sy het dit daarna opnuut op sosialemediaplatforms gedeel.

Dit is ook op Reddit, TikTok en LinkedIn gedeel – sonder dat enigiemand aanvanklik geweet het presies wie die gesig agter die “advertensie” is.

South African restaurant Nando’s, just posted this advert after the game
byu/DirtXreborn inrugbyunion

“As jy ses maande werkloos is, lig só iets jou spirit ʼn bietjie,” skerts Stegmann.

Stegmann is van Pretoria en is eintlik ʼn projekbestuurder in die inligtingkundebedryf. “Maar om op 42 te probeer om ʼn beroepskuif te maak na projekbestuur in die kreatiewe beroepsveld of IT-bedryf, of selfs as produkeienaar, is ʼn uitdaging.

“Ek swot tans vir my professionele projekbestuursertifikasie by die Project Management Institute.”

Nando’s se (amptelike) advertensiemaatskappy is M&C Saatchi Abel, wat spruit uit die Britse kommunikasiemaatskappy Saatchi & Saatchi.

“Dalk begin ek nog my eie advertensieagentskap, Saartjie&Saartjie, en het net soveel sukses soos die beroemde Saatchi & Saatchi,” sê sy.

En het Nando’s haar al genader met die aanbod van ʼn lekker combo net om dankie te sê vir die briljante advertensie?

“Nog niks nie,” lag Stegmann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.