Nasieners moet koes toe dak by sentrum instort

Een van die nasieners is lig beseer toe die dak van die sentrum afgeruk is. (Foto: Dept. van onderwys)

ʼn Nasiener in Thaba Nchu in die Vrystaat is lig beseer en talle ander het vir skuiling gevlug toe die dak van die sentrum waar hul vraestelle nagesien het, Woensdagmiddag in ʼn woeste storm afgewaai het.

Die sentrum is geleë by die Albert Moroka High School waar die tweede rekeningkunde- en die tweede besigheidstudie-vraestel nagesien is. Volgens die departement van onderwys is sommige van die vraestelle beskadig in die haelstorm wat uitgesak het.

“ʼn Hoëvlakafvaardiging bestaande uit senior amptenare van die departement en Umalusi sal die sentrum besoek. Ons doen ʼn beroep om kalmte terwyl ons die omvang van die skade bepaal,” sê Rufus Poliah, hoofdirekteur van openbare eksamens en nasionale assesserings by die departement.

“Ons werk so gou moontlik om die kwessie op te los, maar ons kan kandidate die versekering gee dat niemand weens die natuurramp benadeel sal word nie.”

Poliah sê die departement werk saam met die Vrystaatse onderwysowerhede en Umalusi om te verseker merkwerk by die sentrum kan so gou moontlik hervat word en dat die geloofwaardigheid en integriteit van die merkwerk behoue bly.

Die sentrum sal so gou moontlik na ʼn ander perseel verskuif word.

“Ons bedank al ons kollegas op die toneel vir hul harde werk om te verseker dat almal veilig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eiervrug ·

Nou is helfde van die toetse weg, en die wat nie weg is nie kry almal 100%….

Christel Cornelissen ·

Dagsê Ebeth
Baie dankie vir jou boodskap. Die berig is sedertdien gewysig.
Groetnis
Christel
nms. Maroela Media

Elinette ·

Weer eens, moenie sukkel met Moeder Aarde en haar dinge nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.