Nat Nuwejaar voorspel

Argieffoto

Te midde van die Covid-19-pandemie en nuwe inperkingsregulasies wat soos ʼn swaard oor Suid-Afrikaners se koppe hang, kan milde reën en donderbuie wat vir die Nuwejaar voorspel word ietwat verligting bring.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel reën en donderbuie vir groot dele van die land vir Oujaar- (Donderdag) en Nuwejaarsdag (Vrydag).

Volgens Vanetia Phakula, ʼn weervoorspeller van die SAWD, word swaar reën vir KwaZulu-Natal en die verre oostelike dele van die Oos-Kaap vir Oujaarsaand voorspel wat tot Nuwejaarsdag sal voortduur.

Op Oujaarsdag is daar ʼn 30%-kans op reën en donderbuie op plekke in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng, Noordwes en die Vrystaat wat op Nuwejaarsdag tot 60% en selfs in plekke tot 80% sal toeneem. ʼn 30%-kans op reën – op sommige plekke effe minder – word vir die noordoostelike gebiede van die Noord-Kaap voorspel.

“Die reën sal na verwagting op die meeste plekke tot Sondag voortduur,” sê Phakula.

Reënwolke sal na verwagting oor die naweek oor meer gebiede in die Noord-Kaap begin saampak.

Die SAWD waarsku teen kitsoorstromings en paaie wat kan oorstroom in sommige van die dele waar swaar reën en donderbuie voorspel word.

Sterk wind en koeler weer word ook langs die kus in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verwag met ’n maksimum van onderskeidelik 24 ˚C en 22 ˚C vir Port Elizabeth vir Oujaar- en Nuwejaarsdag.

’n Maksimum van 27 ˚C op Oujaarsdag en 22 ˚C op Nuwejaarsdag word vir Durban voorspel en ʼn maksimum van 22 ˚C op Oujaarsdag en 25 ˚C op Nuwejaarsdag word vir Kaapstad voorspel.

In Gauteng word ’n maksimum van 30 ˚C en 27 ˚C vir onderskeidelik Pretoria en Johannesburg vir Nuwejaarsdag voorspel. Vir Polokwane word ’n maksimum temperatuur van 31 ˚C voorspel en Mbombela ’n maksimum van 25 ˚C.

In die Vrystaat sal Bloemfontein op Nuwejaarsdag ’n maksimum van 30 ˚C ondervind terwyl ’n koeler maksimum van 23 ˚C vir Bethlehem voorspel word.

In die Noord-Kaap gaan die kwik tot 32 ˚C in Kimberley en tot 37 ˚C styg in Upington styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.