Naweek met minder beurtkrag lê voor

Argieffoto

Fase 1- en fase 2-beurtkrag sal die naweek om die beurt geld. As alles goed verloop sal Suid-Afrikaners boonop vir ʼn groot deel van Sondag geen beurtkrag ervaar nie.

Dit volgens Eskom se jongste kennisgewing wat beurtkrag vir die naweek uiteensit.

Hiervolgens sal die land op fase 2-beurtkrag bly tot Saterdag om 05:00. Daarna sal fase 1 tot Saterdag om 16:00 geld, voordat fase 2-beurtkrag weer van 16:00 tot Sondag om 05:00 ingestel word. Die kragvoorsiener hoop om beurtkrag dan tot Sondag om 16:00 op te hef en weer fase 1 tot en met 16:00 Maandag in te stel.

“Eskom sal enige verdere verwikkelinge bekendmaak soos dit plaasvind.”

Suid-Afrikaners het die afgelope week minder beurtkrag ervaar, met fase 2 en 3 wat deurlopend ingestel is.

Chris Yelland, onafhanklike energiekenner, het egter die afgelope week aan Maroela Media gesê dit beteken allermins dat beurtkrag iets van die verlede is. Hy skryf die afgelope week se lae beurtkragfases hoofsaaklik toe aan min ekonomiese aktiwiteit die afgelope langnaweek. “Die kragnetwerk is so onvoorspelbaar dat ons soms vir ʼn week lank min beurtkrag kan hê, net om weer die volgende maar weke hoë fases van beurtkrag te ervaar.”

Volgens Eskom is 14 489 MW se opwekkingskapasiteit tans nie beskikbaar nie weens onbeplande onderbrekings en ʼn verdere 6 190 MW buite diens vir beplande instandhouding.

“Gedurende die afgelope 24 uur is ʼn opwekkingseenheid elk by die Hendrina-, Majuba- en Tutuka-kragsentrale weer in diens geneem. In dieselfde tyd is ʼn opwekkingseenheid by Arnot, Camden, Kriel en Tutuka vir herstelwerk uit die stelsel verwyder. Ons wag ook nog vir eenhede by Duvha en Medupi om weer in werking gestel te word,” sê Eskom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.