Die minister van energie, Jeff Radebe, het Vrydag gesê die raad van die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa) is afgedank.
Hy het gesê dit hou verband met verset, onbekwaamheid en ʼn versuim om ernstige kwessies aan te roer wat betref die vervaardiging van radioaktiewe isotope vir mediese gebruik, spesifiek kankerbehandeling.
Radebe het tydens ʼn perskonferensie gesê Suid-Afrika kan moontlik sy wêreldwye markaandeel verloor, omdat NTP Radioisotopes SOC Ltd, ʼn filiaal van Necsa, nie enige isotope die afgelope jaar vervaardig het nie.
“Suid-Afrika vervaardig tans die helfte van die wêreldwye aanvraag en kan moontlik sy markaandeel en mededingersvoordeel in die vervaardiging en verkope van die mediese isotope verloor,” het Radebe gesê.
Die kabinet het Woensdag die aanstelling van ʼn nuwe raad goedgekeur nadat Radebe besluit het om al die raadslede af te dank.
Radebe het gesê die vorige raadslede is versoek om oortuigende redes te bied waarom hulle nie afgedank moet word nie in die lig van, onder andere, “versuim om te reageer op spesifieke aandeelhouderopdragte”, “finansiële wanbestuur”, “vergoedingsonreëlmatighede”, “ongemagtigde internasionale reise” en “die Necsa-raad se onvermoë om die noodsaaklike NTP-vervaardigingseenheid na sy volle bedryfsfunksionaliteit terug te keer van, byna 12 maande nadat die fasiliteit deur die nasionale kernreguleerder (NNR) weens ernstige veiligheidsongerymdhede gesluit is”.
Die minister het gesê ná die Necsa-raadslede se voorleggings ontvang is, was die ministerie steeds nie oortuig dat die raad die uitdagings by Necsa sou kon takel nie. “Ons het daarom die besluit geneem om die hele raad van sy pligte te onthef.”
Die nuwe raadslede is Rob Adam (voorsitter), dr. Ramatsemela Masango, Aadil Patel, Bishen Singh, Pulane Kingston, Matlhodi Ngwenya, Jabulani Ndlovu en Pulane Elsie Molokwane.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
25 Kommentare
As hulle onbekwaam is, hoekom was hulle in die eerste plek aangestel? Oeps, amper vergeet ek nou weer van die baantjies vir boeties ANC beleid.
Ek twyfel of die nuwe klomp bevoeg gaan wees vir die taak
Hahaha! Dit is nou soos om te verwag dat n slak n suksesvolle kropslaai boer sal wees of dat mnr wolf die skapie gaan oppas nadat die eintlike boer van die plaas gejaag is deur n klomp wilde varke!!
Hulle gaan sekerlik vervang word met zuptas en russe. Sodat ons kernkrag stasiws kan nou.
Kernfisika en ANC…….Klink soos ‘n potensiele ramp. Kernreaktor is nie ‘n Ses’fikile nie…..