Nege A’s danksy harde werk, tydsbestuur

Shani Jansen van Rensburg (Foto: Verskaf)

Shani Jansen van Rensburg van Hoërskool Randburg in Johannesburg wil vanjaar medies aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer. Sy is besonder trots op die nege onderskeidings wat sy in die afgelope matriekeindeksamen behaal het.

Sy het altesaam 11 vakke geneem, insluitend drie wiskunde-vakke.*

Shani is ook net nie ʼn boekwurm nie. Sy het deur die jare vir haar skool deelgeneem aan atletiek en landloop en in haar matriekjaar vir die eerste span netbal gespeel. “Ek was deel van die toespraakgilde by die skool en ek was selfs een van ons skool se nuuslesers!” Die skool se “nuus” word elke Vrydagoggend deur middel van ʼn regstreekse uitsending op YouTube uitgesaai.

Die wil om goed te doen en haarself en ander trots te maak, het Shani gemotiveer. Sy wou graag hê dat die tyd wat sy insit, nie gemors moet wees nie. “Ek is van kleins af geleer om hard te werk. Ek en my broer het abakus-wiskunde gedoen, waar ons dikwels aan kompetisies deelgeneem het.”

Shani besef medies is ʼn lang pad en sy wil graag nog spesialiseer ook. “Ek sal graag my nagraadse studies oorsee wil doen.”

Sy sê haar grootste uitdaging was beslis tydsbestuur. “Ek het te veel dinge gehad om te doen en te min tyd om dit alles te gedoen te kry. Dis vir my belangrik om ʼn balans in my lewe te handhaaf, veral om tyd saam met my familie en vriende deur te bring, maar ek is ook ʼn harde werker, daarom was beplanning baie belangrik om rustyd te hê en steeds alles gedoen te kry.”

  • Shani het alpha wiskunde en adissionele wiskunde ook as vak gehad. Inligting oor dié vakke word nie saam met die res van die uitslae aan die media deurgegee nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wondermaarnet ·

Dit maak my hart so bly om te sien hoe baie van hierdie pragtige kinders gaan medies studeer. Ek hoop hulle gaan in SA bly en na gekyk word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.