NGV-planne net ‘verkiesingstaktiek’

Argieffoto (Unsplash)

Solidariteit het sy ernstige kommer te kenne gegee oor bestaande kwessies rakende die finansiering van die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

Enoch Godongwana, die minister van finansies, het onlangs aangekondig dat daar bykans geen toewysing vir die NGV in die huidige boekjaar jaar is nie.

Hierdie gebrek aan ʼn duidelike finansiële plan skep twyfel oor die regering se vermoë om die NGV in werking te stel en boonop word die NGV gebruik om “stemme vir vanjaar se algemene verkiesing te werf”, sê Solidariteit.

Die organisasie se netwerke vir die mediese sektor het die gebrek aan finansies vir die NGV benadruk. Hulle beskou dit as ʼn “duidelike bewys van die regering se onvermoë om ʼn doeltreffende befondsingstrategie vir hierdie belangrike stelsel te formuleer”.

Peirru Marx, netwerkkoördineerder van Solidariteit se mediese netwerke, sê die ontoereikende R1,4 miljard vir die NGV is nie naastenby voldoende om die grootskaalse behoeftes daarvan te dek nie.

“Hierdie gebrek aan finansiële verantwoordelikheid versterk Solidariteit se standpunt teen die NGV; ons beskou dit as ʼn onrealistiese en ontoereikende oplossing vir die uitdagings binne die gesondheidsorgstelsel,” sê Marx.

Een van die kommerwekkendste aspekte van hierdie situasie is die gebrek aan duidelike riglyne oor hoe die NGV finansieel ondersteun gaan word, sê Marx.

“Die afwesigheid van ʼn konkrete finansiële strategie laat onbeantwoorde vrae oor die moontlike impak op belasting, sowel as die uitwerking van moontlike belastingverhogings om die NGV te kan bekostig,” sê hy.

Solidariteit sê dit is duidelik dat die NGV nie net ʼn gesondheidsorgkwessie is nie, maar ʼn breër ekonomiese en finansiële uitdaging vir Suid-Afrika. Sonder ʼn duidelike en geloofwaardige finansiële plan bly die NGV ʼn “hol politieke belofte”.

Marx meen die NGV word slegs gebruik om politieke steun te werf.

“Selfs die regering besef dat die NGV nie sal werk nie en die feit dat hy nog nie eens ʼn finansiële plan kon opstel nie, bevestig die regering se onbevoegdheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.