Nie eerste voorval op Vaalharts-kleinhoewe

Die vier verdagtes van links: teen Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (43). Agter: Tsepaone Melato (20) (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

’n Paar weke voordat die Brand-gesin op hul kleinhoewe in Magogong, naby Hartswater in die Noord-Kaap ontvoer en vermoor is, is hul honde vergiftig.

Só het Steven Benny, ’n jarelange familievriend van die gesin, Dinsdag in die hooggeregshof in Kimberley getuig. Benny woon ook op ’n kleinhoewe in Magogong, naby die kleinhoewe waar die Brand-gesin – Dan (83), sy vrou, Breggie (73), en hul dogter Elzabie (54) – gewoon het. Hy het die gesin vir 40 jaar lank geken.

Die Brand-egpaar se dogter Heidie Taljaard (48) het Maandag aan Maroela Media bevestig dat haar ouers pas voor hul moord die kleinhoewe verkoop het om na die Kaap te verhuis. Taljaard woon saam met haar gesin in Brackenfell in die Wes-Kaap.

Die saak teen Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (43) en Tsepaone Melato (20) het Maandag begin, waar alle klagtes teen ’n vyfde verdagte, Realeboga Manyedi (20), teruggetrek is.

Benny het getuig dat hy die Maandag (27 Julie 2020) na die Brand-gesin se kleinhoewe gegaan het nadat Heidie hom gebel en haar kommer uitgespreek het dat sy haar nie ouers of suster telefonies in die hande kry nie.

Elzabie, Breggie en Dan Brand.

Benny het omstreeks 17:00 met sy aankoms op die kleinhoewe gesien die huis se vensters en deure is toe. Hy het ook nie een van die gesin se voertuie – wat gewoonlik onder die afdak by die huis geparkeer staan – gesien nie.

“Ek het na die agterdeur van die huis gestap, maar dit was toe. Ek het teruggestap na my bakkie en dit is toe dat ek twee bakstene met bloed op die grond gewaar,” getuig Benny.

“Ek het ook ’n hoed – wat oom Dan gewoonlik gedra het – en ’n bril op die grond gesien.”

Volgens Benny was daar ook sleepmerke met bloed wat na die motors se afdak gelei het. “Waar oom Dan se rooi Nissan Micra altyd gestaan het, was ’n plas bloed.”

Hy is toe terug na die agterdeur, waar hy aan die handvatsel gevoel en ontdek het die deur is nie gesluit nie. Hy het die huis betree en bloed binne die huis gevind.

“Ek het besef dit was ’n plaasaanval. Ek het onmiddellik na oom Dan, tannie Breggie en Elzabie begin soek, maar niemand gekry nie.”

Benny het daarna die buurtwag ontbied, waarna hulle en lede van die plaaswag opgedaag het. Die polisie en die polisie se honde-eenheid het gevolg.

Terwyl Benny op die toneel was, het ’n buurvrou van die Brand-gesin bevestig dat sy die Sondagmiddag (26 Julie) twee voertuie van die Brand-gesin se huis af gesien ry het. Dit was vermoedelik Dan se rooi Nissan Micra en Elzabie se silwerkleurige Mazda CX5.

Maroela Media het vroeër berig die Nissan Micra is Maandagaand in ʼn steengroef naby die Majaneng-nedersetting verlate gevind.

Die Mazda 5 is die Dinsdag vroegoggend op die N12, in die rigting van Vryburg, gewaar. Polisielede het die voertuig voorgekeer. ʼn Man (vermoedelik Visagie) het uit die bestuurderskant geklim en in die veld verdwyn. Hy is later weer vasgetrek. Die oorblywende vier verdagtes was ook in die voertuig en is in hegtenis geneem.

Breggie se liggaam is Woensdag vroegoggend in die Taung-omgewing gevind, gevolg deur Dan en Elzabie sʼn op dieselfde dag. Al drie oorledenes was vasgebind.

Volgens die nadoodse ondersoek is die oorsaak van Dan se dood ʼn kopbesering wat deur ʼn stomp voorwerp veroorsaak is en Breggie weens veelvoudige wonde wat deur stomp en skerp voorwerpe veroorsaak is. Elzabie is verwurg.

Die verdagtes staan tereg op drie aanklagte van moord, een aanklagte van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van ontvoering en drie aanklagte van dwarsboming van die gereg. Seoleseng word ook daarvan aangekla dat hy uit aanhouding ontsnap het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jannie van Niekerk ·

Ek kan nie verstaan waarom die klagtes teen Manydi terug getrek is nie. Die feit dat hy saam met die moordenaars was maak hom mos ook skuldig,

ES ·

Presies, Manyedi was ‘n medepligitige. Maar die aanklaer het seker nie bewyse nie…

George ·

Ek stem 100% saam jou, en logies is dit so, maar met bewyse ens kan dit anders wees, sy getuienis is ook nie van gewig nie. Die aanklaer kan ook besluit om meer bewyse teen ander te gebruik waar hul beter kans het om toe te sluit.

Henri ·

Hierdie gewetenlose, wrede oortreders kan geen aanspraak maak op menseregte nie.

Mickey ·

bring die doodstraf terug, die goed is laer as die skuim van die aarde. Dus so jammer dat mense lewens so min beteken vir sekere mense.

George ·

Ek stem, maar, hoe dink jy gaan dit werk as daar reeds dubbel standaard is agv vel kleur? Wie dink jy gaan meeste doodstraf kry vir ligter crimes?

ES ·

Siek! Hulle moet virewig uit die samelewing verwyder word. Hulle is so wreed vermoor vir absoluut niks!

Nierkie ·

Gelukkig vir die Polisie het die onnosele krimmenele in hulle palms geval. Nou vir die maksimum straf asb.

Wondermaarnet ·

Bring terug die doodstraf. Arrogante moordenaars weet hulle sit maksimum 15 jaar en dan is dit amnestie of parool. Hulle voel vere vir tronkstraf, maar die doodstraf sal hul dalk twee maal laat dink.

Suzette ·

ʼn Man (vermoedelik Visagie) het uit die bestuurderskant geklim en in die veld verdwyn. Wie is Visagie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.