Nie-geskeduleerde lugvaartbedryf ‘nie net wit’

(Foto: pixabay)

Die Handelslugvaartvereniging van Suidelike Afrika (CAASA) sê dit is belangrik dat die werklike samestelling van die bedryf op voetsoolvlak ook só op papier weerspieël word.

Dít nadat die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer vroeër vandeesmaand sy kommer oor die sogenaamde gebrek aan transformasie in die bedryf te kenne gegee het. Data wat die Burgerlugvaartowerheid (BLO) aan die komitee voorgehou het, wys die meerderheid vlieëniers – 89,2% – is wit.

Leon Dillman, uitvoerende hof van CAASA, sê egter dié syfer weerspieël nie die werklikheid nie.

CAASA is ʼn sambreelorganisasie vir verskeie ander verenigings en organisasies en verteenwoordig die nie-geskeduleerde kommersiële lugvaartbedryf en talle van sy sleutelverskaffers. Dit sluit ook in vliegskole, lughawe-operateurs, handelaars, hersteldienste, lugvaarttydskrifte en onbemande hommeltuig-operateurs. Die organisasie verteenwoordig nie rederye of ontspanningsvlieëniers nie.

Dillman sê onder die huidige afsonderingsregulasies verloor die bedryf nagenoeg R1 miljard per week en CAASA het gevra dat die sektor – wat geskeduleerde vlugte uitsluit – weer ten volle kan begin sake doen. CAASA het onder meer ook gevra dat vliegskole, nes bestuurskole, weer hul werk kan hervat.

Hy sê die parlement se bespreking oor die moontlike heropening van vliegskole – waarvan Suid-Afrika meer as 300 het – het eindelik verander in ʼn gesprek oor die beweerde gebrek aan transformasie.

Dillman sê ook dit is onsin dat swart mense uit die bedryf gesluit word, maar dat dit ʼn stadige en duur proses is om vlieëniers op te lei.

(Foto: pixabay)

“Ons wil ons argument staaf dat die bedryf nie uitsluitlik wit is nie. Ons glo die statistieke word skeefgetrek en daar is ʼn veel groter prentjie. Ons wil duidelikheid gee van wat op die grond aangaan en bewys dat dit nie ʼn eksklusiewe wit omgewing is nie.”

Die vraelys is ook op sosialemediaplatforms gedeel en het vrae laat ontstaan oor die kwessie of die departement van vervoer sy besluite oor heropening grond op die rassesamestelling van ʼn spesifieke sektor.

Richard Spoor, ʼn menseregteprokureur wat self in sy vrye tyd vlieg, sê dit lyk of die departement nie besorg is oor die dienste wat gelewer kan word nie, maar eerder oor die ras-aspek.

“Dit is waansinnig en ek beskou dit as ongrondwetlik. Dit is ook absoluut irrelevant tot [die vraag] of dienste hervat mag word of nie. Daar is net een vraag: Is daar ʼn risiko vir die verspreiding van Covid-19?” het Spoor gesê.

Volgens Dillman het die departement van vervoer reeds verskeie toegewings gemaak en onder meer ingestem dat die bedryf mag help met repatriasievlugte of steundienste kan verskaf aan bedrywe wat onder die huidige afsonderingsregulasies toegelaat word om te werk. Instandhoudingwerk- en vlugte word nou ook toegelaat.

Hy sê egter die bedryf kan veilig heropen word.

“ʼn Miljard rand per week gaan verlore terwyl ons geen risiko’s vir die verspreiding van Covid-19 inhou nie.”

Dillman sê tot 20 000 werksgeleenthede kan verlore gaan en tot die helfte van lugvaartondernemings, waarvan die meerderheid klein sakeondernemings is, kan eindelik hul deure sluit.

Die bedryf het tot dusver geen geldelike steun van die regering gekry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

AmY ·

Die probleem is nie dat dit wit is nie, die probleem is dalk dat dit werk?
So, my boetie sal seker nooit in sy lewe weer werk kry nie?Oral waar hy gaan, hoor hy sommer reguit hy is te wit. Dit terwyl hy nie eens oud genoeg was vóór 1994 om te stem nie.
My hart is seer, want hy is nie bang vir harde werk nie, en het al 14 ure gewerk sonder om ete te neem of oortyd betaal te word.
Wat moet hy maak?

Kokerboom ·

“n Mens moet die opmerkings en rassistiese benadering van meeste sogenaamde potefeuljekomitees verwerp met die minagting wat dit toekom. Hul hou hul besig met kleinlike beuselagtighede sonder enige emosie of gevoel vir die sterwende ekonomie en is net daarop ingestel om hul vet inkomstes te verseker in die oe van die oningeligte massas.

Helizna ·

Op die ou einde gaan dit nie oor die gerieflike Covid 19 nie. Net. Oor. Ras.

AmY ·

Wat het van my kommentaar geword?
Die een van my broer wat nie werk kan kry nie. Al vir drie jaar.
Weet nie hoe lank ek MM nog sal kan ondersteun nie.
Julle is een van die min debietorders wat ek nog nie gekanselleer het nie.
Moenie my ‘n rede gee nie…

Jessey ·

Maar as daar dan nie BEE vlieeniers is nie moet meer opgelei word en hulle kursus asseblief slaag. Want dis nie soos die Taxi Industrie waar jy jou lisensie kan koop nie. Jy mort weet hoe om te vlieg om ñ vliegtuig in die lug te kan kry en weer te land. Daar is nie ñ sypaadjie en “doen wat ek wil ligte “hazards” beskikbaar as jy in ñ vliegtuig is nie

PieterP ·

Terwyl julle mense wil indruk waar hulle nie gemaklik is nie, maak die SA swemspan ook regstellend! ????????????

Pieter ·

Skoonseun is ‘n ervare kommersiële vlieënier met ongeveer tienduisend ure agter sy naam. Tuis “vlieg” hy altyd en sal op sy laptop sit met sy simulator, komms-prosedures, veiligheidsprosedures, “crew resource management”, ens. Ook lugvaartreg, weerkunde, ens. Hy is nooit regtig van diens af nie en sy werk kom eerste. Hy het op 16 begin vlieg nadat hy middae deur die veld gestap het vliegveld toe om vliegtuie gratis te gaan was, net om naby ‘n vliegtuig te kan wees. Sy ma het dit nie breed gehad nie en hulle het harde bene gekou om hom in die lug te kry. Hoeveel ander kandidate gaan soveel opoffer vir hulle lewensroeping? Min mense deesdae het sulke toegewydheid.

Pieter J ·

Ek vlieg doodeenvoudig nie met lugdienste wat swart vlieĕniers het nie want ek weet nie of hul op meriete of op velkleur aangestel is nie. Aangesien jy betaal is dit seker jou keuse.

Okmardom ·

Alleen in jou earie, op 6500ft, en nog n student, en wonder of jy alle prosedures sover reggedoen het, dan kry jy daai alleengevoel, en net ervaring en ure stel dit reg. Een fout …dan is jy weg. Dit is nie n lisensie wat mens net gee of koop nie.

Jack ·

Dit is duidelik dat die krisisperiode waarin die land verkeer gebruik word om politieke doelwitte en beloftes te probeer nakom deur die hefboom van mag te gebruik. Ek dink dit hoort nie nou in die tyd nie. Dit kan later volg want dit lyk nou soos manipulasie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.