‘Niemand verdien só ʼn lewe’

Nicoleen Swart (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die dag toe Nicoleen Swart (35) besluit het “tot hier toe en nie verder nie” en ʼn saak van aanranding teen haar vervreemde man aanhangig gemaak het, is in haar geheue ingeëts.

Meer as tien jaar lank moes Nicoleen aanranding, manipulasie en emosionele mishandeling aan die hand van Jaco Swart verduur.

Sy het dit telkemale oorweeg om haar goed te vat en te loop, maar kon dit nie oor haar hart kry om haar twee seuns, onderskeidelik 12 en 14 jaar oud, agter te laat nie.

Skermskoot uit die kringtelevisiebeeldmateriaal (Verskaf deur AfriForum)

Swart het Nicoleen op 18 November 2018 by sy motorhandelonderneming in Pretoria-Noord erg aangerand en ook met die dood gedreig. Dit is tóé dat sy besluit het “genoeg is genoeg”.

Die voorval is op kringtelevisie-beeldmateriaal vasgevang en word wyd op sosiale media versprei. In die video kan jy sien hoe Swart vir Nicoleen skop, stamp en slaan.

Jaco is Dinsdag in die streekhof in Pretoria-Noord skuldig bevind en gevonnis op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

‘Die laaste strooi’

Nicoleen en Jaco het in 2002 ʼn verhouding aangeknoop en het in 2010 getrou.

Hoewel hy nie aanvanklik tekens van geweld getoon het nie, het die eerste vuishoue in 2007 geval, vertel Nicoleen.

“Die aanrandings sou af en toe gebeur. Dan vergewe jy weer en gaan aan. Dit gaan goed vir ʼn rukkie tot die volgende klap, skop of vuishou.”

(Foto: Facebook)

Sy vertel die geweld het in 2017 begin erger raak en sê Swart was baie aggressief en het ook gereeld gedrink.

Op 18 November het Jaco haar buite sy motorhandelonderneming aangerand en in die kantoor van die onderneming probeer inlok.

Daar is ook beeldmateriaal van hoe hy haar drie dae tevore in die kantoor aanrand.

“Ek het met als binne my baklei om nie in die kantoor in te gaan nie, want ek het geweet as ek daar ingaan, ek nie lewend daar sou uitkom nie.”

Die aanranding het ten aanskoue van die egpaar se kinders gebeur.

Toe hy my vir ʼn laaste keer in die gesig skop en ek die bloed sien, het ek besluit om te vlug.”

Nicoleen het met ʼn bebloede gesig by die Sinoville-polisiestasie om hulp aangeklop en ʼn saak teen Swart gemaak. Jaco is die volgende oggend in hegtenis geneem.

Nicoleen het ook ʼn beskermingsbevel teen Jaco bekom, wat hy volgens haar verskeie kere verontagsaam het.

Hofsaak sloer

Nicoleen saam met adv. Gerrie Nel (Foto: AfriForum)

Nicoleen moes langer as drie jaar gereeld haar aanrander in die hof in die oë kyk.

“Elke keer wat ek hom gesien het, het my hart in my keel geklop. Ek het bedreig gevoel. Hy was te naby aan my.”

Die saak is voorheen – sonder enige rede – van die rol geskrap, waarna sy en haar familie AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader het.

Adv. Gerrie Nel en sy span het vertoë aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) gerig en aangedui dat hulle bereid is om private vervolging in te stel. Die DOV het gevolglik in Mei 2021 beveel dat Jaco summier vervolg moet word.

Hy is ʼn jaar later skuldig bevind en gevonnis, nadat hy skuld op die klagtes teen hom beken het.

Hy is ’n boete van R20 000 opgelê, sowel as drie jaar gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.

Nicoleen is teleurgesteld oor wat sy as ʼn ligte vonnis beskou. Sy wens die hof het haar bewyse ernstiger oorweeg – soos die beeldmateriaal, wat as verswarende faktor ten opsigte van die vonnis gebruik kon word. Die verdedigingspan het egter die egtheid van die beeldmateriaal bevraagteken.

Nicoleen kan nou gedeeltelik dié nare hoofstuk in haar lewe afsluit, maar het nie ten volle berusting noudat Jaco vry rondloop nie.

“Hy moes ten minste tronkstraf kry in ruil vir wat hy van my weggeneem het.”

Nicoleen en haar seuns woon tans by haar ouers in Durban en volgens die beskermingsbevel mag Jaco nie naby haar of die seuns kom nie.

Nicoleen het reeds die stukke van haar lewe – met die nodige ondersteuning van haar vriende en familie – opgetel. “Na alles kan ek sterker hiervan wegloop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Frank ·

Dis nie ‘n vonnis nie, dit is NOG ‘n klap in die gesig aan die slagoffer deur die regstelsel

Blikkantien ·

Moes hy haar eers vermoor het voor hy ‘n swaarder straf kan kry.

RB ·

Hy is geen man nie!! Mans, regte mans in murg en been dòèn nie dit aan sy vrou nie, aan geen vrou òf kind nie.
‘n MAN beskerm sy vrou en kind/ers met sy lewe.

Kompas ·

Jy is ń ongelooflike vrou! Mag jy en jou seuns se toekoms net voorspoed en seën inhou.

Johan ·

Ek hoop die fonnis word hersien die man behoort nooit weer vrry rondloop nie.

Marius ·

‘n Man wat ‘n Vrou verbaal of fisies aanrand is nie ‘n Man nie maar ‘n muis.

Jack ·

Sjoe hierdie vroutjie verdien net soveel beter.Goeie hemel.Ek hoop die man wat haar so seergemaak het vrot erens in ‘n tronk.

Thelsa ·

Wat ‘n lafaard en uiters swak rolmodel vir sy kinders. Hoop hy brag daaroor by sy pelle as hulle ‘n ou biertjie knak

Fanus ·

Die vonnis van R20000 regverdig nie die smart, leed, pyn en vernedering wat Nicoleen moes deur gaan en verduur nie. Tronkstraf moes eerder toegepas word. Wat het van reg en geregtigheid geword?

De Villiers ·

Nicoleen, mag jy voorentoe net vreugde en geluk in jou lewe ondervind.

Jy en jou twee seuns is in my gebede!

Annelize ·

‘n Stywe klompie jare tronkstraf sou beslis meer gepas gewees het.

Mag hierdie net weereens aan vroue daar buite wys, jy LOOP as die eerste hou val, want daardie eerste hou, is die eerste van vele om te volg.

Chantel ·

Kyk neh, hy staan en maak soos ‘n wafferse boksertjie in een van die videos, ek sal darem maar baie daarvan hou, as HY deur ‘n regte bokse opge… kan word, maar ten aanskoue van ‘n klomp mense. Wonder dan of hy so BRAAF sal wees. HY IS SIEK.

Martin ·

‘n Opgeskorte 3 jaar vonnis en R20,000 boete is ‘n ligte straf vir hoe hy haar fisies en emosioneel aangerand het… Hy is ‘n lae klas mens om sy hand teen ‘n vrou te lig.

Di ·

DIT is die rede hoekom hierdie tipe misdaad NOOIT sal ophou nie! Klap op die hand en daar gaan jy. PATETIESE regstelsel

melaney ·

‘n BAIE goeie punt. Hulle antwoord is altyd “maar ek het hom lief”.

Kensy ·

As iemand vir Jaco ken.. vra hy moet bietjie sy naam google sodat hy bewus kan word oor sy gewildheid in die land!! lASB
Ek wens hy le vir die res van sy patetiese lewe saans wakker en dink aan sy lakbare gedrag… dit gaan ook sommer vir al die ander papbroeke wat hulle vroue en kinders mishandel!
Ek hoop julle weet dat sulke gedra dui op erenstige selfbeeld probleme.
Julle behoort nie eers diere te he nie!!!

Vonnis van R20 000.00 wat aan die staat betaal is?
Hoekom word daar nie vergoeding aan die slag offer betaal nie??
Hier is n wenk aan al die ander vroue wat mishandel word.. NEEM HOM OOP en versprei die video dwars oor die land!!!

Witbaard ·

Dis nou jammer dat hy nie gaan sit nie. Hy is die tipe wat veroorsaak dat alle mans as geweldsmisdadigers gesien word. Lafaard, loser!!!!!!

Vinny ·

my hart breek vir jou, want dis baie moeilik om uit so verhouding te ontsnap, want nie net isoleer die mans jou van almal nie, hulle maak jou ook afhanklik van hulle. ek is bly jy is weg van hom, net jammer die gemors kon nie tronk toe gaan vir sy eie medisyne nie, wat ‘n vark.

Swerwer ·

Wonder baie keer wanneer ‘n ligte vonnis opgelê word vir moord/aanranding met die doel om ernstig te beseer, daardie persoon wat die vonnis oplê nie partkeer ook skuldig is aan dieselfde tipe misdaad nie.

Toy ·

Sal hy so aan ‘n man slaan, ek glo nie, hy is BOELIE. Dit is waar seuns sien hoe om ‘n vrou te behandel, dit kan ‘n bose kringloop raak.

piet ·

Hy slaan haar al van 2007 af maar sy trou nogtans met hom in 2010. Nog iets wat ek nooit sal verstaan nie.

ronel ·

Piet, ongelukkig vang so tipe persoon ( en let op ek se nie man nie, want verhoudings geweld gaan beide kante toe in die wereld) sy/haar maat in n baie siek siklus, een waarin jy die mooi van iemand leer ken, en vir daai deel van die persoon lief word, en na elke aanranding of vorm van geweld wil jy graag glo dit was n ” once off” en as jy nie weer in dieselfde slag gat trap dit nie weer sal gebeur, jy stap deur daai verhouding , na elke uitbarsting met meer “slag gate” wat jy probeer vermei, dinge wat jy nie weer doen, of se, of aantrek, jy klou aan daai liefde jy vir die mooi deel van daai mens ontwikkel het. En baie gereeld, oortuig so persoon jou dat jou “commitment” soos met n troue bv die oplossing gaan wees vir hulle “insecurity issue” wat hulle laat uitbars en aanrand. Met tyd is daai verhouding jou vier mure, en jy kan nie jou weg daaruit sien om n nuwe lewe te begin,.. dit vat baie moed, baie tyd en baie hulp om uit so verhouding te stap en jouself weer heel te maak

Anonymouse ·

Ek ook nie. My suster in amper dieselfde posisie, gelukkig is dit nog nie fisies nie. Ek het al so baie keer haar gesmeek om weg te kom van hom, sy is die broodwinner so sy kan dit doen, maar daar is altyd verskonings. Dit is so frustrerend! Ek het besluit al wat ek kan doen is om daar te wees vir haar as sy my nodig het, maar dit gaan my verstand te bowe.

ronel ·

Iewers, diep in so n slagoffer se samestelling is die veronderstelling dat jy ” verantwoordelik” is vir die gedrag, en jy hou aan self ondersoek toepas om te probeer verstaan wat jy verkeerd doen om dit te laat gebeur, en glo my so aanvaller maak seker hy/sy oortuig jou daarvan dat daar n geldige rede is vir hulle gedrag en dat dit jou skuld is, en as dit nie werk dan oortuig hulle jou hulle is al persoon wat jou “verdra en lief het al is jy so onaanvaarbaar” en hulle maak ook seker hulle plaas jou in so n situasie emosioneel of finansieel, of beide dat jy geen ander opsie sien nie

LD ·

Miskien moet Amber Heard na die video’s kyk dan sal sy sien hoe lyk dit om abuse te word! Hoop die “man” besef hoe seer hy die arme vrou gemaak het, en hopelik vra hy om vergifnis, nie vir Nicoleen nie maar vir sy Skepper!

Ratel ·

Ek belowe jou dis klaar iewers die hoof gesprek om n groot tafel alice.

nikkel ·

Ek hoop hy betaal onderhoud vir haar en die seuns. Almal weet nou van sy laakbaarheid.
Hopelik sal vrouens ook nou kan weet waarin hulle begewe om ‘n verhouding met hom aan te knoop.
Straf was hopeloos te lig. Moes eerder gemeenskapdiens in lykshuise gekry het.
As hy ‘n behoefte aan geweld het, kan hy gerus eerder met mans groter as hy skoor soek.
Na ‘n paar goeie afranselings sal hy begin verstaan.
Hoop die woord oor sy laakbaarheid versprei wyd en vêr.

Vernon ·

…..pateet. Wonder of hy aan n man sal slaan….stuk gemors!!!

Annamarie ·

Hy begin met sy “siek-streke” in 2007, en dan trou jy 3 jaar later?? Agge Nee. Ek is bly jy het uiteindelik op gestaan vir jouself!!!

hpven ·

Nicoleen en ander vroue in dieselfde situasie, kry ‘n vroulike hokvegter om sulke mans ‘n paar goeie lewenslesse te leer….. Alle mans is gelukkig nie so, ons beskerm ons vrouens en kinders, sal selfs ons lewe gee vir hul veiligheid. Sterkte aan julle!

TRP ·

Kyk die lippetaal van die regering en die gereg stem nie ooreen, hierdie is ‘n skryende skande. Eers word dit van die rol geskrap en nou die klits op die hand…ons is op ons eie dames en kinders.

ditiswatekdink ·

My opinie is die volgende :
Kom ons versprei sy gesig deur die hele land.
Waar hy ook al werk kry, moet ons dit bekend maak. Indien hy weer n besigheid begin moet ons dit bekend maak.
Daar moet geen heenkome vir hom wees nie.
Kom ons kry hom op straat sonder enige uitkoms.
En indien enige persoon hom sien, verspry dit onmiddelik aan al jou FB vriende.
Kom Suid Afrika staan saam!

Bugsby ·

En die mans wat hulle vroue emosioneel en verbaal aanrand, kom niks oor nie, want daar is geen fisieke bewyse nie. Ons regstelsel faal ons almal op soveel gebiede.

Danie ·

Kry `n paar rowwe manne en laat hom goed verstaan wat vir hom voole as iets met Nicolien gebeur. Dis al wat effektief is. Die land saam met die MRK het menseregte verkrag.

Blikkies ·

Die Grootman, seker te bang om iemand van sy eie portuur en ‘n man aan te vat. Slapgat. Ek hoop die mense in daardie omgewing stop om sy besigheid te ondersteun.

Sêmanet ·

Op die een video word ander mense wat rondloop ook gewys. Wat het hulle daaraan gedoen? Net die ander pad gekyk? Hulle is seker bang vir hom.

Danie ·

Nicolene. Mag daar vir jou nou n pad vorentoe vol liefde en geluk wees, en weet alle mans is nie so nie. Die vonnis is nie voldoende nie maar sy soort sal weer en weer aanrand en dan sal daar n dag aanbreek wat hy wel tronk toe sal gaan en daar sal hy die lewe kry wat hy verdien en aan jou gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.