Niemand vervolg ná ongeluk wat pa, seuns eis

Jannie en JP Rossouw (Foto: Facebook)

Vier jaar nadat ʼn gru-motorongeluk die lewe van Pieter Rossouw (48) en sy twee jong seuns, Jannie (13) en JP (10), geëis het, is niemand nog in hegtenis geneem of vervolg nie.

Dít ondanks ʼn lasbrief wat vir Jabu Eric Mokwebo, die bestuurder van die tweede voertuig, se inhegtenisneming uitgereik is, en dat die polisie presies weet waar hy woon.

“Ons kan nie afsluiting kry nie. Ons wil antwoorde hê,” het Annali Connear, Rossouw se suster, vandeesweek aan Maroela Media gesê.

“Dit was ʼn baie ernstige ongeluk. Drie lewens is geneem en ander mense het ook in die ongeluk seergekry.”

Connear, wat in Thabazimbi woon, sê die ongeluk het hul hele familie se lewe omvergewerp – nie net het sy haar enigste en uiters geliefde sib verloor nie, maar ook kon Rossouw se dogter en gewese vrou nog nooit hul trauma en verlies verwerk nie. Dit het glo ook daartoe gelei dat die dogter, nou 19, skool op ʼn vroeë ouderdom verlaat en sedertdien ʼn moeilike pad gestap het.

“Dit is swaar vir hulle, hulle kan ook nie aanbeweeg met hul lewe nie.”

Pieter Rossouw (Foto: Verskaf)

Die pa en seuns het destyds onherkenbaar in hul Datsun-bakkie op die R33 naby Marble Hall verbrand nadat die bestuurder van ʼn Nissan Navara glo ʼn stopteken verontagsaam en teen hul voertuig gebots het.

Die Rossouws se bakkie het in ʼn kanaal langs die pad beland waarna die brandstoftenk ontplof het.

Die bestuurder van die Nissan Navara het van die toneel gevlug. Hy het hom egter die volgende dag by ʼn plaaslike polisiestasie aangemeld, waar hy aangevoer het dat hy tussen die skuilings langs die pad beland het, en dat niemand hom raakgesien het nie. Dié inligting is egter deur omstanders betwis, maar niks het in die afgelope vier jaar van die saak gekom nie.

“Dit maak ʼn mens kwaad dat hierdie ding nie opgelos kan word en daai man [Mokwebo] nie hof toe kan gaan nie. Ons wil net ʼn antwoord hê. Ons wil hê hy moet erken wat hy verkeerd gedoen het.”

Doodloopstrate

Connear, wat sedert haar broer en broerskinders se dood onverpoosd om geregtigheid veg, sê dit het vir haar begin voel of die polisie wil hê sy moet self die ondersoek doen en hulle dan met inligting help. Dit het sy toe ook gedoen.

Sy het Mokwebo se selfoonnommer, werk- en huisadres aan die speurder wat die saak ondersoek, ene Shato Ramalekana, gestuur. Dié het sy met haar eie hulpbronne opgespoor. Mokwebo is egter steeds op vrye voet. Sy het Ramalekana ook al verskeie kere oor die afgelope vier jaar gaan sien, hoewel dit ook nie klaring gebied het nie.

Die uitgebrande wrak van die voertuig waarin Pieter, Jannie en JP gery het. (Foto: Verskaf)

In ʼn WhatsApp-boodskap van die speurder, wat Maroela Media onder oë gehad het, sê hy aan Connear dat hy die lasbrief vir Mokwebo se inhegtenisneming het en die nommer gebel het wat aan hom gegee is. Die man het glo aan Ramalekana gesê dis die verkeerde nommer.

“Ek sal hom volgende week gaan soek by die adres wat jy vir my gegee het, en jy kan my ook help om hom op te spoor. Ek wil hom nou in hegtenis neem, want hy speel wegkruipertjie,” lui dié boodskap op 13 Mei 2022.

Connear het sedertdien nog niks weer van Ramalekana gehoor nie.

Ramalekana het by navraag aan Maroela Media gesê dat hy die saak steeds ondersoek.

“Die lasbrief is steeds geldig, ek soek net bystand om hom in hegtenis te neem,” het hy gesê.

Maroela Media het Ramalekana gevra wat sy rang is, maar hy het nie geantwoord nie.

Flip Jacobs, ʼn DA-raadslid in Marble Hall, probeer ook om Connear in die saak by te staan, maar volgens Connear kry Jacobs net so min inligting en samewerking van die polisie.

Connear het tot al by die polisie op Thabazimbi om hulp aangeklop om die saak op te volg.

“Dis asof dit net doodloop of toegesmeer word. Ek vermoed die ou [verdagte] is invloedryk in die Limpopo-streek en daarom gebeur daar niks nie.”

Die provinsiale polisiewoordvoerders het nog nie op Maroela Media se navrae in verband met die ondersoek reageer nie.

‘Eie mate van afsluiting’

Connear sê hulle het Rossouw, Jannie en JP se as op 15 Desember verlede jaar op dieselfde plek begrawe waar Connear en Rossouw se ouers ter ruste gelê is. Die as was tot dié tyd nog by Rossouw se gewese vrou en die ma van sy kinders.

Die vrou en haar dogter het intussen ook nader aan Connear verhuis en die skoonsusters sien mekaar gereeld.

Hulle het die as juis daar by Rossouw se ouers begrawe om hul eie mate van berusting te vind.

Connear sal haar broer altyd onthou as iemand wat enigiets vir sy medemens sou doen en sy sê dat sy seuns elk ʼn uiters belowende toekoms gehad het.

Hulle hoop steeds dat geregtigheid tog sal geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

Hierdie is nie ‘n tragiese uitsondering nie maar het die norm geword omrede wetstoepassing tot niet gaan en die land gelei word deur ‘n regering wat se prioriteite nie reg is nie.

Papsak ·

Dit is so tragies wreed dood maar niemand nog gevang nie hoe werk die koppe nou mmm

Roek ·

Ek hoop regtig dat u ‘n eis ingestel het teen die padongeluke fonds, dit bring nie jou geliefdes terug nie maar kom die verlies aan inkomste jou toe !

Roek ·

Daar moes seker al teen die tyd ‘n geregtelike doodsondersoek plaas gevind het !!

Amelia ·

Seker stem hy anc ditis so onregverdig dat sommiges weg kom met “moord ” maar vir ander is vir die geringste tronk toe ag in hierdie land is soveel onreg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.