Nóg aanklagte teen oudpolisielid wat skoolseuns glo seksueel aanrand

(Argieffoto)

ʼn Afgetrede polisielid (56) verskyn Donderdag weer in die Zeerust-landdroshof vir ʼn beweerde verkragting wat in 2015 tydens ʼn skoolsporttoer in Kroonstad in die Vrystaat gepleeg is. Hy staan tereg op aanklagte van poging tot verkragting, seksuele aanranding, ontbloting, seksuele gereedmaking en die besit van pornografiese materiaal.

Die beskuldigde het sy vrou, ʼn sportafrigter, destyds tydens die toernooi vergesel. Die slagoffer, toe ʼn 13-jarige seun, het nie ʼn woord oor die beweerde misbruik gerep tot Augustus vanjaar, toe hy selfmoord probeer pleeg het nie, het lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê.

“Tydens sy behandeling het die slagoffer, nou 18 jaar oud, vir die eerste keer onthul dat die beskuldigde hom glo verkrag het. ʼn Saak van verkragting is aanhangig gemaak. Die beskuldigde is in hegtenis geneem en het op 25 Augustus in die Kroonstad-landdroshof verskyn. Hy is vrygelaat op borgtog van R5 000,” het sy gesê.

Hy verskyn weer op 15 Oktober in die Kroonstad-landdroshof in verband met dié aanklag.

Funani het gesê nadat die jong man oor die beweerde voorval gepraat het, het nog twee beweerde slagoffers na vore gekom.

Een van hulle is nou ʼn 20-jarige man. Hy voer aan hy was in 2014 ʼn 14-jarige gr. 8-leerder by ʼn plaaslike hoërskool toe die beskuldigde hom bevriend het. Die beskuldigde se vrou was ʼn onderwyseres by die skool.

“Die beskuldigde het die slagoffer glo by verskeie geleenthede genader en onvanpas aan hom gevat en hom probeer verkrag,” het Funani gesê.

Die slagoffer het die voorval ook in Augustus vanjaar aangemeld.

“Ná die aanvanklike polisieondersoek is ʼn lasbrief bekom om die beskuldigde se huis te deursoek en is daar beslag gelê op pornografiese materiaal.”

Die derde slagoffer, nou 39, het op 30 Augustus aangemeld dat die beskuldigde hom in 1998 seksueel misbruik het.

“Die slagoffer, wat destyds 16 jaar oud was, beweer die beskuldigde het hom by ʼn huispartytjie gevolg. Die beskuldigde het hom later in ʼn vertrek ingeneem waar hy glo seksueel misbruik is,” het Funani gesê.

Vir dié beweerde voorval het die beskuldigde verlede maand in die hof op Zeerust verskyn. Hy is vrygelaat op borgtog van R15 000.

Die provinsiale polisiehoof in Noordwes, lt.genl. Sello Kwena, het die ondersoekbeampte, ao. Hein Rabe, verbonde aan die Lehurutshe- eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings vir die deurbraak geloof.

Hy het ook ʼn beroep op enige ander vermeende slagoffers gedoen om na vore te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Belinda ·

Ek kook behoorlik. Mens kan net nie glo of dink dat niemand agterkom nie. Dit is moeilik, maar o vader so kind se gedrag verander dadelik en jy kan mos sien, almal propbeer wegkom van jou man af, of voer jy opdragte uit. As verdomde verkragters net om hul kyk sal hul al die bereidwilliges sien. Kyk om julle watter skade jul aan daardie kinders doen.

Sage ·

En hoe moet slagoffers na vore kom in hierdie saak as niemand weet wat die man se naam is nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.