Nóg British Airways vlugte na Kaapstad

British Airways (Foto: Verskaf)

British Airways het Donderdag aangekondig hy gaan sy vlugte tussen Heathrow en Kaapstad vanaf Januarie volgende jaar met nog drie vlugte uitbrei. Dit volg na dié lugdiens verlede week aangekondig het hy gaan sy aantal vlugte tussen Gatwick-lughawe en Kaapstad na vyf vlugte per week verhoog.

Christina Graham, British Airways se kommersiële bestuurder vir Suider-Afrika, het gesê die roete van Londen na Kaapstad is een van gewildste roetes in die lugdiens se netwerk. “Dit is omrede inwoners van die Noordelike Halfrond reeds vroeg in die jaar die koue vir sonnige weer wil verruil,” sê die lugredery

“Die bykomende vlugte is goeie nuus vir inwoners van die Moederstad wat verskillende tye dwarsdeur die jaar na die Verenigde Koninkryk, Europa en die Verenigde State van Amerika wil reis. Die bykomende dienste bied vir dié reisigers meer vlugte om uit te kies,” sê Cristina Graham, woordvoerder van die lugredery.

British Airways is die enigste lugdiens wat dwarsdeur die jaar direkte vlugte tussen Londen en die Moederstad bied. Buiten die 19 vlugte na Kaapstad is daar ook twee daaglikse vlugte van Londen na Johannesburg en drie vlugte per week na Durban.

Die lugdiens beoog om ʼn totaal van 100 nuwe vlugte oor die volgende vyf jaar in te stel.

“British Airways wil ook sy langafstandkajuite opknap sodat dit nuut lyk en voel. Dit sluit die Boeing 777-vloot by Gatwick in. Die lugredery het sy wagkamer by die OR Tambo-lughawe reeds herontwerp en aansienlik opgeknap sodat dit 247 mense met gemak kan akkommodeer en ʼn boetiek-eetarea insluit,” sê Graham.

Die bykomende vlugte tussen Heathrow en Kaapstad sal tussen 30 Maart tot 19 April 2021 in werking gestel word.

Dit terwyl die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ʼn rits binnelandse vlugte gekanselleer of saamgevoeg het, weens die lae aanvraag in kaartjiebesprekings vir Februarie. Dié besluit is geneem as deel van ’n strategie om fondse te bespaar nadat die sukkelende lugredery verlede jaar in sakeredding geplaas is.

Die SAL se sakereddingspraktisyns het sowat twee weke gelede aangekondig die lugdiens sal van 1 Maart alle plaaslike vlugte vir Durban, Oos-Londen en Port Elizabeth staak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Snowball ·

Die een se dood is die ander se brood…
BA staan vir bakgat.

Scalla ·

Die verskil le in kundigheid , kwaliteit en eerlike bestuur.

Niklaas ·

Nog net een keer gevlieg met hulle (BA) en was nogal beïndruk . Ek dink hul bestuur die besigheid korrek met deeglik opgeleide personeel . Sonder teveel staat inmenging en kundiges het sleutel poste daar. Dan kan dinge mos werk. Oor die spul by SAL sê ek liewers nie ‘n woord nie.

Johanncb ·

BA is besig om SAL behoorlik ore aan te sit! Hulle wys Suid-Afrika hóé om ‘n ekonomie te bedryf!

Chris ·

Ek sit tussen twee gedagtes oor BA se betrokkenheid, en soos met baie ander gebeure wat onder ons neuse plaasvind. Afgesien van die deel van ons geskiedenis wat aan die Britte toegeskryf kan word, kom die vraag by my op. Waarom is oa die Britte en Duitsers so skielik hand om die blaas met die regime. Die Duitsers nie so seer nie, maar die Britte wel. Het die Britte nie die huidige regime se meelopers gehuisves en ondersteun nie. Het die Britte se Trevor Huddleston nie die Anti Apartheid organisasie begin nie. Het die agterryer Peter Hain nie ook sy bek altyd uitgewas nie. Wat volgens my tans aan die gebeur is, die “vriendelike” land is hier, of kom terug om hul pond vleis te kom eis. Dit dui slegs daarop dat of die Duitsers of die Britte stadig maar seker besig is om ons weer te kolonialiseer. Ongelukkig gaan die Afrikaner in die slag bly. (Ek het nie probleem met die Duister nie)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.