Nóg dalk gou aangekeer vir moord op Papapavlou

Simone Papapavlou en Patricia Lee Smith Maandag in die hooggeregshof in Polokwane. (Foto: Verskaf)

Nóg verdagtes kan moontlik in hegtenis geneem word vir die moord op die Limpopo-plaasvoorman Raymond Papapavlou.

Papapavlou se vrou, Simone, en haar destydse beweerde minnares, Patricia Lee Smith, het Maandag – meer as twee jaar ná die moord – by die hooggeregshof in Polokwane aangemeld om verhoor te word.

Die verhoor is egter vanoggend met meer as ses maande uitgestel nog voordat dit kon begin.

Adv. André van der Kooi het aangedui dat die staat nog nie gereed is om sy saak te stel nie aangesien daar moontlik nog inhegtenisnemings kan plaasvind. Die verhoor sal nou na verwagting einde Julie tot middel Augustus volgende jaar plaasvind.

Die saak is reeds verlede jaar tot die spyt van Papapavlou se naasbestaandes vir meer as ’n jaar uitgestel.

Patricia Lee Smith en haar pa, Martin, buite die hof. (Foto: Maroela Media)

Simone en Patricia het vanoggend langs mekaar in die hof gesit en wag vir die verrigtinge om te begin voordat hulle vlugtig saam in die beskuldigdebank ingeskuif het. Die twee vroue het egter elkeen haar eie regsverteenwoordiger en het ná die verrigtinge elkeen haar eie rigting ingeslaan.

Simone se borgtogvoorwaardes is vanoggend aangepas. Die landdroshof op Groblersdal het aanvanklik gelas dat Simone tot die datum van haar verhoor by haar ouers op Bronkhorstspruit tuisgaan en nie die omgewing verlaat nie. Dié voorwaarde is egter vanoggend geskrap en vervang met die voorwaarde dat sy nie aansoek om ʼn paspoort doen nie en nie nader as een kilometer van ʼn grenspos mag kom nie.

Simone en Patricia word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om Papapavlou te vermoor en dit soos ʼn moontlike plaasaanval te laat lyk. Hulle was glo ten tyde van die moord in ʼn romantiese verhouding betrokke.

Patricia was aanvanklik die enigste aangekeerde in die saak nadat Simone se man se liggaam in Oktober 2020 in die vroeë oggendure met verskeie skietwonde in sy plaashuis tussen Stofberg en Groblersdal in Limpopo aangetref is.

Raymond Papapavlou (Foto: Facebook)

Simone is egter maande later in hegtenis geneem.

Daarna is Paulinah Mamolope Tseka en Calvin Tseka, ʼn ma en seun, enkele maande gelede ook in verband met die moord in hegtenis geneem.

Dié twee word daarvan beskuldig dat hulle ook ’n aandeel in Papapavlou se moord gehad het en sal na verwagting mettertyd saam met Simone en Patricia in die hooggeregshof verskyn.

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die saak hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Danie ·

As dit nie geld is dan is dit n driekoek skandaal.Plaasmoorde n gevoelige saak in SA. Dan is dit deur n skandelike spulletjie uitgebuit en geflop.Wat n belediging vir ons volk.

Perdeby ·

Saam gesweer, en nou het die pap suur geword. Hoekom hulle dit doen sal gin mens weet nie. Skei is mos die logiese oplossing! Jy gaan uit gevang word!

Veritas ·

Dis nie die eerste keer wat ‘n liefdes driehoek in so ‘n gemors eindig nie, Dis so oud soos tyd en dit sal ook nie laaste keer wees nie. Tog praat u die waarheid. Ek dink tog mense kyk te veel CSI en die crime kanaal op DSTV. Ek dink baie mense dink polisie manne en vroue is dom, en voeg daartoe by sel foon rekords / bewyse, en die prentjie lyk vandag heeltemal anders as slegs 20 jaar terug.

Hennie ·

Die wiele van geregtigheid draai maar staaaaadig in ons ou landjie!

Willempie ·

Ons het nie ń regstelsel nie, eerder ń rekstelsel. Alles word uitgerek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.