Nog een in boeie oor VBS-skandaal

Die Valke het nog ’n inhegtenisneming gemaak as deel van sy ondersoek na die sogenaamde VBS-skandaal.

Die verdagte is Dinsdag in Klerksdorp in Noordwes in hegtenis geneem nadat hy of sy destyds glo fondse van die Mahikeng- plaaslike munisipaliteit by die omstrede VBS Mutual Bank belê het en in die proses vergoeding daarvoor ontvang het.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê die betrokke verdagte het na bewering tussen 2017 en 2018 vergoeding ontvang in die vorm van krediet ten bedrae van meer as R1,2 miljoen vir die aankoop van twee motors en ’n eiendom in Klerksdorp.

Die naam van die verdagte is nog nie bekend nie.

Die verdagte verskyn Woensdag in die Mahikeng-streekhof op aanklagte van oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite.

Minstens R92 miljoen van belastingbetalers in Mahikeng se geld is destyds in stryd met die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur by die VBS belê.

Mahikeng is een van die 20 munisipaliteite wat munisipale fondse by die omstrede bank belê het. Slegs R7 miljoen van die R92 miljoen is egter aan dié munisipaliteit terugbetaal.

Maroela Media het vroeër berig die Openbare Beskermer (OB) het verlede maand ná ’n ondersoek bevind dat die beleggings wat sommige munisipaliteite, waaronder Mahikeng, by die nou gelikwideerde VBS Bank gemaak het, onregmatig was.

“Die ondersoek het bevestig dat die geïmpliseerde munisipaliteite onregmatig staatsgeld by VBS belê het,” het adv. Busisiwe Mkhwebane destyds bevind.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het al vroeër aangedui dat munisipale amptenare se koppe volgende gaan rol nadat die hoofrolspelers in die ondersoek na die plundering van die VBS aangekeer is.

Sowat R2,3 miljard is na bewering binne twee jaar uit die VBS-bank se fondse getap.

Minstens 11 ander verdagtes staan reeds tereg op aanklagte wat verband hou met die grootskaalse plundery van die bank terwyl die voormalige finansiële hoof van VBS-bank, Phillip Truter, tien jaar tronkstraf opgelê is nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

JM ·

Philip Truter het skuld beken en is tronkstraf opgelê. Waarom is die res nog nie gestraf nie? Het ras iets daarmee te doen? Sake neem jare voor dit afgehandel word – indien ooit!

Sobymykoolkop ·

Philip Truter weet hy is skuldig. Hy gaan al uit wees as hierdie saak nog ver van sy einde af is. Hy kan dan seker nog probeer iets bymekaar maak vir sy oudag( as hy nie reeds genoeg “gebêre het nie. )Dink nie hy wil sy straf eers na 5 of 10 jaar van nou af begin uitdien nie.

Cherokee ·

Skulderkenning is wat daarmee te doen het, JM. Dit is tog logies.

marius ·

Waneer gaan julle Poloniekwane toe met jul boeie ? Te bang !

Cherokee ·

..en Carletonville. Ek neig te onthou dat Carletonville ook geld weggegee het.

Johann ·

Totdat, soos en wanneer die ROOIPET brigade aangekeer word…is dit nie noodwendig geregtigheid wat geskied nie.

Elize ·

Die voormalige finansiële hoof van VBS-bank, Phillip Truter, tien jaar tronkstraf opgelê is nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery.

Miskien het ras iets daarmee te doen. Hy het skuld erken, aanvaar verantwoordelikheid en dien sy straf uit terwyl die ander nog rondskarrel en elke loophole gebruik om los te kom.

Cherokee ·

Elize, ek het 3 keer gelees waar jy sê ‘miskien het ras daarmee te doen’. Toe kliek dit wat jy sê en ek besef, ja.. miskien hèt ras daarmee te doen. Soos koolkop ook sê, logika.

Jacobus ·

Mr Mtethwa sou baie bekommerd wees oor die demografie van die aangeklaagdes. Soos met Bosassa is net een “demografie” voortdurend in die kollig.

Tokkel ·

Hulle dink hulle het gevorder…….met Truter se skulderkenning en dat hy nou in die tronk is…
Wonder of hulle wag vir die ander om ook skulderkenning te doen en hul werk makliker vir hulself te maak….

Susan ·

Ja, ek wonder wanneer kom Malema en sy trawante aan die beurt, daar is mos nou al genoeg bewyse dat hulle voor in die koor was met ontvangs van fondse, maar om een of ander duistere rede loop hulle nog breebors vry rond en is daagliks nog besig om instansies af te dreig of om op te daag deur middel van betogings en eise wat hulle stel!? Tussen die Zumas en Malemas is ons regstelsel werklikwaar ‘n grap!

My siening ·

Wat van EFF 3 wat nog strooi verkondig maar nie vir korrupsie aangekla word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.