Nog inhegtenisnemings in Thabo Bester-saak verwag

Deur Marecia Damons, Daniel Steyn en Becker Semela, GroundUp

Die ouers van die man wie se liggaam vermoedelik in Thabo Bester se sel gevind is. Van links na regs: Patricia Kopane (provinsiale voorsitter van Action SA), Monica Matsie (Katlego Bereng se ma) en Batho Mpholo (Katlego Bereng se pa). (Foto: Becker Semela)

Die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester wat saam met agt medebeskuldigdes vervolg word vir sy ontsnapping uit gevangenskap, het Dinsdag weer in die hof verskyn.

Bester het aanlyn in die Kgosi Mampuru-tronk in Pretoria in die hof verskyn.

Sy regsverteenwoordiger, adv. Jeremiah Pela, het die hof gevra dat hy en Tsireledzo Ndou hulle aan die saak onttrek, aangesien hulle self deur strafregtelike aanklagte in die gesig staar gestaar word. Newzroom Africa berig dat Ndou vervolg word vir poging tot verkragting en aanranding, terwyl Pela tereg staan op aanklagte van korrupsie.

Bester se nuwe advokaat sal Kabelo Matee wees.

Staatsaanklaer Sello Matlhoko het tydens die verskyning in die Bloemfonteinse landdroshof gesê dat daar na verwagting nog drie inhegtenisnemings gemaak gaan word.

Volgens Matlhoko word selfoonrekords en bankstate nog ontleed en moet die beëdigde verklarings nog van twee getuies geneem word voordat die inhegtenisnemings gedoen kan word.

Diegene wat tans vervolg word vir hul beweerde betrokkenheid by Bester se ontsnapping uit die Mangaung-gevangenis verlede jaar sluit in Bester se vriendin dr. Nandipha Magudumana; haar pa, Zolile Sekeleni; voormalige werknemers van die Mangaung-gevangenis, Senohe Matsoara, Monteyani Masukela, Tieho Makhotsa en Nastassja Jansen; en Teboho Lipholo, ʼn voormalige werknemer van die kringtelevisiediensverskaffer Integriton Security Solutions. ʼn Negende beskuldigde, Zanda Moyo, is verlede week by die lys gevoeg.

Thabo Bester in die hof (April 2023) (Foto: AFP)

Sekeleni se regsverteenwoordiger het die hof gevra of sy kliënt, wat tans op borgtog vrygelaat is, van die volgende hofverskyning verskoon kan word omdat hy baie ver van die hof af woon.

Die staat het nie die versoek teengestaan nie, maar landdros Mohlolo Khabisi het die versoek nietemin van die hand gewys.

Jansen is ook op borgtog vrygelaat, terwyl die ander beskuldigdes in aanhouding bly.

Die saak is Dinsdag tot 8 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek.

Terwyl die saak aangehoor is, het ʼn paar voormalige G4S-werknemers na die Mangaung-gevangenis opgeruk. Die betogers het gesê hulle wil hê die departement van korrektiewe dienste moet as die bewaarder van die gevangenis die G4S-bestuur aanspreeklik hou vir die ontsnapping.

Die betogers het verder geëis dat die kontrak met G4S vinnig beëindig moet word sodat die gevangenis weer volkome in die departement se hande kan wees.

Morui Mphou, organiseerder van die protes en oudwerker, het gesê G4S het versuim om verantwoordelikheid te aanvaar vir sy mislukkings in die Thabo Bester-ontsnappingsaak en in ander veiligheidsvoorvalle by die gevangenis.

Die groep het ʼn memorandum voorberei om aan een van die departement se verteenwoordigers te oorhandig, maar niemand was by die gevangenis om dit te ontvang nie.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Omdat hy te vêr bly wil hy nie hof toe nie. Maar, my. Gaan dan selle toe. Dan is jy mos sommer by die hof. En daar is baie tyd om daar te kon, van nou tot 8 Augustus is baie tyd. Tensy die een ook land uit gevlug het!!!!

Amelia ·

hier is baie mense betrokke waar het hy bv meer as 8miljoen gekry om te bank terwyl hy nog in selle is waar kom geld vanddaan vir n huis v 12miljoen en dan nog diekarre nee hier is n paar slange in gras

Wondermaarnet ·

Almal speel weer vir tyd. Onttrek, stel nuwe regsverteenwoordigers aan, hulle bedank na 2 jaan en weer word nuwes aangestel en so sloer als soos met zumpie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.