‘Nog jare’ voor Gupta-broers in SA land

Argieffoto van Atul Gupta. (Foto: AFP)

Dit sal na verwagting jare neem voordat Atul en Rajesh Gupta hul voete in Suid-Afrika sit om op tuisbodem pa te staan vir hul beweerde aandeel in staatskaping. Dit is dan boonop maar die begin van ’n bittere regstryd wat selfs nóg langer kan duur. Indien die proses wel korrek uitgevoer en die broers behoorlik vervolg word, kan hulle moontlike vonnisse van “honderde jare” opgelê word.

Só meen regskenners nadat die berugte broers eindelik in Doebai in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) aangekeer is. Atul en Rajesh sal nou aan Suid-Afrika uitgelewer moet word.

“Uitlewering is wêreldwyd ’n langdurige proses. Die Guptas se geval is nie uniek nie. Dit kan jare neem voordat hulle fisiek in Suid-Afrika is,” verduidelik adv. JJ du Toit, voormalige adjunk‑direkteur van openbare vervolging in Johannesburg. Dan volg ʼn bittere regstryd wat tot ‘n dekade kan duur.

Só sal regsproses nou vir Guptas verloop

Strafregkenner Llewellyn Curlewis verduidelik dat die VAE se strafproses wesenlik van dié van Suid-Afrika verskil. ’n Verdagte moet egter ingevolge die Emirate se strafproses nes in Suid-Afrika binne 48 uur sedert sy of haar inhegtenisneming in die hof verskyn.

Volgens Abdullah bin Sultan bin Awad Al Nuaimi, die minister van justisie in VAE, is Atul en Rajesh reeds op 2 Junie in dié land in hegtenis geneem. Die broers sal waarskynlik aansoek om borgtog kan doen.

“Indien borgtog toegestaan word, word hulle vrygelaat hangende ’n beslissing oor hul uitlewering,” verduidelik Curlewis.

Hy is egter bekommerd oor die proses wat daarna volg.

Argieffoto van Atul Gupta. (Foto: AFP)

Du Toit verduidelik dat Suid-Afrika eers ’n aansoek vir die voorlopige inhegtenisneming en uitlewering van die broers sal moet bring. Die aanklagte teen die broers moet in die aansoek kortliks aangedui word, sodat die owerhede in VAE die broers namens Suid-Afrika formeel in hegtenis kan neem.

Dit is nie duidelik of die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) al dié aansoek gebring het nie.

Suid-Afrika het dan ingevolge ’n verdrag wat hy in 2019 met die VAE onderteken het 60 dae om ’n formele aansoek vir uitlewering in te dien. Die Suid-Afrikaanse regering se saak (die klagtes waarop hul teregstaan en al die nodige feite) teen die Guptas sal volledig in die aansoek uiteengesit moet word.

“Dit is ʼn proses op sy eie,” verduidelik Curlewis, wat wel bekommerd is dat Suid-Afrika nie die sperdatum gaan haal nie aangesien dit drie maande geneem het om die broers se vingerafdrukke aan Doebai te verskaf, volgens ʼn berig deur eNCA.

Sou die formele aansoek wel betyds ingedien word, sal die Guptas weer in ’n hof in die vreemde verskyn en die aansoek formeel aan hulle oorhandig word. “Hul regspan sal dan moet aandui of hulle die aansoek gaan teenstaan of nie.”

Argieffoto van ‘n betoging teen die Guptas. (2018) (Foto: MARCO LONGARI / AFP)

’n Voorsittende regter sal eers die saak in die VAE aanhoor voordat daar besluit kan word of hulle na Suid-Afrika uitgelewer gaan word of nie. ’n Regsverteenwoordiger van die departement van justisie in die VAE sal Suid-Afrika in dié saak verteenwoordig.

“Uitlewering is nie verhoor nie. Maar dit is nodig om vas te stel of daar wel ’n saak teen die betrokke verdagtes is. Die persoon moet beskerm word, maak nie saak wie hulle is nie,” verduidelik Du Toit.

Maar selfs al bevind die regter die Guptas uitlewerbaar, beteken dit steeds nie dat hulle daar en dan uitgelewer sal word nie. “’n Politieke besluit word dan eers geneem,” verduidelik Du Toit.

Die minister van justisie van die VAE moet ook die aansoek oorweeg en toestem tot die uitlewering. Daar kan ook op enige van die moontlike scenario’s appèl aangeteken word.

Curlewis is boonop oortuig daarvan dat die Guptas, nes oudpres. Jacob Zuma, elke vertragingstaktiek in die boek sal probeer om nie na Suid-Afrika uitgelewer te word nie.

“Die Guptas is natuurlik geregtig daarop om die wettigheid van hul uitlewering te betwis. Hulle gaan die beste moontlike regspan kry en probeer sloer. Dit is in hulle belang om vir tyd te speel.”

Uitgelewer. Wat nou?

Curlewis sê indien die broers na Suid-Afrika uitgelewer word, sal die polisie hulle van Doebai op ’n vlug na OR Tambo Internasionale Lughawe vergesel. Hulle sal dan na die naaste landdroshof – waarskynlik die een in Kempton Park – geneem word waar hulle formeel van bedrog, geldwassery en korrupsie aangekla sal word, voordat die saak na die hooggeregshof oorgeplaas word vir ’n verhoordatum.

“Ek dink nie ons gaan binne twee jaar ʼn verhoordatum kan kry nie.

En vervolging?

Du Toit en Curlewis glo egter Atul en Rajesh kán suksesvol op tuisbodem vervolg word. “Wanneer hulle eindelik hier aankom, sal die NVG in ’n posisie wees om hulle voor die hof te daag. Hulle sal ’n regverdige verhoor kry. Ek is oortuig daarvan,” sê Du Toit.

Volgens hom maak Suid-Afrika se strafproseswet voorsiening vir ’n minimum vonnis van 15 jaar direkte tronkstraf, sou ’n verdagte skuldig bevind word aan bedrog of korrupsie ten bedrae van meer as R500 000.

Maroela Media het vroeër berig die broers word verbind met die R25 miljoen-saak rakende Nulane Investments wat in Junie weer in die Bloemfonteinse hooggeregshof aangehoor sal word. Dié saak hou verband met beweerde tenderbedrog ten bedrae van R24,9 miljoen wat tussen November 2011 en April 2012 deur die Vrystaatse departement van landbou aan Nulane betaal is.

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

Sodra hulle in Suid-Afrika aankom, sal ander klagte van bedrog en staatskaping, waarmee hulle glo verbind word, waarskynlik ook teen hulle gebring word.

Versagtende of verswarende omstandighede sal wel ’n rol speel sou daar eindelik oor ’n vonnis vir die broers besluit word.

Curlewis vermoed Atul en Rajesh sal waarskynlik lewenslank tronk toe gestuur word vir hul aandeel in die R25 miljoen-saak. “Die hof gaan moontlik voorbeeld van hulle maak, maar dit gaan niks minder as vyf tot sewe jaar neem om hulle suksesvol te vervolg nie en ook net as die NVG al sy aandag daarop fokus.”

Selfs dan kan die broers appèl aanteken en hulle na verskeie howe wend.

Curlewis sê egter daar is geen twyfel aan die erns van die aanklagte wat hulle in die gesig gaan staar wanneer hulle in Suid-Afrika aankom nie. “Ons praat hier van 15 tot 20 jaar tronkstraf per aanklagte. Ek sal nie verbaas wees indien hulle aan die einde van die dag honderde jare tronkstraf opgelê word nie.

“Hulle gaan nie maklik weer die buitekant van ʼn tronk sien nie. Maar ons moet eers op daardie punt kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.