Nóg klagte teen ‘vakansieswendelaar’

Adv. Russel Schorn, vir die verdediging, prokureur Tracey Lomax, en die beskuldigde Francois Swart, in die Modimolle-landdroshof. (Foto: Verskaf)

Net enkele dae voor Francois Swart, eienaar van Priority Escapes, se verskyning in die Modimolle-landdroshof, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid nog ’n voornemende vakansieganger gehelp om ’n strafregtelike klag teen Swart in te dien.

Ruan Kruger het Woensdag die klag by die Douglasdale-polisiestasie ingedien.

Dít terwyl Swart Vrydag weer in die landdroshof op Modimolle verskyn het in verband met klagte wat in Augustus verlede jaar op dié dorp teen hom aanhangig gemaak is.

Swart het na bewering verskeie voornemende vakansiegangers uit honderdduisende rande geswendel. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig nou talle klaers wat strafregtelike klagte teen Swart ingedien het.

Die staatsaanklaer het die hof Vrydag om uitstel gevra sodat die polisie die ondersoek kan afhandel. Sekere bankstate moet onder meer nog verkry word.

Tydens die eenheid se beraadslaging met klaers is persone na aan Swart ook as moontlike verdagtes geïdentifiseer, lui ʼn verklaring van die privaatvervolgingseenheid.

“By die hof het die privaatvervolgingseenheid ook ’n ernstige leemte in die hof se sekerheid waargeneem. Dit sal aangemeld word by die hofbestuurder en die hooflanddros se kantoor. Swart en sy prokureur het in die terrein parkeer wat gereserveer is vir werknemers van die departement van justisie en het ook die hof binnegegaan sonder om deur die nodige sekerheidsproses te gaan waaraan almal andersins onderwerp is.

“Hulle het later op dieselfde wyse die hof verlaat ten spyte daarvan dat die privaatvervolgingseenheid sy kommer hieroor teenoor sekerheidspersoneel te kenne gegee het,” lui die verklaring.

Die eenheid sê daar word van “gewone lede” van die publiek vereis om die sekerheidsregister in te vul, hul sakke word deursoek en hulle word ondersoek voordat hulle by die gebou mag ingaan.

“Swart, as ’n beskuldigde, en sy prokureur het hierdie proses heeltemal omseil. Hierdie voorval het kommer laat ontstaan dat sekere beskuldigde persone sekere voorregte het wat nie aan gewone lede van die publiek toegestaan word wanneer hulle hofverrigtinge bywoon nie.”

Die saak word weer in April hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.