Nog moordklagte teen Werner De Jager

Werner de Jager, Liezel de Jager, hof, moord, Amanzimtoti, Action Society

Werner de Jager. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Dit is nie meer bloot ’n gerug dat ’n tweede verdagte in die moord op ds. Liezel de Jager in hegtenis geneem gaan word nie.

Só het die Amanzimtoti-landdroshof Maandag gehoor tydens slotbetoë in die borgtogaansoek van Werner de Jager (45)  – Liezel se wewenaar wat nou die hoofverdagte in haar moord is.

De Jager sal ook binnekort aangekla en in hegtenis geneem word op nog twee aanklagte van moord in verband met die motorongeluk verlede jaar op die N1-snelweg naby Kroonstad waartydens twee vroue gesterf het.

Dié klagte sou aanvanklik strafbare manslag wees, maar die direkteur van openbare vervolging (DVO) het reeds beslis dat dit na ʼn moordklag aangepas moet word.

Gayle Greyling, staatsaanklaer, het Maandag die hof meegedeel van die DVO se beslissing.

“Die besluit dat hy [in verband met die nuwe aanklagte] in hegtenis geneem moet word, is reeds geneem. Daar sal hierdie komende Donderdag ʼn vergadering wees om te reël dat die saak van die Vrystaat na KwaZulu-Natal oorgeplaas kan word om onder die jurisdiksie van daardie provinsie se howe vervolg te word … en ʼn tweede inhegtenisneming is nie meer net beweringe nie. Dit sal ook tydens Donderdag se vergadering bespreek word,” het Greyling gesê.

Werner de Jager, Liezel de Jager, hof, moord, Amanzimtoti, Action Society

Werner de Jager kom Maandag by die landdroshof op Amanzimtoti aan. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Luidens die DVO-besluit het De Jager, ten spyte daarvan dat hy geweet het hy ly aan breinfloutes, steeds agter die stuur van ʼn motor geklim. Dié besluit het die lewens van Berniece en Linda Cornelia Eales geëis.

Volgens Greyling het De Jager erken hy sukkel met breinfloutes en om gebeure te onthou. “Hy moes voorkomend opgetree en nie bestuur het as hy geweet het hy sukkel met breinfloutes nie, maar tog het hy daardie dag [13 April 2023] roekeloos en nalatig bestuur.”

Verder voer die staat aan De Jager het die moord op Liezel haarfyn beplan nadat hy verskeie lewenspolisse in haar naam uitgeneem en ook haar testament gewysig het sodat hy die enigste begunstigde sou wees.

“Die staat sal ook later bewys dat die applikant [De Jager] die moord só beplan het sodat hy kon voortgaan  – ten spyte van die publiek se verontwaardiging oor die moord – met sy intieme verhouding met ʼn ander man,” sê Greyling.

Sy het by die hof gepleit om nie borgtog aan De Jager toe te staan nie.

“Die hof, die staat, en die polisie, ons is almal hier om die stem vir Liezel te wees.”

Greyling het ook in die hof onthul dat De Jager selfdood oorweeg het in die Westville-gevangenis waar hy aangehou word.

Volgens Greyling het De Jager onwetend sy planne – om weer sy eie lewe te neem – met polisie-informante in die tronk gedeel.

Dit is een van die redes waarom dit nié in die belang van geregtigheid sal wees om borgtog aan De Jager toe te staan nie, aldus Greyling.

Sy het verder betoog De Jager sal ʼn gevaar inhou vir die samelewing en ook ʼn vlugrisiko wees.

“Die staat ontken ten sterkste dat dit ʼn swak saak het …. daar is ʼn lang lys van getuienis, direk sowel as omstandigheidsgetuienis, teen hom. Sy kinders sal ook later kom getuig,” het Greyling gesê.

Ter afsluiting het sy genoem dat Liezel se ouers in vrees lewe vir De Jager en die hooggeregshof sal nader om alle besoektye met die kleinkinders te stop. Luidens ʼn hooggeregshofbevel mag De Jager sy kinders een keer ʼn maand, onder toesig van sy skoonpa, besoek.

Werner de Jager, Liezel de Jager, hof, moord, Amanzimtoti, Action Society

Plakkate met die vermoorde ds. Liezel de Jager se foto daarop buite die landdroshof in Amanzimtoti. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Adv. André May, De Jager se regsverteenwoordiger, het op sy beurt betoog die staat se saak is swak en maak staat op “vae verklarings en bewerings”.

Volgens hom steun die staat slegs op omstandigheidsgetuienis, en geen direkte getuienis wat na De Jager wys nie.

“Hy is vroeg in die ondersoek al as ʼn verdagte uitgesonder, maar dit het meer as 23 maande geneem om hom in hegtenis te neem … en dit wil voorkom of dit ook al is wat intussen gebeur het, want dit is duidelik die ondersoek is nog nie afgehandel nie; hoekom vat dit so lank om die mees basiese ondersoek af te handel? Die saak kan nog minstens drie jaar sloer, en dit sal nie in die belang van geregtigheid wees om die applikant vir die duur van die saak in hegtenis te hou nie.”

Hy het onder meer verwys na die bevindings van ʼn forensiese kriminoloog wat bevind het Liezel is deur iemand na aan haar vermoor.

Werner de Jager, Liezel de Jager, hof, moord, Amanzimtoti, Action Society

Werner de Jager. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

“Sy het, deur die aard van haar werk, gereeld nabye kontak met ander mense gehad,” het May betoog.

Hy het bygevoeg dat De Jager nie sal inmeng met die ondersoek of enige getuies nie. De Jager hou ook nie ʼn gevaar in vir homself of die publiek nie.

“Die publiek moet onthou ons verstaan nog nie als wat in die dossier is nie. Hoe kan hulle hom dan al reeds as skuldig sien? Dit is nie die toets hier vandag nie,” sê May.

Hy het onder meer na ʼn groep betogers buite die hof verwys wat De Jager met sy aankoms uitgejou en ʼn “vark” genoem het.

De Jager se saak hervat Dinsdag ná die hof Maandag gesluit het sodat hy betyds terug by die tronk besorg kon word.

Sy was geliefd

ʼn Groep betogers, onder leiding van die drukgroep Action Society, het Maandag by die hof bymekaar gekom. Die groep het De Jager met geel blomme en plakkate by die hof ingewag. Geel was Liezel se gunstelingkleur.

Liezel, destyds verbonde aan die NG-kerk Suidkus-gemeente, se liggaam is op 13 Oktober 2021 in die oprit van die pastoriewoning ontdek nadat sy gaan draf het.

“Sy was geliefd deur ons almal en het so baie vir ons gedoen,” het Joanne Herbst van Elders Voice KZN buite die hof gesê.

“Ons het nou saam met Liezel gewerk. Baie van die ou mense, wat ons uit haglike omstandighede moes red, is deur haar en haar gemeente bygestaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Casper ·

Dit vat nie ‘n genie om die tweede verdagte te identifiseer nie.Hy het weer beplan om selfmoord te pleeg soos voorheen,hy is ‘n gevaar vir homself.Die twee vrouns wat in die ongeluk dood is,was nie met voorbedaggte rade so beplan nie maar hy was bewus van sy breinfloutes en kon dus voorsien het dat hy ‘n gevaar vir ander verbruikers is.Was hy nog inbesit van ‘n bestuurderslisensie?Die hof moet sy besoek aan sy kinders onmiddelik opskort want dit kan tot ‘n verdere tragedie lei.

Danie ·

Ja die ou mensedom darem, hulle sal jou stenig nog voordat jy skuldig bevind is.

Yolandie ·

Sjoe ek weet nie wat vandag met die samelewing aangaan nie. Te veel vrouens en kinders wat sterf aan die hand van hulle gades. Die staat asook SAPD doen nie genoeg om hulle te beskerm nie. Hartseer saak dié…….maar vd begin af gedink hy is skuldig aan haar moord.

OU SAAR ·

Wat het van die gerugte geword dat hy ook vir die dood van ń vrou in Engeland verantwoordelik was?
Die man is nie stabiel nie en moet agter tralies bly.
Kan nie glo hy word toegelaat om sy kinders te sien nie. Ek sou hulle so ver moontlik van hom af gehou het.
Wie weet wat hulle alles gesien het en hoe traumaties dit vir hulle moes gewees het…
Nog ń ding…
Wat word van die polisgelde?
Hoop dit word in ń trust gesit vir die 2 dogtertjies.

domheks ·

Skuldig totdat ons howe so besluit of SAPD – meer as 2 jaar al en die man loop nog buite die tronk? Ons regstelsel en meeste polisie is pateties!

bolletjie blom ·

So week of wat terug is daar ook genoem van die vrou wat in die UK vermoor is. Die man is gevaarlik en behoort nie borgtog toegestaan te word nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Adv. May gaan hom loskry. Net te veel gate in die staat se saak. Die SAPS was ook slap. Die oorlede predikant se karakter gaan in die hof uitmekaar getrek word.

electricmango ·

Dis nou wat gebeur as jy te lank in die kas bly. Hy moes maar lankal admit het dat hy vir die ander span bat dan het emosies nie so opgekrop nie.

Karoo ·

Ek dink, wat my die meeste van hierdie saak pla is…. dat hy haar na die moord “ontblood” het… mag haar dogtertjies en familie beskerm word van hierdie sogenaamde Man.

Casper ·

Ou Saar, gelukkig is hy die begubstigde dan word dit as bloedgeld geag en kry hy nie ‘n sent nie.’n Trust sal nou vir die kinders geskep word.

Lettie ·

Ja, my ook en om te dink Liezel moes haar laaste oomblikke in daardie wrede oë vaskyk. Hoop hy kyk soms in ‘n spieël en dink wat hy gedoen het en bely dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.