Nog ʼn gebou brand in Marshalltown

Skermskoot van ‘n video van die brand.

ʼn Brand het Vrydagoggend in nog ʼn gebou in Marshalltown in die hartjie van Johannesburg uitgebreek. Dit nadat ʼn verwoestende brand in dieselfde gebied sowat twee weke gelede tientalle menselewens geëis het.

Owerhede vermoed, soos in die eerste voorval, dat die gebou deur misdaadsindikate gekaap is.

Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, sê brandbestryders is kort voor 10:00 na die hoek van Delvers- en Corneliusstraat ontbied.

Die brand het op die grondvloer van die drieverdieping gebou uitgebreek, wat glo deurtrek is met strukture wat deur inwoners opgerig is.

“Die spanne kon daarin slaag om vinnig die brand onder beheer te bring en te blus,” sê Khumalo.

“Een persoon is op die toneel behandel nadat hy rook ingeasem het.”

Die oorsaak van die brand is onbekend. Owerhede ondersoek die saak verder.

Sowat twee weke gelede het ʼn brand in ʼn gebou in Marshalltown gewoed en in die proses 77 menselewens geëis. Dié gebou was ook naby Delverstraat geleë.

Maroela Media het vroeër berig dat honderde van die stad se armste inwoners in geboue soos dié woon.

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, het reeds ʼn kommissie van ondersoek aangestel om die eerste brand te ondersoek.

Hy het gesê die kommissie sal die voorkoms van gekaapte geboue in Johannesburg in geheel ondersoek, wat presies die dodelike brand in Marshalltown veroorsaak het en wie verantwoordelik is vir die tragedie.

Die kommissie se werk sal egter nie oorvleuel met die ondersoeke wat die polisie en ander wetstoepassers doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.