Nóg ʼn krieketspeler oor wedstrydknoeiery gevonnis

Jean Symes (Foto: Stephane De Sakutin/ AFP)

ʼn Voormalige Bizhub Lions-krieketspeler is skuldig bevind aan korrupsie en tot vier jaar tronkstraf gevonnis nadat hy hom aan wedstrydknoeiery skuldig gemaak het.

Jean Symes (37) het verlede Maandag vir die eerste keer in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn op aanklag van korrupsie ingevolge die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite (Precca).

“Die vonnis is in geheel vir vyf jaar opgeskort op die voorwaarde dat die skuldige nie aan ʼn soortgelyke oortreding, in terme van PRECCA, gedurende die tydperk van skorsing skuldig bevind word nie,” sê kapt. Lloyd Ramovha, polisiewoordvoerder van die Valke in Gauteng.

Symes is deel van ʼn groep krieketspelers wat destyds deur die Internasionale Krieketraad (IRK) vir tussen sewe en 12 jaar verbied is nadat dit aan die lig gekom het dat dié groep glo by wedstrydknoeiery tydens die 2015-’16 binnelandse Ram-Slam T20 krieketuitdaging betrokke was.

Pumelela Matshikwe (37), ook ʼn voormalige Lions-krieketspeler, is verlede jaar deur dieselfde hof vir soortgelyke oortreding gevonnis. Dit nadat hy erken het dat hy altesaam R50 000 ontvang het om aan wedstrydknoeiery deel te neem tydens die betrokke krieketuitdaging. Hy is ook vyf jaar tronkstraf opgelê.

Die skuldigbevindings kom nadat die teenkorrupsiebeampte by Krieket SA inligting van ʼn fluitjieblaser ontvang het oor beweerde wedstrydknoeiery wat vir die betrokke T20 Krieketuitdaging beplan is.

Dit is onder die aandag van die Valke se ondersoekspan vir ernstige korrupsie in Pretoria gebring en ʼn ondersoek is van stapel gestuur.

Die ondersoek het onder meer aan die lig gebring dat die Protea-krieketspeler Gulam Bodi deur beroepswedders van Indië genader is om krieketspelers te werf om aan ʼn skema deel te neem. Symes was een van die krieketspelers wat deur Bodi genader is, en het ʼn bedrag van 2500 Amerikaanse dollar (ongeveer R30 000) aanvaar om aan die skema deel te neem.

Bodi is in skuldig bevind aan wedstrydknoeiery en tot ses jaar tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is. Dit nadat hy erken het dat daar ʼn knoeiery met wedstryduitslae in die betrokke reeks was.

Bodi het as ʼn tussenganger vir internasionale weddenskapsindikate opgetree en sekere spelers genader met die hoop om hulle te oorreed om aan wedstrydknoeiery deel te neem tydens die 2015‑’16‑ Ram Slam T20‑uitdaagtoernooi\, wat deur Suid-Afrika aangebied is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eugene ·

Wat n’ grap! Hoekom word jean symes nou eers gevonnis? Ongeveer 7 Jaar gelede. Jean, jy moet appeleer.

Beukes ·

Ek het n ruk terugn dokumentere program op Aljazeera gekyk waar Indiese weddingskap mense gese het hulle het in elke liewe internasionale span ten minste 2 invloedryke spelers in hul mandjie. Ek het net daar besluit om op te hou kyk na die wonderlike spel want dit is nie geloofwaardig nie. Ek glo steeds Hansie Cronje en Bob Woolmer was uitgehaal omdat hulle die blikkie boontjies wou oopmaak.

Elma ·

4 of 5 Jaar opgeskort? Jitte, ek dink terug aan wat met Hansie Cronje gebeur het destyds. Lyk my in hedendaagse tye is hierdie nie juis meer n groot misdaad nie.

Aggie ·

So nou is daar nie tronkstraf nie en ook nie ‘n boete nie. Wat in werklikheid daarop neerkom dat hierdie gedrag aangemoedig word, want ná 5 jaar kan hy dit weer doen sonder gevolge! Totaal belaglik. As ek so na ons nasionale span se vertonings kyk, begin my kop ook al wonder…

Aggie ·

So nou is daar nie tronkstraf nie en ook nie ‘n boete nie. Wat in werklikheid daarop neerkom dat hierdie gedrag aangemoedig word, want ná 5 jaar kan hy dit weer doen sonder gevolge! Totaal belaglik. As ek so na ons nasionale span se vertonings kyk, begin my kop ook al wonder…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.