Nog ʼn nat week voorspel

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Danielle Dolson/Unsplash)

Reën het die afgelope naweek in die sentrale en noordelike dele van die land uitgesak, met van dié plekke wat meer as 40 mm reën gekry het. Nóg reën word boonop vir die volgende week in groot dele van Suid-Afrika voorspel.

Waarskuwings vir swaar reën is Maandag in Gauteng, Limpopo en die Oos-Kaap uitgereik.

Luidens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se jongste syfers het 31 mm Sondag in die omgewing van Bronkhorstspruit in Gauteng uitgesak terwyl Thabazimbi in Limpopo 17 mm ontvang het.

Mpumalanga het ook die afgelope naweek goeie reën gehad. Die reënmeter het Saterdag 48 mm in Barberton gelees terwyl 20 mm oor Mbombela uitgesak het.

In Noordwes het 30 mm in die omgewing van die Pilanesberg uitgesak, terwyl die Madikwe-natuurreservaat Sondag 36 mm reën gekry het.

Jacqueline Modika, weervoorspeller, sê ʼn afsny-laagdrukstelsel sal na verwagting Maandag en Dinsdag wydverspreide buie en donderbuie oor die sentrale en noordelike dele van die land, onder meer Noordwes, Gauteng en die Vrystaat, tot gevolg hê.

Geel vlak 4- waarskuwings vir ontwrigtende reën geld tans tot Dinsdag in Limpopo, Gauteng en die Oos-Kaap.

Die reën kan moontlik oorstromings oor die volgende twee dae tot gevolg hê.

Modika sê die reënweer sal egter teen Woensdag opklaar voordat ’n bolugtrog teen Vrydag weer “’n beter kans op reën” oor die sentrale gedeeltes van die land sal meebring. Geen waarskuwings geld egter in dié stadium vir die komende naweek nie.

“Daar is aanduidings vir goeie reën oor sentrale gedeeltes soos Noordwes, Gauteng, die Vrystaat en die Oos-Kaap Vrydag en Saterdag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leon ·

Die Suidkaap is baie droog en kort ernstig reen damvlakke baie laer as laasjaar en die hele noorde van die land stroom na die suidkus hierdie area gaan in die toekoms nie die infrastruktuur en water he om almal te akkomodeur nie !!!!!!!! Hier kom groot moeilikheid vir plett knysna george en mosselbaai ???????????

JohanEtz ·

Eskom gebruik nat weer as verskoning vir Beurtkrag tsk! !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.