Nóg ʼn seisoen vir beleërde inmaakfabriek verseker

(Argieffoto: pixabay)

Die Langeberg- en Ashton-fabriek, die grootste inmaakfabriek in Suid-Afrika, is veilig – al is dit in hierdie stadium net vir die volgende seisoen.

Tiger Brands, wat die aanleg besit, het vandeesweek aangekondig dat bedrywighede by die aanleg verleng word.

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het die aankondiging verwelkom.

“Die besluit is welkome verligting vir die bedryf en die gemeenskappe wat op die aanleg staatmaak. Dit gee ook tyd vir voornemende kopers om die nodige finansiering te bekom om die fabriek te red.”

Die besluit beteken 4 550 werksgeleenthede is vir eers veilig. Dit gee sekerheid vir boere en vir meer as tweeduisend permanente en talle bykomende seisoenwerkers wat ook op die aanleg vir ʼn inkomste staatmaak.

Dit is egter noodsaaklik dat die nasionale en provinsiale regering die produsente en werkers steun om ʼn doeltreffende oplossing te vind, sê Van der Rheede. Die tussen R200 miljoen en R300 miljoen wat benodig word om die fabrieksdeure oop te hou, is ʼn beduidende belegging en die konsortium wat die fabriek probeer red, gaan steun nodig hê om dié geld te bekom.

Die fabriek beklee ʼn nisposisie in die wêreldmark en verdien honderde miljoene rand in buitelandse valuta.

“Dit dra die Ashton-gemeenskap en indien dit sou sluit, sou naastenby 300 boere geen alternatiewe mark vir hul produkte hê nie,” sê Van der Rheede.

Die fabriek is ook die grootste enkele bron van inkomste vir die Langeberg-munisipaliteit en die oorlewing van die aanleg is net so ʼn belangrike faktor vir die sukses van die landbou- en landbouverwerkingsmeesterplan, as wat dit is vir die welstand van Ashton en die Wes-Kaap se ekonomie.

Die Wes-Kaapse regering het ook die aankondiging verwelkom en sê dit gaan hopelik lei tot ʼn langtermyn‑ en volhoubare oplossing.

Ivan Meyer, LUR vir landbou in die Wes-Kaap, het vandeesweek met verteenwoordigers van Agri Wes-Kaap, produsente en die Inmaakvrugteprodusentevereniging vergader en die versekering gegee dat die departement sal voortgaan om die bedryf te steun in sy pogings om ʼn belegger te vind.

Mireille Wenger, die Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleentheid, sê die aankondiging is vir duisende Wes-Kaapse inwoners rede om fees te vier.

“Die aankondiging wys watter mag vennootskappe en samewerking het en ek bedank alle belanghebbendes vir hul pogings om ʼn oplossing te vind wat in die beste belang van almal betrokke is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Manie ·

Iets maak nie sin nie, ek kan verstaan dat ‘n fabriek toegemaak word omrede dit nie meer winsgewend is nie, maar om dit vir nog ‘n seisoen oop te hou beteken sekerlik dat die fabriek wel winsgewend is, maar dat die sluiting met iets anders verband hou.

domheks ·

Begin ‘n nuwe fabriek – met nuwe werkers en nuwe salarisse.

philippus ·

Belangrik om te onthou wanneer ons goed weer wil brand en vernietig en wil staak oor nonsense….

Mariana ·

Werkers seker bly daaroor, maar ja mens kry die gevoel dat daar iets meer agter skuil.

marius ·

Nou moet belasting betalers die biljoeners se sakke verder vul ? Gaan blaas doppies man !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.