Nog ’n tragedie tref Maties

Ky Rowe (Foto: Facebook)

Die liggaam van ʼn manstudent is vandeesweek in ʼn manskoshuis van die Universiteit Stellenbosch (US) gevind. Dié tragedie volg minder as twee weke nadat ʼn vrouestudent in ʼn vrouekoshuis van die US dood is.

Die 20-jarige Ky Rowe se liggaam is Dinsdag in die Simonsberg-manskoshuis gevind.

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê ʼn geregtelike doodsondersoek is by die Stellenbosse polisie aanhangig gemaak nadat Rowe se liggaam in sy koshuis in Merrimanstraat gevind is.

Twigg het nie die oorsaak van die jong man se dood bekend gemaak nie.

Die US is sedertdien in rou gedompel.

“Met die dood van Siphokazi Ntozini, ʼn inwoner van die Heemstede-vrouekoshuis, nog vars in ons geheue, rou die kampusgemeenskap nou oor die verlies van nog ʼn jong lewe uit ons geledere,” sê dr. Choice Makhetha, senior direkteur: studentesake.

“Ons hou die familie van die student in hierdie uiters moeilike en hartseer tyd in ons gedagtes en gebede. Ons wil hulle van die US-gemeenskap se ondersteuning verseker. Ons dink ook aan die student se vriende en mede-inwoners in Simonsberg wat die verlies van ʼn vriend moet verwerk.”

Personeellede van ER24 se 24-uur-nooddiens en die US se sentrum vir studentevoorligting en -ontwikkeling het Dinsdagaand berading aan studente en personeel van Simonsberg verskaf en sal in die komende dae daarmee voortgaan.

Makhetha sê die universiteit was ook reeds in verbinding met Rowe se familie.

Die inwoners van die Simonsberg-manskoshuis het Woensdag in ’n inskrywing op sosiale media hul medelye met Rowe se naasbestaandes betuig.

“Jou warm teenwoordigheid en vriendelike glimlag sal baie gemis word. Ons onthou sokkerspeel in die quad, sokker onder die nagligte, lang gesprekke en nog vele meer herinneringe. Dankie dat jy ʼn deel van jou lewe met ons gedeel het,” lui die inskrywing.

“Ons gebede en gedagtes gaan uit na Ky se familie en vriende in hierdie moeilike tyd.”

Makheta moedig nou opnuut enige studente wat berading nodig het aan om die US se 24-uur-nooddiens, met die samewerking van ER24, by 010 205 3032 of 082 557 0880 ná ure of 021 808 4994 tydens kantoorure te kontak.

“Net soos in me. Ntozini se geval moet ons nou die studente se familie en vriende die nodige ruimte en tyd gee om hul verlies te verwerk. As ʼn universiteitsgemeenskap sal ons die ondersteuningstrukture wat vir studente beskikbaar is, uitbrei en ondersoek instel waar verdere ondersteuning dringend benodig word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Samuel ·

Dit is baie tragies. Die berig dui egter nie aan hoe hy dood is nie. Ek hoop dit is natuurlike oorsake. Innige meegevoel met die naasbestaandes en mede studente.

KatjieDeKat ·

My innige simpatie aan die geliefdes van die twee oorlede studente. As ouer, gaan my hart uit na julle. So hartseer.

Di ·

So tragies, in die fleur van se lewe gewees. Innige meegevoel aan sy familie en vriende.

Andries ·

Baie hartseer om dit te verneem. Dit is ook vir my baie hartseer dat die US al hoe minder oorweeg sal word as voorkeur instelling vir verdere studies. Wil baie graag hê dat my kinders in die Kaap moet gaan wortel skiet maar dit lyk my ons gaan maar eers in die binneland ons studies ook voltooi. Die vrae rondom wat op kampus aangaan raak nou bietjie baie.

Celia ·

US kampus maar net nie meer wat Afrikaanse mense graag wil glo dit is nie.

Kompas ·

Baie tragies! Voel net vir my of daar geen of min studente ondersteuning is op Stellenbosch. Het self kind wat daar studeer Jy is maar op jouself aangewese!

Nettie ·

Diepe meegevoel met sy familie. So tragies en jammer. Sy hele pad was nog voor hom. Mag God vrede en berusting bring aan almal wat vir hom lief was.

Skappie ·

Sterkte aan sy ouers, die res van sy gesin, vriende en almal wat hom geken het. Mag onse Liewe Heer hulle almal styf in Sy arms vashou en hulle deur hierdie moeilike tyd dra.

Hennie Biebouw ·

Blykbaar is “Sudden Adult Death Syndrome” laaaaaank reeds met ons. Lank voor Covid entstowwe mode was….

Tracey ·

Goeie genade……

Innige meegevoel met familie, vriende en almal in gemeenskap wat geraak is hierdeur. Dis baie hartseer.

MAAR… dit voel vir my of die universiteit van Stellenbosch net teveel in die nuus ie. Daar is kort, kort iets. Iemand sal ernstig moet intree en kyk wat gaan aan by die universiteit.

As ek ‘n kind daar gehad het, sou ek baie gestress gewees het.

Jack ·

Opvallend hoe hierdie siekte van ons tyd nou ook op die vlak sy kop uitsteek. Die hele land is besig om die oorlog op sielkundige vlak te verloor. Alles kan terug herlei word na hoe die land op alle vlakke ook akademies verswak het en dit alles onder leiding van anc kaders wat geen gevoel vir die land se burgers toon nie.

Karina ·

Wat gaan aan by Maties? Dit lyk vir my nie meer die spog universiteit van die verlede nie.
Simpatie aan ouers en familielede.

Peter ·

Baie tragies. RIV. Is die naam van die verkragter by Maties nognie bekend nie, vreemd?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.