Nóg ʼn weermaggebou sonder verkoeling

Lugverkoeling (Foto: Pixabay)

Werknemers wat in die weermag se verdedigingshoofkwartier in Erasmusrand, Pretoria, werk, moet daagliks in temperature van tot 33 °C werk, aangesien die gebou se lugverkoelingstelsel al verskeie weke buite werking is.

Die gebou is boonop só ontwerp dat daar geen vensters is om oop te maak vir vars lug nie.

Medisyne wat by die fasiliteit gestoor word, bederf ook weens die hoë temperatuur, wat ’n verdere gesondheidsrisiko kan inhou en neerkom op nie-nakoming van wetlike farmaseutiese vereistes. Dit volgens ʼn verklaring wat Vrydag deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu) uitgereik is.

Die hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse Lugmag sit in dieselfde bootjie met die lugverkoelingstelsel, hysbakke én roltrappe wat buite werking is. Daar is ook geen deurlopende toevoer van lopende water na die gebou nie.

Volgens JG Greeff, Sanwu se nasionale sekretaris, hou die gebrek aan verkoeling en swak ventilasie in die geboue ’n ooglopende bedreiging vir die gesondheid van personeel in.

ʼn Personeellid wat in die gebou in Erasmusrand werk, het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê die personeel is teen 12:00 uiters onproduktief omdat hulle weens die tekort aan vars lug en die hitte nie meer kan konsentreer nie.

Die persoon sê daar is boonop personeellede wat sukkel met asma, hoë bloeddruk en lae bloeddruk en dié toestande word vererger deur die haglike omstandighede waaronder hulle werk.

“Mense het al flou geword weens die hitte en tekort aan suurstof,” het die persoon aan Maroela Media vertel.

Volgens die personeellid is hulle genoodsaak om self waaiers aan te skaf om die kantoor leefbaar te probeer maak.

Die persoon sê hulle ontvang ook geen aanduiding van die weermag oor wanneer die verkoelingstelsel herstel sal word nie.

Greeff sê daar moet van niemand verwag word om in só ʼn werksomgewing te werk nie en het ʼn brief aan die minister van verdediging geskryf om spoedig oplossings vir die kwessie te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

domheks ·

dis nie meer snaaks nie! Die woord INSTANDHOUDING bestaan nie vir die kaders nie! As hulle dit herstel is daar nie genoeg om te ‘pocket’ nie.

Anel ·

Nog geld wat vermors word. Medisyne is nie goedkoop nie en daai lede kry dit verniet. Iemand moet die kostes dra. Nou raak dit onbruikbaar! Wie moet daarvoor betaal? Hierdie regering het nou maar net geen end nie!!!!

Perdeby ·

Waar het julle al gehoor hulle praat van instandhouding……….. daar betaan nie so ‘n woord nie ook nie in engels maintenance nie!!!

Martin ·

Die sogenaamde Suid-Afrikaanse demokrasie bied nie outomatiese beskerming teen ons politici wat die heeltyd op die soustrein ry nie, dit is slegs in Afrika waar dit so gaan wanneer revolusionêre ons land se verkose politici word. Die Suid-Afrikaanse parlement word oorheers deur ANC-aktiviste wat glo in bruin koeverte en korrupsie tot in die kern. Wat die Suid-Afrikaanse weermag aanbetref, ons reenboog-nasie weermag is op hierdie huidige stadium redelik nutteloos en daar is geen beplande instandhouding vir hul infrastruktuur nie.

twaalfboor ·

Ag siestog…… 33°c. Ek werk elke dag operasioneel buite in die snikkende son. Lugverkoeling is vir baie ñ luuksheid.

Andrew ·

Nie om die stand van sake goed te keur nie (geen verbasing van my kant) maar hoe moet n soldaat dan in die veld, vir 3 maande in die middel van die somer in die Caprivi of DRC diens doen sonder n aircon?

Swanie ·

Nou moet die arme boggers in n warm kantoor sit en slaap , ai tog

Alfred E Neuman ·

Kry n kader om dit vir R300 000 000.00 te herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.