Nóg ʼn weerwaarskuwing vir KZN

Oorstromings in KwaZulu-Natal. (Foto: Facebook / Reaction Unit South Africa)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het nóg ʼn geel vlak 2-waarskuwing vir reën in KwaZulu-Natal uitgereik, waar vloede reeds meer as 400 mense gedood en duisende dakloos gelaat het.

“ʼn Oppervlak-hoëdrukstelsel is tans oor die suidoostelike dele van KwaZulu-Natal gesentreer. Dit gaan gepaard met ʼn bolugdrukstelsel, wat donderbuie en reën in die noordelike dele van KwaZulu-Natal tot gevolg sal hê,” lui die waarskuwing.

“Aangesien hierdie dele reeds baie reën ontvang het, kan dit lei tot verdere vloede en paaie onbegaanbaar maak.” Modderstortings en ongelukke op nat paaie word ook verwag.

Intussen is nooddienste in Gauteng op ʼn hoë gereedheidsgrondslag geplaas namate deurlopende reën watervlakke laat styg en verskeie paaie reeds onbegaanbaar is.

Nooddienste van die Ekurhuleni-metroraad sê hulle is op die uitkyk vir moontlike vloede en brandvoorvalle ná ʼn waarskuwing deur die weerdiens vir ontwrigtende reën die naweek.

“Riviere en waterstrome se watervlakke is reeds gevaarlik hoog en water wat langs paaie opdam, kan ongelukke veroorsaak. Nat paaie maak dit ook moeilik vir motoriste om hul voertuie te beheer,” lui ʼn verklaring deur die Ekurhuleni-ramp-en-nooddienste. Die nooddienste het mense wat langs vleiland en strome bly veral gemaan om op hul hoede te wees en liefs hoërliggende gebiede op te soek, veral aangesien reën nog vir die volgende paar dae verwag word.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het reeds ʼn geel vlak 4-waarskuwing vir ontwrigtende reën in Gauteng vir Saterdag en Sondag uitgereik.

Tshwane het verbruikers aangeraai om End- en Rabieweg in Centurion te vermy, aangesien die laagwaterbrug hier al weer verspoel het.

Terwyl dit stortreën in Gauteng en KwaZulu-Natal, het die weerdiens ʼn waarskuwing vir uitermatige hitte in die Noord- en Wes-Kaap uitgereik. Volgens die weerdiens word ʼn hittegolf van Sondag tot Woensdag in die westelike dele van die Namakwadistrik in die Noord-Kaap en in die noordwestelike dele van die Wes-Kaap verwag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.