Nog ʼn werker dood na Implats-ongeluk

Skag 11 by Impala Platinum se myn by Rustenburg. (Foto: PHILL MAGAKOE / AFP)

Een van die 75 werkers wat beseer is tydens Maandag se ongeluk by Impala Platinum (Implats) in Rustenburg, het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

“Implats het sy medelye betuig en bly in noue kontak met die oorledene se familie.” Die dodetal staan nou op 12 na ʼn hysbak by die myn skielik na onder in die skag getuimel het. Die hysbak het mynwerkers aan die einde van hul skof na die oppervlak geneem. Volgens Implats word 74 werkers steeds in hospitale behandel.

Implats sal deurlopende ondersteuning aan die families van die oorledenes verskaf en fondse is opsygesit om met hul begrafnisse te help. Daar sal ook vir die oorlede werknemers se kinders gesorg word “van hul geboorte tot die voltooiing van hul tersiêre studies”.

Bedrywighede by Impala se Rustenburg-mynkompleks was Woensdag steeds opgeskort uit rou en om voorsorgmaatreëls en oudits op stelsels by elke skag uit te voer. Produksie by skag 11 en skag 11C sal opgeskort bly terwyl interne ondersoeke na die ongeluk gedoen word, herstelwerk onderneem word en tot regulatoriese goedkeuring vir die hervatting van produksie verleen word. Produksie by alle ander skagte sal vandag hervat word.

Implats het vroeër gesê skag 11 is ʼn 1 000 meter diep met bedrywighede oor 20 vlakke. Ná die werknemers na vlak 17 gehys is, soos geskeduleer, het die voerband skielik van rigting verander en afwaarts beweeg. “Die noodprotokol vir só ʼn voorval is onmiddellik en outomaties geaktiveer. Alhoewel die opwentou in plek was, het die noodprotokol ongelukkig versuim om dadelik die hysbak se skielike val na onder te voorkom.”

Die hysbak het op vlak 20 skielik tot stilstand gekom, sowat 180 meter onder vlak 17, naby aan die onderkant van skag 11. Dit het ʼn ernstige impak gehad op die 86 werknemers wat regop in die hysbak gestaan het. Aangesien die hysbak nie gevryval het nie, is die presiese remkrag nie bekend nie.

Die ondersoek na die voorval duur voort in samewerking met die departement van minerale hulpbronne en energie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fontein Tannie ·

So jammer vir die talle werkers en hul gesinne wat hierdeur geraak word…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.