Nóg ondersoekers om veediefstal in Vrystaat te bekamp

Argieffoto (Foto: Sapd)

Vrystaat Landbou (VL), in samewerking met die private sekuriteitsmaatskappy Landelike Gemeenskapsveiligheid (LGV), het nog 16 Psira- geregistreerde privaatondersoekers opgelei om in die provinsie se stryd teen veediefstal te help.

Dit bring die totale aantal ondersoekers op 21 te staan.

Volgens Peet Swanepoel, provinsiale koördineerder van  die Psira-privaatondersoekers, volg die opleiding op versoeke van verskeie Vrystaatse-boerderygemeenskappe waar veediefstal hoogty vier.

“Die inisiatief het aanvanklik in Julie verlede jaar in die Fezile Dabe-distrik afgeskop.

“VL het self R1 miljoen befonds, omdat veediefstal in die Vrystaat onaanvaarbare vlakke bereik het,” sê Swanepoel.

Hy sê ʼn tekort aan mannekrag, voertuie en toerusting by die polisie se veediefstaleenhede wek groot kommer.

“Dit het duidelik geword dat ʼn gemeenskapsinisiatief nodig is om te help om die kommerwekkende veediefstalkwessie te pak.”

Volgens Swanepoel het ʼn aantal suksesse in samewerking met die polisie se landelike veiligheidskoördineerders en veediefstaleenhede in sekere hoëmisdaadgebiede reeds bewys dat die inisiatief uitgebrei moet word.

“Die boerderygemeenskap van Steynsrus, Bultfontein, Jacobsdal, Marquard, Reddersburg en Bloemfontein het verskeie mense geïdentifiseer om as private ondersoekers opgelei te word om dié soort misdaad doeltreffend te pak.

“Die gemeenskappe neem ook self verantwoordelikheid vir alle operasionele onkoste aangaande die ondersoekers,” sê Swanepoel.

Verskeie finansieringsmodelle is voorgehou.

Isabel Kruger, veediefstal-veiligheidsverteenwoordiger by VL, meen dat die groot behoefte op grondvlak daarop dui dat kommersiële boere geweldig deur veediefstalsindikate geteiken word.

“Dit het so sleg geraak dat verskeie boere hul landboupraktyke moes opgee of van sekere vee moes ontslae raak.

“Die koördinering van hierdie soort misdaad en die sentralisering van alle inligting is van kardinale belang om uiteindelik sukses te bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.