Nog onwettige myners in Gauteng vas

plaas-polisie-veld argief

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die polisie in Gauteng het die afgelope paar dae sowat 70 onwettige mynwerkers in die provinsie in hegtenis geneem.

Dit kom ná twee afsonderlike klopjagte in Roodepoort en Kagiso aan die Wes‑Rand.

Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê polisiebeamptes het oor die naweek altesaam 53 onwettige myners in Kagiso in hegtenis geneem en beslag gelê op onwettige mynboutoerusting.

Die polisie het die gebied twee dae lank gefynkam op soek na onwettige myners.

ʼn Groep onwettige myners is eindelik opgespoor en in hegtenis geneem. Hulle staan nou tereg op aanklagte van die oortreding van die Wet op Edelmetale, oortreding van die Immigrasiewet en die besit van ʼn nagemaakte vuurwapen.

Taktiese reaksiespanne (TRT), die nasionale intervensie-eenheid (NIU), die sigbare polisiëringseenheid, die honde-eenheid en die direktoraat vir prioriteitsmisdade (die Valke) is na Kagiso ontbied om op die bedrywighede toe te slaan.

Die verdagtes sal na verwagting eersdaags in die hof verskyn.

In ʼn afsonderlike operasie Maandag is altesaam 15 onwettige myners in Roodepoort in hegtenis geneem.

Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die polisie het goudstof gevind, asook toerusting wat vermoedelik vir onwettige mynbou gebruik word.

“Terwyl die polisie die gebied gefynkam het, het hulle ʼn verdagte BMW in Sol Plaatje in Roodepoort gewaar. Die beamptes het die BMW afgetrek en dit deursoek. Hulle het vermoedelik goudstof in die motor gevind en die twee insittendes, wat albei onwettig in die land is, in hegtenis geneem,” sê Masondo.

Die beamptes het kort daarna 13 onwettige burgers in hegtenis geneem wat vermoedelik by onwettige mynbou betrokke is. Die polisie het op allerlei toerusting beslag gelê.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Roodepoort-landdroshof verskyn.

Owerhede het weke lank al onwettige mynbedrywighede in sy visier nadat agt vroue in Krugersdorp glo deur ʼn groep onwettige mynwerkers oorrompel, beroof en verkrag is.

Sedertdien is honderde onwettige myners reg oor die land in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nie Verbaas ·

En wat gebeur om te verhoed dat net n volgende groep die myn beset en verder aangaan met onwettige mynbou?

JohnnyS ·

Wanneer word daar opgetree op die Oos-Rand ? Hier is al mense doodgeskiet en paaie verwoes, maar geen optrede.

Di ·

Hierdie klopjagte moet nie stop alvorens AL hierdie onwettige myners in hegtenis geneem is nie. Die Regering moet ook versker dat AL hierdie myne behoorlik toegemaak word! Dis die enigste manier wat ons ontlae gaan raak van al hierdie “elemente” in die land

miche ·

Wanneer vertrek die eerste deportasie- vliegtuig na hul onderskeie lande toe?
Of gaan elle-lange hofsake eers Weer volg?

Tersia ·

Die ding is, hulle word gedeporteer om net oor ‘n week of wat weer terug te keer en aan te gaan met hulle onwettige bedrywighede, dit sal nooit ‘n einde kry totdat ons nie ons grense ordentlik kan beheer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.