Nog pitbulls doodgemaak ná aanval

(Foto: Cape of Good Hope SPCA)

*Waarskuwing: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

Drie honde is die afgelope naweek in Gatesville in Athlone aan die brand gesteek nadat hulle ʼn jong meisie aangeval het.

Die voorval volg op ʼn noodlottige voorval op Hennenman in die Vrystaat, waar ʼn driejarige seuntjie die afgelope naweek deur twee pitbulls verskeur is. In dié voorval is een van die honde deur inwoners doodgemaak en verbrand. Die ander hond is van die toneel verwyder en is kort daarna van kant gemaak.

Skaars ʼn week tevore is Olebogeng Mosime van Vistapark in Bloemfontein deur ʼn pitbull by sy ouerhuis in Vistapark in Bloemfontein doodgebyt.

In die jongste voorval het die meisie ernstige beserings opgedoen en moes sy na ʼn hospitaal vir mediese behandeling geneem word.

Jeffrey Mfini, ʼn inspekteur verbonde aan die Kaap van Goeie Hoop‑DBV, sê dit is die tweede voorval wat die afgelope naweek aangemeld is waar gemeenskapslede reg in eie hande probeer neem deur pitbulls aan die brand te steek.

“Volgens inligting het die gemeenskapslede die pitbulls gestenig, gesteek en met verskeie voorwerpe geslaan voor hulle die honde doodgebrand het,” sê Mfini.

Mfini is inderhaas na die toneel, maar kon niks doen om die diere te help nie en hulle is weens die brandwonde dood. Die honde se oorskot is na die DBV se perseel in Grassy Park geneem, waar nadoodse ondersoeke gedoen sal word.

(Foto: Cape of Good Hope SPCA)

Jaco Pieterse, die DBV se hoofinspekteur, het ʼn beroep op mense gedoen om die DBV te kontak indien ʼn hond aggressief optree of iemand probeer byt sodat die dier dadelik verwyder kan word.

“Dit is tragies dat die kind beseer is, maar dit beteken nie die gemeenskap mag reg in eie hande neem nie. Geen dier verdien om wreedheid en lyding te verduur nie,” sê Pieterse.

Pieterse waarsku ook dat geen hond in die strate behoort rond te loop nie.

“Verantwoordelike troeteldiereienaars moet seker maak dat hul diere binne hul eiendom gehou word. As jou huis nie voldoende omhein is nie, moenie ’n hond kry nie.”

ʼn Petisie deur die Sizwe Kupelo-stigting in die Oos-Kaap het verlede maand gevra dat eienaarskap van pitbullterriërs in Suid-Afrika verbied word.

Meer as 106 000 mense het reeds die petisie geteken.

Die petisie is van stapel gestuur nadat ’n 10-jarige seun van Gqeberha in September gesterf het ná die gesin se twee pitbullterriërs hom aangeval het.

Tientalle honde, ook pitbulls, is die onlangse voorvalle by die DBV in Bloemfontein, en ook ander skuilings in die land, afgegee.

Dit volg ná ʼn vroeëre pleidooi van die DBV aan honde-eienaars om eerder afstand te doen van enige honde wat aggressief is en moontlik ʼn gevaar vir die gemeenskap kan inhou.

Volgens die DBV steun hy nie die petisie om pitbulls te verban of te verbied nie, maar steun hy wel strenger regulasies en wetgewing oor die aanhou en teel van sogenaamde kragrasse.

“Die ontwikkeling en inwerkingstelling van strenger regulasies, soos verpligte sterilisasie en permitte om die rasse aan te hou, sal ʼn stap in die regte rigting wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.