Talle honde afgegee ná pitbull-aanval op kind

Christiaan en Carmen Bester by hul geliefde pitbulls, Zooz en Mika. (Foto: Verskaf)

Tientalle honde, insluitend pitbulls, is ná ʼn noodlottige aanval op ʼn agtjarige seuntjie by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein, en ook ander skuilings in die land, afgegee.

Dit volg ná ʼn pleidooi van die DBV aan honde-eienaars om eerder afstand te doen van enige honde wat aggressief is en moontlik ʼn gevaar vir die gemeenskap kan inhou.

Keshvi Nair, die DBV se nasionale woordvoerder, het bevestig dat ʼn aantal pitbulls in Bloemfontein afgegee is, en sê sy glo dat diereskuilings regoor die land waarkynlik met dieselfde situasie op hande sit.

“Ons dink die rede hiervoor is dat mense eindelik gehoor gee aan ons oproepe, naamlik dat die honderas [pitbulls] wel beperkings het, en werklik net deur mense aangehou moet word wat oor die nodige kundigheid en ervaring beskik om met hierdie honde te werk.

“ʼn Mens sien ook watter tragedies kan plaasvind indien mense diere aanhou wat hulle nie kan beheer nie. Ek dink hulle besef nou dat die DBV ʼn hulpbron is. Mense wat bang is vir hul aggressiewe honde, doen die regte en verantwoordelike ding deur dié honde eerder aan die DBV te gee.”

Maroela Media het vroeër berig dat Olebogeng Mosime van Vistapark in Bloemfontein deur hul bure se pitbull doodgebyt is nadat die hond glo uit die erf ontsnap en oor hul heining gespring het. Die hond is op die toneel deur polisiebeamptes doodgeskiet.

Reinet Meyer, woordvoerder van die DBV in Bloemfontein, sê dit is normaal dat die DBV baie diere oor hierdie tydperk van die jaar inkry, maar dat daar beslis ʼn toename ná hierdie voorval was.

Sy benadruk egter dat dit nie net pitbulls is wat nou afgegee word nie, maar verskillende honderasse wat aggressiewe gedrag toon of waarvoor eienaars nie meer kan sorg nie

“Die publiek bel ons steeds en dan gaan haal ons hierdie diere. Ons sien diere wat regtig baie aggressief is, en die eienaars sien nie meer kans vir hulle nie.

“Ons het ʼn veearts wat die diere evalueer en ook ʼn gedragspesialis wat na hierdie diere kyk voordat daar enige besluite oor hulle gemaak word.”

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Meyer sê baie van hierdie diere kom ook uit slegte omstandighede.

“Ons sien baie voorvalle en kry baie klagtes oor diere wat nie in goeie toestande aangehou word nie. Hulle word byvoorbeeld in hokke geplaas of aan kettings vasgemaak, wat ook redes kan wees waarom hulle dan so aggressief is.

“Ons neem baie dinge in ag. Die DBV se mandaat is dieremishandeling, so ons kyk na die welstand van hierdie diere. Dit is hoekom ons daar is. Ons verplig niemand om hul diere vir ons te gee nie, maar indien mense nie meer vir hul diere kans sien nie, is hulle welkom om ons te kontak.”

‘Moenie almal oor dieselfde kam skeer nie’

Carmen Bester, ʼn pitbull-eienaar van Universitas in Bloemfontein, sê alle pitbulls en hul eienaars – die goeie eienaars – moet nie oor dieselfde kam geskeer word nie.

Sy is ook deel van ʼn groep aktiviste wat bewustheid oor pitbulls wil skep deur op 3 Desember aan ʼn staptog deel te neem. Hulle wag tans op goedkeuring.

“Baie mense dreig om ons honde te vergiftig of dood te maak,” het sy Donderdag aan Maroela Media gesê.

Vir Bester is die wreedaardige prentjie wat oor pitbulls geskets word, ontstellend.

“Dis vir ons so verskiklik sleg, want ons is self pitbull-eienaars. Hulle is die liefde vanself.”

Bester en haar man, Christiaan, is gek oor hul drie jaar oue pitbulls, Mika en Zooz, en sê dat hul honde nog nooit aggressie teenoor enigiemand getoon het nie.

Sy is tans deel van ʼn Whatsapp-groep met meer as 200 lede wat onder meer foto’s van hul geliefde honde saam met hul kinders deel.

Sy meen dis slegte pitbull-eienaars wat hul honde verwaarloos en vir die verkeerde redes – soos hondegevegte – aanhou, en dan vir alle pitbulls en hul eienaars ʼn slegte naam gee.

Bester sê honde wat mishandel en in haglike omstandighede aangehou word, gaan uiteraard meer aggressief wees.

“Ons staan op teen dieremishandeling en hondegevegte waarvoor pitbulls veral misbruik word, en van kleins af geleer word om aan te val.

“Ons wil nie hê goeie honde en goeie eienaars moet die prys van ander se nalatigheid betaal nie.”

Bester sê hulle is ook ten gunste daarvan dat pitbulls gesteriliseer moet word.

“Mense moet vooraf goedgekeur word om pitbulls aan te hou of aan te neem, sodat dit vir die regte doeleindes is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.