Nóg reën hierdie naweek verwag

Nog swaar reën is op pad vir die week (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku dat nog swaar reën en donderstorms dié naweek in die noordelike provinsies van die land kan voorkom. Dit volg nadat dié provinsies reeds die afgelope week goeie reën gehad het.

Koeler weer word veral vir die noordelike gebiede voorspel.

Bransby Bulo, ʼn voorspeller by die weerdiens, sê daar is ʼn 60%-kans vir reën Vrydagaand en Saterdag in Gauteng, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die oostelike dele van Noordwes en die Vrystaat. Dié moontlikheid sal teen Sondag tot ʼn 30%-kans afneem.

’n 30%-kans vir reën word ook hierdie naweek vir Limpopo voorspel.

“Donderstorms word Vrydagaand, Saterdagoggend en -middag vir Gauteng, Mpumalanga en Limpopo voorspel.”

Wat temperature betref gaan die kwik Saterdag in gebiede in Gauteng, die Vrystaat en KwaZulu-Natal tot in die lae 20’s daal. ’n Maksimumtemperatuur van 23 ˚C en 21 ˚C word vir onderskeidelik Pretoria en Johannesburg voorspel. In Durban word ’n maksimum van 23 ˚C verwag en in die Vrystaat word ’n maksimumtemperatuur van 20 ˚C vir Bethlehem voorspel.

Temperature sal teen Sondag weer begin styg.

Die maksimumtemperature vir Mpumalanga, Limpopo en Noordwes gaan dan ook taamlik hoog wees.

Die weerdiens het ook ʼn waarskuwing uitgereik vir stormsterk wind wat vandag aan die suidwestelike kus van die Wes-Kaap verwag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alexander ·

Ek hoop van harte dat dit deurdingend sal reen in die opvangsgebied van die Vaaldam. Die dam is maar 34% vol op die oomblik.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ja nee, die reën is broodnodig orals. Tog, ek moet sê, dit voel soos Junie – Julie hier in die Middellande van Natal. Yskoud. Miskien gaan ons ‘n “wit Kersfees” hê vir die eerste keer in eeue…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.