Nog twee van Spar se topbestuur aangekla

Harry Giannacopoulos by die polisiestasie in Pietermaritzburg. (Foto: Verskaf)

Nóg twee lede van Spar se topbestuur staan nou ook tereg op moontlike aanklagte van bedrog en meineed.

Altesaam vyf senior bestuurslede word reeds aangekla oor die beweerde onwettige oorname van Spar-supermarkte wat deur die Giannacopoulos-groep besit en bedryf word.

Dít volg nadat Chris Giannacopoulos en sy gesin se groepmaatskappye in Desember verlede jaar met behulp van AfriForum se privaatvervolgingseenheid aanklagte van bedrog en meineed teen drie topbestuurslede in Gauteng aanhangig gemaak het.

Nóg aanklagte is Woensdag in KwaZulu-Natal aanhangig gemaak.

“Spar het misdadig en oneties teen my familie opgetree, en ons wil hê geregtigheid moet geskied,” het Harry Giannacopoulos vroeër vandag buite die Pietermaritzburg-polisiestasie gesê.

Die sake is in afsonderlike provinsies aanhangig gemaak vanweë die jurisdiksie van die winkels wat geraak is.

Chris en Harry en hul familie se groepmaatskappye beskuldig die onderskeie bestuurders van wanvoorstellings en die versuim om in twee van die land se hooggeregshowe te verskyn.

Daar word beweer dat die Spar-groep deur sy bestuurders in 2019 valslik in beëdigde verklarings aangedui het dat maatskappye in die Giannacopoulos-groep hulle geld skuld, ten einde die howe te oortuig om die Spar-groep beheer te gee oor die supermarkte wat deur die Giannacopoulos-maatskappye besit word.

Hierdie beweerde wanvoorstellings is deur dieselfde hooggeregshowe bevestig toe die Giannacopoulos-groep die onregmatige oorname suksesvol betwis het.

Maroela Media het vroeër berig die Giannacopoulos-groep beweer Spar het opsetlik versuim om aan die hof bekend te maak dat die Giannacopoulos-groep se kleinhandelaarlidmaatskap beëindig is sonder dat daar ʼn verhoor, soos deur die Spar-groep beloof, plaasgevind het.

Volgens die groep is daar ook valse verklarings oor ontwikkelingslenings afgelê, wat verkeerdelik daarop dui dat die Giannacopoulos-groep in die skuld was by die Spar-groep.

Hierdie beweerde wanvoorstellings is herhaal in verskeie dagvaardings wat teen maatskappye in die Giannacopoulos-groep uitgereik is.

Spar het toe in ooreenstemming met hofbevele en op grond van die beweerde wanvoorstellings in 2019 stappe gedoen om die winkels oor te neem. Die winkels is later ná ʼn suksesvolle dringende hofaansoek deur die Giannacopoulos-groep weer onder dié groep se beheer geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.