Nóg vier mense toets positief vir Covid-19 in SA

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Nog vier bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus bekend as Covid-19 is in Suid-Afrika aangemeld.

Dié pasiënte is almal deel van ’n toergroep wat onlangs ná ’n ski-vakansie in Italië na Suid-Afrika teruggekeer het.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Maandag tydens ’n mediakonferensie gesê ’n paartjie van uMgungundlovu in KwaZulu-Natal het positief getoets vir die gevreesde virus.  Albei is 38 jaar oud en word in isolasie behandel.

Volgens Mkhize het die vrou met haar aankoms in die land reeds simptome getoon, terwyl die man geen simptome getoon het nie. Nog twee mans, albei van Pietermaritzburg, het óók positief vir Covid-19 getoets. Hulle is onderskeidelik 38 en 45 jaar oud.

Dit bring die getal bevestigde gevalle in Suid-Afrika op sewe te staan. Die departement van gesondheid spook nou om diegene wat moontlik in kontak met die pasiënte gekom het, op te spoor. Dit sluit in persone wat naby die pasiënte op die vliegtuig terug Suid-Afrika toe gesit het.

Die toergroep het die noorde van Italië, onder meer Livigno, besoek. Nege van die groep het verlede Sondag na Suid-Afrika teruggekeer, terwyl een persoon ná die vakansie Engeland toe gevlieg het.

Volgens Mkhize is die departement nie verbaas dat nog lede van die groep positief vir Covid-19 getoets het nie aangesien hulle heel waarskynlik ewe veel tydens hul vakansie aan die virus blootgestel is.

Die minister het gedurende die mediakonferensie gesê die departement was ook aanvanklik bekommerd oor ’n persoon van Vryburg in Noordwes wat vir die virus getoets is. Die persoon se eerste toets het onbepaald teruggekom en ’n tweede rondte toetse het bevestig dat die persoon nié Covid-19 het nie.

Maroela Media het vroeër berig ’n 38-jarige man van Hilton is die eerste pasiënt om positief vir die virus te toets. Die man het verlede week positief getoets waarna sy vrou en nog ’n persoon van Gauteng kort daarna positief getoets het. Al drie is deel van die groep wat in Italië vakansie gehou het en word tans in isolasie behandel.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wonder net ·

En so begin dit. .. ” Volgens Mkhize het die vrou met haar aankoms in die land reeds simptome getoon, terwyl die man geen simptome getoon het nie.” as sy reeds simptome getoon het, hoekom het hulle by nie een van die 2 lughawens waar hulle aangedoen het, dit opgetel nie!! Wys mens ook net dat die maatreels wat in plek gestel is om die publiek te beskerm, nie werk nie. Of dit word nie reg beman nie, of dit word nie reg gedoen nie. Punt is, so is daar nou 7 mense wat almal kan siek maak, as hulle net vroeer hulle werk gedoen het, was dit nou onnodig. En aangesien die vrou simptome getoon het toe sy in die land ingekom het, hoekom het sy nie vroegtydig iets gese nie, hoekom het haar man eerste positief getoets as hy eers na die tyd siek geword het? Mense weet mos nou al teen die tyd wat die simptome en die erns van die situasie is, hoekom stil bly en met ander mense assosieer? DOM!!!!

Jan ·

Ek is van mening dat sulke mense uiters selfsugtig is. Natuurlik weet hulle wat in die wereld aangaan, en hulle mag nog jonk wees en dink hulle sal niks oorkom nie. ‘n Bietjie verkoue dan is dit oor, maar wat van die 70 of 80 jarige oom en tannie wat nou op een of ander manier aangesteek gaan word en dan meskien tot sterwe kom. Kyk gerus om jou rond vandag, dit is baie skaars dat een nog vir die ander omgee. Dis elkeen vir homself en nie ‘n saak met die res nie. Dis nou al omtrent ‘n week wat die laaste 4 oral rond gegaan het, hoeveel meer is nie nou al aangesteek nie.

Magda ·

mmm – As julle op hoogte en reg was vir die Virus soos julle almal so heldhaftig belowe het op die nuus sou julle die vliegtuig se mense toe dit geland het eers in isolasie gehou het vir 21 dae want Italia is die 2de grootste land wat die siekte onderlede het – Julle is onbevoeg en “like” net om op die nuus te wees. Dalk moet jy soveel tyd soos jy bestee om die media toe tespreek gebruik om die REGTE WERK te doen. Net nog n bewys van hoe ONBEVOEGD julel in die ANC is. Gaan weg en bly weg ASB.

VASTI ·

Enige passasier met of sonder simptome, wat terugkeer van ‘n land soos Italië (wat self nou streng reismaatreels ingestel het) behoort in kwarantyn geplaas te word. LOGIKA. Hierdie vrou wat met aankoms reeds simptome getoon het, en niemand dit op die lughawe agtergekom het nie, is net nog ‘n bewys dat hier geen gereedheidsgrondslag bestaan nie. Mag ons Hemelse Vader ons behoed en bewaar want hierdie regering het net eenvoudig nie die vermoë nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.