Nooddienste loop deur tydens taxi-staking

[Foto: Twitter]

Terwyl die minibustaxi-staking in die Stad Kaapstad voortduur, ly diegene wat mediese hulp ontvang of benodig steeds daaronder.

Die laaste paar dae is berig oor gesondheidsdienste wat deur stakers ontwrig word en wat die potensiaal het om ernstige gevolge vir pasiënte se gesondheid en -welstand te hê.

Nooddienste was veral ʼn groot teiken, sê Gerrit Pretorius, die DA se woordvoerder vir gesondheid in die Wes-Kaap.

“ʼn Ambulans, wat pasiënte vervoer het, is aan die brand gesteek. Die personeel is ook aangerand,” sê Pretorius.

“Ambulanse kon ook nie sekere gebiede binnegaan sonder begeleiding van die polisie nie weens die werklike en ernstige risiko dat soortgelyke aanvalle uitgevoer word. Te dikwels was die polisie nie in staat om hierdie begeleidings betyds te verskaf nie.”

Sommige klinieke moes selfs hul deure sluit oor die “vreedsame” staking wat Vrydag ʼn gewelddadige wending geneem het.

“Die Vanguard-hospitaal in Bonteheuwel moes noodgedwonge sy deure Donderdag sluit nadat stakers dié fasiliteit binnegestorm het.”

Mediese sleutelpersoneel is ook weggehou van hul werkplekke, wat baie klinieke en hospitale gedwing het om hul dienste drasties af te skaal. “In baie gevalle kan ons gesondheidsfasiliteite slegs die dringendste behandelings en prosedures bied weens die tekort aan personeellede.”

Volgens Pretorius skep die vlak van geweld wat deur betogers aangewend word terselfdertyd dat hospitale voller word met pasiënte wat as gevolg van die stakings beseer is.

“Die provinsiale gesondheidstelsel word tot op die randjie gedruk, wat die gesondheid van elkeen van ons in gevaar stel.

“Daar is geen omstandighede waarin aanvalle op hospitale en pasiënte goedgepraat kan word nie. Wat ons gesien het van diegene wat ons gesondheidsfasiliteite die afgelope dae aangeval het, is ʼn gevoellose en onverskoonbare verontagsaming van mense se lewens.

“Enigiemand wat mediese personeel, pasiënte, klinieke, hospitale of ambulanse wil benadeel, moet met die volle omvang van die wet hanteer word, so ook enigiemand wat medepligtig was aan die organisering of aanmoediging van hierdie aanvalle. ʼn Nadelige uitkoms vir selfs ʼn enkele pasiënt in die Wes-Kaap as gevolg van hierdie staking kan nie aanvaar word nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat meer as 287 000 leerders weens die stakings nie kon skool toe gaan nie. Meer as 9 500 onderwysers en ander skoolpersoneel is boonop ook deur talle verkeersknope en ontwrigtings in die Moederstad verhoed om by die skool uit te kom.

Verder is verskeie dienste weens die staking ontwrig. Talle vervoerdienste en motoriste het boonop ook onder gewelddadige aanvalle deurgeloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Die korrupte REGERING het die spul die mag gegee om te doen wat hulle wil. They created this monster, now they must feed him.

Gert ·

Ek praat nie geweld goed nie maar die saps en bietjie weermag wat ons het moet nou die minimum geweld toepas om die stakers onmiddelik te stop .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.