Klinieke toe, dienste ontwrig oor Santaco-staking

Santaco se staking woed voort. (Foto: Peter Luhanga/GroundUp/Twitter)

Verskeie openbare dienste, waaronder water en sanitasie, word in Kaapstad ontwrig weens die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) se staking. Sommige klinieke moes selfs hul deure sluit oor die “vreedsame” staking wat klaarblyklik ʼn gewelddadige draai geneem het.

Santaco het hom verlede week aan samesprekings met die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering onttrek en Donderdag skielik besluit om sy bedrywighede in Kaapstad op te skort op grond van wat hulle as onbillike diskriminerende praktyke teenoor minibustaxi’s beskou.

Sedertdien heers daar chaos in die Moederstad, wat spook om sy dienste aan die gang te hou te midde van die Wêreldbeker-netbaltoernooi wat in die stad gehou word.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, sê weens die gewelddadige stakings is dit byna onmoontlik vir die metro om aandag aan die meeste diensversoeke te gee.

Dit sluit in om gebarste pype te herstel, rioolverstoppings en oorstromings aan te pak, en slyk van afvalwaterbehandelingswerke op te vang. Die metro het selfs in hierdie stadium geen toegang tot sommige wateraanlegte nie.

Tans word die water- en sanitasie-aanlegte in Khayelitsha, Philippi, Fisantekraal, Dunoon, Witsand en Delft die meeste deur die stakings geraak, maar volgens Hill-Lewis is dit steeds operasioneel te danke aan ʼn paar enkelinge wat dit nog aan die gang hou.

“Diensverskaffing by informele nedersettings is egter erg geraak omdat spanne glad nie toegang tot die gebiede kan verkry om ablusiedienste te lewer en bergingstenks leeg te maak nie,” sê hy.

“As veiligheidsmaatreël is reëlings getref dat spanne deur veiligheidsdienste begelei word, maar in die meeste gevalle is dienste in hierdie gebiede geheel en al opgeskort.”

Twee van die metro se diensmotors of voertuie van kontrakteurs is deur die betogers beskadig. Volgens Hill-Lewis is een van die metro se motors in Joe Slovo ten gronde gebrand, terwyl nog ʼn motor se ruite gebreek is.

“Nog geen werkers is beseer nie, maar die metro monitor die situasie en sal nie skroom om alle dienste op te skort nie.”

Eskom het reeds gewaarsku dat hy ook sy dienste sal opskort in gebiede waar die stakings woed. Dit volg nadat een van sy diensvoertuie met ʼn petrolbom in Khayelitsha bestook is.

Die kragvoorsiener het reeds alle versoeke om kragfoute in Khayelitsha, Delft, Belhar, Du Noon, Philippi en Fisantekraal aan te pak, van die hand gewys.

“Eskom sal uiters versigtig omgaan met versoeke om kragtoevoer in gebiede te herstel.”

Klinieke gesluit

Die metro se gesondheidsdepartement sê ʼn aantal klinieke verskaf in hierdie stadium slegs nooddienste, terwyl ander reeds hul deure gesluit het.

Volgens Hill-Lewis is die klinieke in Khayelitsha, Gugulethu en Masincedani slegs toeganklik vir noodgevalle.

Die Site C-jeugkliniek, Vuyani-kliniek, Hanover Park-kliniek, Philippi-kliniek en die klinieke in Hazendal en Driftsands is tot verdere kennisgewing gesluit.

Die metro se departement van parke en ontspanning het intussen besluit om alle openbare besigtigingsgebiede vir die Wêreldbeker-netbaltoernooi tot tyd en wyl die staking voortduur, te sluit.

“Dit word in die belang van openbare veiligheid gedoen, asook sodat die mannekrag elders aangewend kan word.”

Misdaad, geweld

Die stad se verkeersdienste sê daar is Vrydagmiddag verskeie sporadiese gevalle aangemeld waar mense, motors en die polisie met klippe bestook word.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê hy het self gesien hoe mense kinders aanspoor om klippe te gooi.

Hier is die jongste oor die situasie:

Let's all be honest about what is really going on with the taxi violence.When children are weoponized, there can be no doubt.Criminal law in South Africa protects a minor from being convicted for a crime. Criminal syndicates are aware of this. So they instigate children to commit their acts of public violence.And here is the proof…

Posted by JP Smith on Friday, August 4, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Charles ·

Goed. Die wêreld orde dink ek gaan depressief raak hieroor? Hul moet maar aanhou met hul speletjies. Dit vat meer as hierdie en dit moet maar erger word.

MrMagic ·

Dit gaan nooit ophou solank julle die gedrag toelaat nie. Kry ordentlike waterkanonne om mee te begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.