Noue ontkoming vir egpaar ná seekoei boot omgooi

Leon en Vivia Bezuidenhout.

Dit was soos ʼn episode van die Amazing Race – maar Afrika-styl.

“Ek is klaar met tiervisvang,” het Vivia Bezuidenhout Dinsdag geskerts nadat sy en haar man, Leon, die afgelope week ʼn noue ontkoming op die Zambezirivier in Botswana gehad het.

Die egpaar, groenteboere van Swartwater in Limpopo, was verlede week op ʼn visvanguitstappie in Botswana toe sake begin skeefloop het.

Vivia vertel hulle het Donderdag vroegoggend vanaf die Big 5 Chobe Lodge in Kazungula op ʼn visvanguitstappie vertrek. Die vis het mooi geloop en hulle het verskeie tiervisse uitgetrek. Omstreeks 11:00 het die boot se skipper hulle na ʼn vlakkerige gedeelte van die rivier geneem, toe die noodlot toegeslaan het.

“Daar was seekoeie in die omgewing, maar ons het heeltyd om hulle gevaar. Ewe skielik was daar ʼn helse slag en die boot het omgeslaan,” het Vivia gesê.

ʼn Seekoei het hulle boot vermoedelik van onder die water omgestamp en net stilletjies weer verdwyn.

“Daai seekoei het van nêrens af gekom nie. Dit het ons heeltemal onverwags betrap.”

Leon was aanvanklik onder die omgeslaande boot vasgekeer en hulle het geskarrel om uit die water te kom. Die boot het egter gesink net toe hulle daarop klouter en die drie was halflyf in die krokodil- en seekoeiwater.

“Die skipper het vir die locals op die wal begin skree om ʼn Makoro te bring om ons uit die water te haal.”

Een van die plaaslike inwoners het hulle met ʼn bootjie tot op die wal – aan die Zambiese kant van die rivier – geneem, van waar ʼn nuwe saamrygeleentheid met ʼn ander boot gereël is. Vivia se motorsleutels en haar beursie het aanvanklik saam met die boot onder die water verdwyn, maar haar beursie is ʼn kort rukkie later in die rugsak waarin dit was, uitgevis. Haar foon was spoorloos.

Teen 15:30 was daar steeds geen spoor van die nuwe boot nie en die Bezuidenhouts het begin regmaak om voet te slaan. Die boot het eindelik aangekom, maar toe dit stilhou op die oewer, wou die enjin nie weer aan die gang kom nie.

“Ons moes met daai boot oorróéi Impalila-eiland se kant toe, rég verby die plek waar ons nou net gesink het,” het Bezuidenhout vertel.

Aangekom by Impalila, het plaaslike inwoners vir hulle nog ʼn saamrygeleentheid in ʼn bakkie gegee. “Ons het omtrent so 2 km gery, toe kry ons ʼn pap band. Die man het daar ʼn pompie uitgeruk wat omtrent 27 lasplekke gehad het en ná ʼn halfuur was die band gepomp.”

Skaars ʼn paar kilometer verder, was hulle weer gestrand – dié keer omdat daar glo water in die vergasser was. “Toe strip die man omtrent die hele enjin langs die pad. Nadat hy dit weer aan die gang gekry het, was die wiel weer pap,” het sy vertel.

By die veerboot gekom was hulle te laat om die laaste boot te haal en die skipper, wat ook ʼn bootjie daar het, het hulle met ʼn ander skuit teruggeneem Kasane toe.

“Van Kasane af kon ons darem ʼn taxi terughaal na die lodge. Dit het ons seker twee ure gevat om tien kilometer af te lê,” het Bezuidenhout gesê.

“ʼn Mens se moed sak in jou skoene. Niks werk uit nie. Ons paspoorte lê in die kar, maar die sleutel is weg. My selfoon is onder die water. Ons kan niemand bel nie. Al wat ons wou doen, was om voor donker weer aan die Botswana-kant te wees.”

Die skipper van die boot wat hulle aanvanklik uitgeneem het, het ʼn dag later sy boot uit die water gaan haal en in ʼn verrassende wending op die Bezuidenhouts se motorsleutel daarin afgekom. Dit was ongeskonde.

Die egpaar was met vakansie as deel van hulle veertiende huweliksherdenking later vandeesmaand.

“Ek sal beslis weer teruggaan, maar nie weer op daai water nie,” het Bezuidenhout gesê.

“Dit was ʼn ongelooflike traumatiese ervaring wat ek niemand toewens nie. Ek is ongelooflik dankbaar vir almal wat ons bygestaan en probeer help het. En ek is so ongelooflik dankbaar dat ons, behalwe vir die seer lywe en ʼn klomp blou kolle, niks ernstig oorgekom het nie.

“Dit was net genade.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Daisy ·

Deel van julle 7 sakke sout?? Lekker gelag, al dink ek dit was nie snaaks toe dit gebeur het nie. Storie om eendag vir kleinkinders te kan vertel

KaterinaKat ·

Eks so bly julle is veilig en dat goeie mense julle gehelp het. Dis nou n vakansietjie wat julle nooit sal vergeet nie..wow..

Frank ·

Fantastiese storie! Klink meer soos 13de huweliks herdenking????.
Bly als het uitgewerk…

Koos de Meyer. ·

Hoe sê die spreekwoord, there are no place like home. Dis nou maar Afrika.

Abe ·

Koos de Meyer
There IS no place like home! – die Afrikaamse uitdrukking is, oos, wes, tuis bes.

Arno Scheepers ·

Ek ken daardie gevoel. Ek was op n makoro in die Delta toe n seekoei ons omgedop het.
Vreesaanjaend!
Bly julle is ongedeerd.

Grassie ·

Dit is nou ‘n goeie storie om tussen al die moord en doodslagberigte te lees. En mooi geskryf ook.

Rechelle Bosman ·

Lanklaas so lekker gelag al was dit nie vir hulle snaaks. En is ek dankbaar julle is veilig
Beslis ‘n storie om die kampvuur

Lizelda ·

Net nou d dag, so week of 2 terug wonder ek wat v ou Vivia’tjie geword…en hier het die meisie… n avontuur wat skeik v niks!!???? Bly julle is gespaar om die storie te deel.xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.