Nuwe datum vir US Woordfees bekend

Die datum vir aanstaande jaar se Toyota Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees is pas bekend gemaak.

Saartjie Botha, feesdirekteur van die US Woordfees, het Dinsdag aangekondig dat dié fees van 17 tot 23 September 2021 as ʼn lentefees in die Eikestad sal plaasvind.

Die drie groot Wes-Kaapse kunstefeeste, naamlik die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn, die Suidoosterfees in Kaapstad en die US Woordfees in Stellenbosch sal dus nou beter deur die jaar versprei word.

Hoewel die datums vir aanstaande jaar se Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom in Noordwes nog nie aangekondig is nie, word geen oorvleueling met die US Woordfees verwag nie.

Volgens Botha was die Covid-19-pandemie, die matriekuitslae wat na verwagting later as gewoonlik bekend gemaak word, asook die gevolglike verwagte vertraging met die aanvang van die universiteit se akademiese jaar sleutelfaktore in die besluit op die latere datum van die US Woordfees.

Botha het gesê dit is te vroeg om te weet of dit ʼn eenmalige skuif sal wees en of die US Woordfees voortaan altyd in die Bolandse lente sal plaasvind.

“Dit is belangrik om vir feesgangers ʼn heerlike geleentheid te skep, vir kunstenaars werk te verseker, vir ons borge ʼn goeie opbrengs op beleggings te bied en om die plaaslike ekonomie van Stellenbosch te stimuleer,” het Botha aan Maroela Media gesê.

Aansoeke vir kunstenaars en vervaardigers wat aan volgende jaar se US Woordfees wil deelneem, sal eersdaags heropen. Enigiemand wat nuwe aansoeke wil indien of bestaande aansoeke wil aanpas, kan woordfees.co.za dophou vir besonderhede, en diegene wat reeds aansoek gedoen het se aansoeke bly geldig vir die latere datum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hansie ·

Die persoon(e) wat daardie besluit geneem het, weet duidelik nie dat dit nog baie reën in September in die Wes Kaap nie. Baie van die Woordfees se vertonings was buite. 17 tot 23 Oktober sou beter wees, maar dan is dit weer eksamentyd vir die studente!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.