Nuwe gevalle van haassiekte wek groot kommer

Foto ter illustrasie. (Foto: Uwe Zucchi / DPA / AFP)

ʼn Dodelike siekte wat tussen Oktober verlede jaar en Februarie vanjaar groot vrektes onder wilde en mak hase in die Noord-, Wes- en Oos-Kaap veroorsaak het, is volgens die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) weer ʼn probleem.

Volgens aanvanklike verslae wat verlede jaar uit dele van die Noord-Kaap ontvang is, het hemorragiese haassiekte (RHDV2), ʼn konynbloedingsiekte, vinnig deur die Kaapprovinsies versprei. Die mees onlangse berigte dui daarop dat die siekte tans in die Knysna-omgewing in die Wes-Kaap en in die Langkloof-gebied in die Oos-Kaap aktief is.

Bonnie Schuman, Nama-Karoo-koördineerder van die EWT, sê die siekte raak hase en konyne en kan nie na mense en ander diere oorgedra word nie.

“Onder hase is RHDV2 egter hoogs aansteeklik en dit word veral deur direkte kontak oorgedra. Die siekte kan egter ook deur vlieë en aasdiere wat op karkasse voed, asook klere, skoene, motorbande, en selfs deur die wind oorgedra word.

“Haaseienaars word aangeraai om hul hase veilig te isoleer en kontak met ander hase of konyne te vermy. Dit is ingevolge die Wet op Dieresiektes die verantwoordelikheid van die eienaar om die verspreiding van die siekte te voorkom,” sê Schuman.

In gevalle waar ʼn troetelhaas vrek, word die eienaar aangeraai om die plaaslike veearts of staatsveearts te kontak vir advies oor die veilige verwydering van die karkas. Alle aangetaste oppervlakke en besmette klere moet met ʼn bleikmiddel en warm water skoongemaak word.

Schuman sê die siekte kan landwyd versprei en as dit dieselfde patroon volg as wat in die VSA aangeteken is, kan klein uitbrekings nasionale verspreiding tot gevolg hê.

Die EWT werk tans saam met staatsveeartse en provinsiale bewaringsowerhede om die verspreiding van die siekte te monitor.

Bewaarders is veral bekommerd oor die uitwerking wat die siekte op wilde haasbevolkings het, aangesien vrektesyfers tot 80% kan wees.

“Ons weet nie wat die uitwerking op die kritiek bedreigde oewerkonyn sal wees nie – wat in lae getalle en dikwels in gefragmenteerde bevolkings voorkom,” sê Schuman.

“Kleiner, geïsoleerde bevolkings van haasspesies loop ʼn groot risiko van siektes aangesien daar dalk nie genoeg oorlewende individue is om die genetiese diversiteit en gesondheid van die bevolking te handhaaf nie.”

Volgens Schuman is daar tans geen opsies beskikbaar vir die inenting van wilde hase nie, ’n beperkte aantal dosisse entstof is wel beskikbaar vir troeteldierkonyne en haaseienaars word aangeraai om hul plaaslike veeartse te kontak vir meer inligting.

“Die entstof is nog nie geregistreer vir gebruik in Suid-Afrika nie en is dus nog nie vrylik beskikbaar nie. Haaseienaars moet deur hul veeartse werk om toegang tot die entstof te kry.”

Die EWT doen ʼn beroep op boere en lede van die publiek om ongewone vrektes (hase wat dood in die veld gevind word sonder enige sigbare teken van trauma) by [email protected] en die naaste staatsveearts aan te meld.

“Boere met oewerkonyne op hul plase word versoek om die oewergebiede noukeurig te monitor en enige oewerkonynvrekte dadelik by die EWT aan te meld,” sê Schuman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gaitsigubib ·

O aarde, dit klink of n lockdown nodig is! Kondig dit solank aan, die helfde van die mensdom sal dink dis n goeie idee! In werklikheid dink ek die natuur sal self ballanseer, indien daar nie inmenging is nie.

Sandra ·

Dit affekteer ook mak hase en het ‘n geweldige effek. Baie organisasies wat hasies red en huisves het al talle verloor. Hierdie is hoogs aansteeklik, en om te dink dit het onder wilde haas kolonie ontstaan. Ek wil graag weet wat CAPE Nature hiervan gaan maak? daar is ‘n bedreigde spesie wat nou meer bedreig word.

Marthinus W ·

Ontwikkel hierdie siekte natuurlik, of is dit met mensgemaakte “insette” [biolab] geskep? Ek vra net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.