Nuwe regter-president ‘ideaal vir pos weens sterk agtergrond’ – DA

Regter Molemela (Foto: UFS webblad)

Die DA het die aanstelling van regter Mahube Betty Molemela as regter-president van die appèlhof in Bloemfontein verwelkom.

Molemela se aanstelling is Vrydag aangekondig en sy sal van 1 Junie af haar nuwe pos beklee.

Volgens adv. Glynnis Breytenbach, voormalige staatsaanklaer en DA-LP, maak Molemela se sterk agtergrond haar die ideale kandidaat vir die pos.

“Sy is die tweede vrou om die appèlhof te lei,” sê Breytenbach.

Molemela is al 15 jaar op die regbank. Sy is die eerste vrou om die posisie van regter-president van die Vrystaatse afdeling van die hooggeregshof te beklee.

Sy het vir drie jaar as regterpresident in die Vrystaat gedien voordat sy in 2018 as regter van die appèlhof aangewys is.

Molemela het vroeër ook as regter in die arbeid- en arbeidsappèlhof, as waarnemende regter van die mededingingsappèlhof en as waarnemende regter van die Konstitusionele Hof gedien.

Molemela beskik oor ’n verskeidenheid akademiese kwalifikasies, waarvan haar hoofgrade in die regte aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) behaal is.

“Die DA wens Molemela geluk met haar aanstelling en wens haar alle sterkte toe in haar nuwe pos,” sê Breytenbach.

Soos vroeër berig het Ramaphosa sy waardering teenoor Molemela vir haar diens op die regbank tot dusver uitgespreek en haar ook sterkte in die nuwe rol toegewens.

“Regter Molemela se aanstelling gee stukrag aan die voortdurende transformasie van sleutelinstellings van ons demokrasie, insluitend die regbank,” het hy gesê.

“Sy is ʼn uitstaande regsgeleerde wat ʼn kardinale rol sal speel in die versekering van geregtigheid vir alle Suid-Afrikaners.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek het nog nooit van haar gehoor nie maar as adv Breytenbach haar aanbeveel moet sy geskik wees vir die pos,hoop sy maak ‘n verskil.

Amelia ·

Ek gee nie om wie sit in watter pos nie solank hul hul werk doen en nie kurup is nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.