Nuwe transmissiemaatskappy ʼn stappie nader aan realiteit

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit (Foto: Ntswe Mokoen/GCIS)

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, sê pogings om nuwe opwekkingskapasiteit te verseker strek veel verder as nét Eskom.

Die minister het Maandag bekend gemaak dat al agt van Eskom se finansieringsgroepe toestemming verleen het dat Eskom se nuwe transmissiemaatskappy, die nasionale transmissiemaatskappy van Suid-Afrika (NTCSA), as ʼn aparte filiaal in bedryf gestel word.

Die laaste finansierder se toestemming is verlede week bekom.

Die agt finansiersingsgroepe se goedkeuring is een van verskeie brûe wat oorgesteek moet word voordat die NTCSA in bedryf gestel kan word.

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het reeds Eskom se aansoek vir die oordrag van sy bevoegdhede en pligte wat verband hou met kragaankoopooreenkomste en onafhanklike kragprodusente na die NTCSA goedgekeur.

Sou al die nodige goedkeurings bekom word sal die maatskappy verseker dat alle elektrisiteitsprodusente “gelyk en regverdig behandel word en op ʼn nie-diskriminerende grondslag toegang tot die nasionale netwerk verkry,” het Ramokgopa vanoggend op ʼn mediakonferensie gesê.

Die minister het op die mediakonferensie verduidelik dat daar deesdae meer lang termyn gedink word om ʼn meer energie-onafhanklike toekoms te verseker.

“Ons kyk regtig lang termyn en stel ingrypings in wat dit vir ons moontlik kan maak om nuwe generasiekapasiteit uit ʼn verskeidenheid brandstofbronne en rolspelers in te voer om te verseker dat ons nie met dieselfde probleem in die toekoms gekonfronteer word nie.

Die uiteindelike doelwit is om energie-soewereiniteit te bereik, het Ramokgopa gesê.

Die minister het egter in dieselfde asem gesê dat die “die kortste pad” na die beëindiging van beurtkrag die verbetering van Eskom se bestaande vloot is.

Ses kragstasies is gevolglik geïdentifiseer wat dringende aandag benodig.

Sommige van die kragstasies, waaronder Kusile en Majuba, het reeds “massiewe verbetering” getoon – soveel so dat Kusile ʼn energiebeskikbaarheidsfaktor van meer as 90% toon en nie meer dringend aandag nodig het nie.

Die Kriel-kragstasie het intussen vir Kusile op die lys vervang, maar toon reeds verbetering, aldus Bheki Nxumalo, hoof van opwekking by Eskom.

Nxumalo het egter vanoggend gesê Tutuka en Kendall het nie die verbetering getoon waarvoor daar gehoop is nie. “Maar ons verstaan hoekom.”

Volgens Nxumalo sal sekere kwessies in die komende twee maande by die betrokke twee kragstasies aandag kry in die hoop dat die kragstasies ook ʼn wesenlike verbetering in prestasie kan toon.

Daar word verwag dat Kendall binne die volgende maand ʼn energiebeskikbaarheid van meer as 70% sal kan handhaaf.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Al die burokrasie het SA oor die afgrond gehelp. Al die sisteme skep net poste vir die kaders.

Marous ·

Niemand glo meer die twak wat oor jul lippe kom nie . Alles is kas toe. Nou verwag julle die privaatsektor se pensioen fondse moet verder in die donker gat afgegooi word. Julle het alles vernietig !

tweeling ·

En nog steeds is die EBV net oor die 50% waar dit nou al maande hang ten spyte van al julle mooi praatjies, behoort julle te skaam

Philip ·

Ou Potivar jy is gebou om op televisie die woord te spreek en geloofwaardig te klink want jy praat dat die spoeg spat sonder ophou

Wikkie ·

Alles waaraan die ANC vat verval en vervrot. Eskom, Telkom, Denel, die leer (weermag, vloot, lugmag, polisie, brandweer), plaaslike- munisipaliteite, departemente, onderwys, staatshospitale, ag, die lys is té lank om alles hier te skryf. Die ANC het dit opgemors tot rommel status. Hulle kan nie regeer nie, hulle kan nie opbou nie, hulle kan net plunder. Al hierdie praatjies is om te probeer keer dat hulle nie stemme verloor nie. So maak hulle reeds 30 jaar lank leë beloftes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.