Nuwe vlugroete van Kaap tot Kruger

(Foto: Eva Darron verskaf deur FlySafair)

FlySafair het ʼn nuwe vlugroete bekendgestel wat ʼn groot hupstoot sal wees vir Suid-Afrika se toerismebedryf. Dié vlug verbind Kaapstad en die Krugerwildtuin.

FlySafair begin op 2 April 2024 met tweeweeklikse vlugte wat ongekende gerief en toeganklikheid bied vir plaaslike en internasionale toeriste.

Hierdie strategiese uitbreiding sal na verwagting toerisme stimuleer en kapitaliseer op Suid-Afrika se diverse toeristeaantreklikhede wat strek van skouspelagtige strande en kosmopolitaanse stadsentra tot natuurryke grasvlaktes en wingerde, sê FlySafair in ʼn verklaring.

“FlySafair se nuwe Kaapstad-na-Kruger-roete is ʼn seën vir toerisme in Suid-Afrika,” sê David Frost, uitvoerende hoof van die Suider-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa). “Met Kaapstad se internasionale retoersyfers op 1,4 miljoen net in die eerste helfte van 2023 – meer as voor die pandemievlakke – en die Krugerwildtuin wat verlede jaar ongeveer 4 miljoen besoekers gelok het, is dit duidelik dat dié bestemmings ʼn spesiale plek verteenwoordig op die internasionale reiskaart.”

Euan McNeil, besturende direkteur van die Flight Centre Travel Group South Africa, stem saam.

(Foto verskaf deur FlySafair)

“Tot dusver was daar ʼn baie beperkte verbinding tussen dié twee gewilde bestemmings. FlySafair se nuwe roete sal meer besoekers na albei streke lok, asook die nabygeleë Kaapse Wynlande. Die roete is veral goeie nuus vir multigenerasie-reisigers. Dit bied toegang tot verskillende ervarings vir mense van verskillende ouderdomsgroepe. Die bedryf bou nie net geografies brûe nie, maar ook oor generasies heen.”

Murray Gardiner, uitvoerende hoof van Giltedge, is ook opgewonde. “Dit is ʼn uitstekende toevoeging tot FlySafair se reeds bestaande indrukwekkende netwerk. Dit verbind twee van die mees gesogte reiservarings in Suid-Afrika. Besoekers hoef nou nie meer te kies tussen die stedelike sjarme van Kaapstad of die wildernis van die Kruger nie – hulle kan moeiteloos albei geniet.”

Die nooiensvlug vir dié roete sal gebruik maak van FlySafair se Boeing 737-800. Kaartjies begin op R1 851 vir ʼn enkelvlug en vlugte vertrek elke Dinsdag en Saterdag om 09:00 uit Kaapstad en land omstreeks 11:30 by die Krugerwildtuin. Die vliegtuig draai dan om en vertrek om 12:05 van die Kruger Mpumalanga- internasionale lughawe en land weer om 14:50 in Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

“Beperkte verbinding” se voet. Airlink vlieg die roete daagliks.

Witwax ·

Die Kruger Wiltuin is besig om agter uit tegaan, daar word nie onderhoud tegepas nie.
Besoekers wat betaal om daarheen te vlieg gaan baie ongelukig wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.