Nuwejaarsparades: Talle strate, dienste in Kaapstad geraak

(Foto: Verskaf)

Meer as 35 Maleierkore van regoor Kaapstad sal na verwagting Sondag deel van die jaarlikse Cape Malay Choir Board Road March wees wat van die stadsaal tot in die Bo-Kaap strek.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê die parade wat deur die Kaapse Maleierkoorraad georganiseer word, sal na verwagting duisende toeskouers lok en sal eers in die vroeë oggendure van Nuwejaarsdag tot ʼn einde kom.

“Inwoners en motoriste word daarop gewys dat verskeie strate van 18:00 tot die vroeë oggendure van Nuwejaarsdag hierdeur geraak sal word.”

Hy sê die MyCiTi-busdiens sal ook op dieselfde tyd op Oujaarsaand geraak word.

“Geen busse sal op roete 106 van 18:00 tot Nuwejaarsdag beskikbaar wees nie. Busse sal ook nie in hierdie tyd by die Groote Kerk-stop beskikbaar wees nie.”

ʼn Omvattende lys van die MyCiti-diensonderbrekings vir hierdie tydperk is hier beskikbaar.

(Foto: Verskaf)

Tweede Nuwejaarsparade

Smith sê ongeveer 20 000 straatsangers sal ook Dinsdag die strate van Kaapstad se sentrale sakegebied (SSK) invaar vir die 2024 Tweede Nuwejaarstraatparade.

“Die parade wat deur die Kaapse Klopse Karnavalvereniging gereël word, sal na verwagting meer as 80 000 toeskouers langs Darlingstraat, op die Parade, in Adderleystraat en tot in die Bo-Kaap lok.

“Etlike vertonings van kunstenaars sal die skare van omstreeks 12:00 die middag vanaf Distrik Ses al met die historiese roete langs vermaak voordat hulle in die Bo-Kaap eindig,” sê Smith.

“As gevolg van dié geleentheid sal ʼn aantal strate rondom die SSK geraak word.

Hy sê hierdie gebeure het ʼn groot historiese en kulturele betekenis vir baie Kapenaars.

“Dit verteenwoordig die ryk erfenis van ons pragtige stad en beteken so baie vir duisende Kapenaars wat grootgeword het met die kultuur wat met die Maleierkore en die Tweede Nuwejaarsparade geassosieer word.

“Die Stad Kaapstad se jaarlikse ondersteuning vir die geleentheid is om te verseker dat ons kan bydra om hierdie tradisies vir die volgende geslagte te bewaar.

“Ons sien uit daarna om te sien hoe al die kunstenaars die strate invaar, en ons doen ʼn beroep op inwoners en besoekers om uit te kom en deel daarvan te wees,” sê Smith.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.