NWU maak U-draai oor SR-lid se skorsing

Beàtha Groenewald is Dinsdag uit haar amp verwyder. (Foto: Facebook)

Beàtha Groenewald is weer terug in haar posisie as studenteraad-sekretaris van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus.

Groenewald is verlede week uit haar amp verwyder nadat sy glo vir dorpskoshuise aan die Potchefstroom-kampus, wat glo “te wit is”, opgekom het.

AfriForum Jeug het Vrydag ʼn prokureursbrief aan dr. Sibusiso Chalufu, uitvoerende direkteur van studentelewe van die NWU se Potchefstroom-kampus, gestuur en geëis dat Groenewald in haar posisie herstel word.

Die studenteraad het Donderdag in ʼn skrywe aan die universiteitsgemeenskap gesê daar was ʼn prosedurefout met die wantrouemosie wat tot Groenewald se verwydering gelei het en dat sy gevolglik in haar posisie herstel is.

AfriForum Jeug het gesê hy aanvaar dit is sy regsoptrede wat hiertoe gelei het en dat hy steeds sy reg voorbehou om te besluit oor verdere optrede in dié verband.

“Dit is betekenisvol dat die NWU sy fout erken, maar AfriForum Jeug verwag steeds dat die universiteit in die openbaar vir Groenewald om verskoning sal vra, soos die jeugorganisasie se prokureursbrief van 17 Februarie vereis,” het René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug, gesê.

“Dit is baie jammer dat ons so vêr moes gaan om met ons regspan te konsulteer voor die Puk bereid was om te erken dat hulle ʼn fout gemaak het. Ons wag egter steeds vir ʼn openbare verskoning en hoop van harte dat alle strukture van die universiteit uit hierdie voorval sal leer om nie hulself skuldig te maak aan rasse-uitsluiting en dit dan te probeer wegsteek nie.”

AfriForum Jeug sal voortaan steeds vir Groenewald ondersteun, ongeag wat haar besluit in terme van volgende stappe mag wees.

Groenewald se skorsing het gespruit uit bewerings wat die ronde gedoen het dat dorpskoshuise op grond van hul rassesamestelling van die jaarlikse verwelkomingsgeleentheid uitgesluit is.

Groenewald het kort voor haar verwydering uit die posisie van sekretaris haar ongelukkigheid uitgespreek oor ʼn vergadering van die SR en primarias, waartydens die einste koshuise glo onder skoot gekom het weens hul rassesamestelling.

Sy is nou oortuig die beweerde uitsluiting by die verwelkomingsgeleentheid hou direk verband met die vergadering. Die NWU voer egter aan die koshuise is bloot weens ʼn gebrek aan spasie in die amfiteater uitgesluit en dat die rassebewerings ongegrond is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Eiervrug ·

Dis nie ‘n prosedure fout nie. Dis hoe hulle alles hanteer. Dink nie, doen net…. Dis soos kleuterskool kinders wat ‘n tantrum gooi as hulle nie hul sin kan kry nie. As iemand hulle dan aanvat, dan was dit net ‘n ou foutjie….

My siening ·

By cyrel geleer en twak praat by mabula, so ANC kader is arogant maar die wiel draai!

Kokerboom ·

Afriforum behoort teen die tyd te besef dat die kaders NOOIT jammer sê of enige aanspreekliheid aanvaar en dat hul uit skaamte agteraf gaan probeer om die jong dame te ondermyn. Hou maar situasie dop. Hul is gemeen!

Vincent ·

Patetiese klomp by NWU! Ek skaam my om te se ek het daar klas geloop…..

Jr ·

U kan dit weer sê, 1.5 million vir twee kinders vooruit betaal met VSP geld. Nie n dooie blink sent afslag gekry

Nettie ·

Soos ek verstaan, is dit deesdae een van die woorde wat met of sonder die kappie aanvaar word as korrek. My kind se vorige graad 4 taal boek lys so ‘n klompie van hulle.

Johann ·

Ook maar net omdat hulle gedreig word met die waarheid. Nou skielik ‘n tegniese fout? Wil steeds weet wie van die heilige SR het die te wit boodskap uitgestuur?

skurweberg ·

Dit wys nou net as ‘n mens op beskaafde wyse druk uitoefen. Baie geluk Solidariteit/Afriforum met julle jeug komponent. Dit gee lede moed vir wat voorlê.

Nettie ·

Haar afdanking was ‘n direkte erkenning aan hulle kant dat ongerymdhede plaasgevind het tydens en na die vergadering. NWU, julle onderrok hang uit! Ons sien julle wat julle doen. Ons is nie blind nie. Julle behoort julle te skaam!

Dankie Afriforum dat julle hierdie pragtige meisie ondersteun het, en dankie Beatha dat jy opgestaan het vir geregtigheid.

Francois ·

Hoop die regerende party leer nou by hulle ANC kaders by die NWU en erken tog nou ook maar dat dit as gevolg van jare se prosedure foute is dat Eskom in die vervalle toestand is wat dit nou is….

Jr ·

Soos met alles, as die ” mense van die ander kerk” oorvat dan is hierdie twak tevore.

kommentaar ·

En nou wees jy getrou aan jou goeie Afrikaanse opvoeding en doen jou werk steeds goed en beter. Trots op jou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.